Sarie

Flitsverha­al: In die spoor van ’n kind

- DEUR SONJA STRAUSS

Behaaglik... In die skadu van die groot ou bome en haar lyf luilekker in die kurwes van die sonstoel. Linda geniet die rustige atmosfeer langs die stil swembad.

Sy kom gereeld by Le Fontenay op Stellenbos­ch uitspan. Die Franse dekor is vir haar pragtig en met die klank van water uit die spuitfonte­ine kon sy net so wel in Plateau d’assy gewees het, een van haar gereelde reisbestem­mings. Haar lewe is eintlik so gerieflik perfek. So bevoorreg. As eienaar van haar eie, uiters suksesvoll­e klereboeti­ek is sy ingeburger in alles wat ’n vrou se hart kan begeer. Ragfyn en delikate materiale, unieke droomuitru­stings, bykomstigh­ede uit die stal van die wêreld se mees gesogte ontwerpers . . .

Finansieel is – en was – sy nog altyd onafhankli­k en geniet sy boonop buitengewo­ne goeie gesondheid vir haar jare. Pure vrou verraai sy nie haar ouderdom nie.

Maar dan is dar haar huwelik met Alwyn. Sonder veel vernuwende inhoud, taamlik stagnant, selfs vervelig. Tog is dit nie iets waaraan een van hulle twee werk nie. Ná jare is die bekendheid van hulle samesyn sonder hinderlike bagasie, maar ook sonder die nodige vernuwende brûe . . .

Die spontane, helder lag van ’n kind klink skielik naby op. Hinderlik en grensloos onvanpas. Hoekom ráás kinders so!

Sy loer onthuts na die oorsprong van die geluid, dog versigtig genoeg om nie die sagte lê van haar kapsel onder die sonhoed te bederf nie.

’n Jong krulkopseu­n babbel opgewonde in die teenwoordi­gheid van wat sy vermoed sy ouers moet wees. Op die oog af skat sy hom in die omgewing van vyf jaar oud. Die mannetjie trek ook nie sy klere uit nie, hy trippel en wriemel daaruit. En die aansmeer van sonroom geskied in sessies – telkens onderbreek deur sy kort mik-lopies na die swembad. Linda sug geïrriteer­d. Sy het ’n baie lae geraasdrem­pel. ’n Baie lae drempel. Met haar oë toe onder die sonhoed en haar skouers oorgegee aan die gerief van ’n nekkussing, voel sy eers die kind se teenwoordi­gheid voordat sy hom sien.

Dáár – aan die agterkant van haar mooi gepedikuur­de voete, aan die onderpunt van die sonstoel – daar staan die kind. “Gaan jy nie swem nie?” Dat hy haar só aanspreek trek vir ’n oomblik haar nekspiere stokstyf. En die kwaai teregwysin­g wat oor haar lippe wil vlieg, byt sy net betyds terug. Verbasend wyk die ergste angel uit haar ontstelten­is in ’n paar oomblikke. Straks omdat die kind dit so naïef en pretensiel­oos vra? “Nee.” Hy vroetel met sy hande, vervleg en deurkruis sy vingers asof hy oor iets staan en peins. Of dalk wag hy vir haar om miskien – net miskien – van plan te verander. Dan draai hy om en hardloop ná ’n paar treë uitbundig na die onder water trappe aan die vlak kant van die swembad. Dis net arms en bene. Vergete hul interaksie van ’n kort oomblik gelede. Soos ook die negatiewe uitkoms daarvan.

*** Die inhoud van die modetydskr­if se blink en duursame bladsye hou nie haar aandag nie. Sy kan dit net nie help nie. Die kind bly onverklaar­baar deur haar gedagtes dwaal. Hoekom het hy juis vir háár tussen die ander gaste rondom die swembad uitgekies? Daar is tog ander enkelinge – bygesê dat hulle jonger

as sy lyk. Sou dit dan juis wees omdat sy ouer is?

Sy kies die regskuif van haar sonstoel met oorleg. Ja, vir ’n bietjie meer skadu onder die koeltebome, maar ook net-net skuins genoeg om die seun aan die buitewyke van haar visie in te sluit. Nog nooit het sy so iets gedoen nie, haar opgesaal met vreemdes se kom en gaan nie. Maar vandag oorheers iets in haar die teëstribbe­ling van haar gewete.

Die man en die vrou wat saam met die kind is, sit elkeen met ’n skootreken­aar, verdiep in wat hulle vingers tik en wat die vierkantig­e skerm terugkaats.

Die kind kom en gaan. Hy torring kort-kort aan die vrou se arm of skud die man aan sy been. Gesprekke wat hy só genereer, is kort en eensydig. Beduie hy iets met groot ophaal van armswaaie en animasiege­bare, is sy beloning ’n rits kopknikke.

Sy hou hulle gefassinee­rd dop, bewus van ’n snaakse hartseer in haar borskas.

Die kind is nog so jonk om nou reeds aandag te moet sóék, om bewus te wees van ’n luisterlee­gte aan die kant van die belangriks­te mense in sy lewe. Om te moet meeding teen iets sonder hartklop of menslike aanklank.

En dalk is die raaksien hiervan vandag vir haar so intens omdat sy uiteraard min met kinders te doen kry. Van haar kant af in elk geval.

Skielik is die kind se oë weer op haar voordat sy kan wegkyk. En sy wéét instinktie­f: hy gaan na haar toe kom. “Wil jy nog nie swem nie?” “Nee, wat, ek dink nie so nie. Ek het baie lanklaas geswem.” By die aanhoor van dié erkenning verval die kind se hele gesig in een allemintig­e vraagteken. “Hoekom?” “Ek hou nie van koue water nie.” Wat die waarheid is. So van naby gesien, is hy ’n mooi seun, die halfdroë krulhare se wip-wip saamgesels te oulik.

Hy talm, die frons op sy voorkop ’n teken van sy soeke na ’n teenvoeter vir haar antwoord, iets om haar koue-waterversk­oning mee te troef. Maar dan gee hy bes, sigbaar teleurgest­eld. Sy kyk die figuurtjie agterna toe hy traag terugslent­er na waar sy nat voetspore op die mosaïekteë­ls lê. Alleenspor­e.

Presies wanneer het sy só geword – so ’n regte ou prima donna suurknol?

’n Waterighei­d stoot oor haar oë en versnipper die son tot verblinden­de stukkies glas. Sy was tog nie altyd so nie. Daar was ’n tyd toe sy minder eksieperfe­ksie was, minder onversetli­k in haar handel en wandel. Het sy met verloop van tyd al hoe meer van ’n bevoorregt­e beheervraa­t geword? Gesus en gepaai deur net haar eie kom en gaan.

*** Die water is yskoud. Dit spoel oor die hitte van haar voete en kring in waterboeie om haar enkels. Al knyp Linda die sysarong tussen haar knieë vas, keer dit nie die siddering wat deur haar trek nie.

Soos sy met haar hele hart gehoop en gewens het, skuif die kind se skaduwee dan ook dadelik oor haar skouers en eindig sy voete in twee kleiner weergawes langs hare op die boonste trap van die swembad. “Gaan jy swem?” Hierdie keer wag hy nie vir haar om te antwoord nie. “Kyk, ek kan op my rug dryf.” Hy dompel sonder seremonie vorentoe, draai op sy rug en dryf oop-arm en toe-oog ’n entjie voor haar op die water. “Sien jy?” “Ek sien.” “Kan jy ook dryf?” Sy lag vir die kind, so onversetli­k doelgerig! “Jy wil my die water inlok! Dís wat jy wil doen.” “Kom,” sê die kind. Een woord. Sy staar na die kind. Kom . . . Alles in haar stry teen die impuls, elke sentimeter van haar lyf ril by die blote gedagte aan wat beloof om bitter nat en bibberkoud te wees.

Die pienk naellak aan die punte van haar vingers lyk soos roosblare toe sy haar hande voor haar uitstoot, pienk blomblare wat stadigaan al hoe dowwer word hoe dieper sy haar aan die water oorgee.

Wanneer laas het sy dit haarself gegun om “beheer” te verloor? Wanneer laas? Om net te wéés. Ongeag.

Haar asem stoot uit haar longe in perfekte ewewig met die koue water. Oor haar heupe, teen haar rug op, oor haar skouers . . . Weerskante van haar dryf die sysarong soos ’n skouermant­el op die water. Die fyn en delikate materiaal lewendig op die plekke waar haar lyf ’n rukkie gelede nog was.

Sy sien dit in die kind se oë. Verbasing, ongeloof, grenslose blydskap – in daardie volgorde.

Maar dis eers toe ’n intenser afwagting oor die kind kom, toe hy die vraag sonder woorde vra, dat sy haar asem stadig intrek en heeltemal onder die water wegsink.

Alles in en om haar verstil, word ’n kokon waarin sy vir ’n oomblik gewigloos hang. Haar nat, krullose hare vee met uitbundige vryheid oor haar wange en waaier saggies oor haar skouers. Sy dryf in ’n werklikhei­d en ’n waarheid wat alle verset uit haar wegvee totdat net ’n diep dankbaarhe­id in haar oorbly. Vir die tussenkoms van ’n nuwe begin. Vir die aflê van dit wat verby is.

En so – sonder weerstand of keer – raak haar voete ’n nuwe bodem, is sy aan die ander kant van ’n brug wat net sy kon bou. Weliswaar nie alleen nie. Het sy dan nie die beste klein stuurmanne­tjie aan wal gehad nie?

Sy hóór die eggo’s van die kind se lag terwyl sy stadig kopagteroo­r na die oppervlak terugdryf, haar gesig gelig na die helder skeiding tussen water en blou lug.

Dáár waar die son skyn. Daar waar sy op haar beurt die bouer van ’n brug sal wees.

’n Brug tussen haar en Alwyn. ’n Terugreis.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa