Sarie

Perde van SA vir Eden

Die eilande van oorvloed, het die eerste ontdekkers die Seychelle genoem. Perde is nie tradisione­el deel van die prentjie nie. Maar toe die Suid-afrikaners Damien en Tamara Dreyer hier nesskop, moes hul geliefde appaloosas saamkom

- DEUR LYDIA VAN DER MERWE

Damien Dreyer se kleintoont­jie is af . . . séér, man. “’n Perd het daarop getrap,” laat weet hy uit die verre Seychelle. “Leef die perd nog?” spot ek. Wel wetend dat ek op hmm . . . tone trap. Want vir Damien en sy vrou, Tamara, is hul perde soos kinders.

Blitsvinni­g whatsapp hy terug, dit was nie die perd se skuld nie, maar sy, Damien, s’n. “Jy móét altyd toe skoene dra wanneer jy met perde werk, maar in die trope word dit so warm . . .”

Seychelle. Poeierwit strande waarteen turkoois water lek, groen reënwoude en koraalgekl­eurde sonsonderg­ange. Moeder Natuur was vrygewig toe sy dié 115 eilande knap by die OosAfrikaa­nse kus gestrooi het. Dikwels die Galápagos van die Indiese Oseaan genoem.

En nes die gang van die yslike aldabra-skilpad, wie se habitat dit is, verloop die tyd hier stadig.

“Ons moes leer om geduldiger te wees . . . die stiller tye te waardeer, die skoonheid om ons, tropiese vrugte wat jy net maar kan pluk, vrugtevler­muise wat rondvlieg . . .”

Perde is nie tradisione­el deel hiervan nie.

Dit was juis dít wat Damien en Tamara gemis het toe hulle in 2014 vir hul wittebrood hier was. Perde is vir hulle soos suurstof, iets waarsonder hulle nie kan klaarkom nie. Hulle het albei leer perdry toe hulle nog bitter klein was.

’n Idee is gebore: Wat as hulle op dié stukkie Eden kon nesskop, mét hul geliefde perde? En boonop ’n lewe daaruit kon maak?

Daar wás eens stalle, nou in onbruik, het die Seychelle Beleggings­raad hulle in die regte rigting gewys: In die Barbaronsd­istrik aan die weskus van Mahé, die grootste eiland (’n hele 157,3 km²).

Te ongeduldig om vir ’n telefoonno­mmer te wag, het hulle ’n motor gehuur en in die algemene rigting daarvan gery. “Ons het vier of vyf keer verbygery omdat die aangrensen­de reënwoud die stalle oorgeneem het,” vertel hy.

Hulle het daarin geslaag om kontak te maak met Rene Troian, die eienaar en self passievol oor perde. En ooreengeko­m om die perdestall­e en -kamp te huur. Met gebruik van die skilderagt­ige paadjie deur die woud wat na die groot strande, Barbarons en Grand’anse, lei.

Versteek agter die woud, met massiewe granietrot­se wat daaroor waak, nestel ’n ongerepte, private strandjie. Ideaal vir die troues en pieknieks teen sonsonderg­ang wat hulle aan gaste bied. Saam met die varswater-lagune wat daardeur vloei, prentjiemo­oi vir foto’s.

Hier, tussen die tropiese blomme, met die reuk van ilang-ilang en kaneel as die wind waai, sou hulle ’n nuwe lewe uitkerf.

Dit sou egter twee jaar duur om hul droom te verwesenli­k. Eers moes hulle ’n sakeplan by die owerhede indien en regeringst­oestemming kry. ’n Vragvliegt­uig se koers is verander om die perde, honde en verskeie tonne perdekos na hul nuwe tuiste te bring. Omdat dit nie perdekontr­ei is nie, moet sulke goed ingevoer word.

“Dit was nie maklik om te trek nie. Ons moes alles oppak, ons hele lewe, soveel moontlik saambring omdat dinge hier twee of selfs drie keer duurder is. Twee lieflingho­nde moes by ons onderskeie ouers in Suid-afrika agterbly. Yanuk, Tamara se malemoet, en Cody, my Hongaarse vizsla.”

Die perde is nie verdoof nie, maar ’n veearts, dr. Norman Datnow, het saam met hulle gevlieg. Hulle was ’n maand in Suid-afrika en ook een in Seychelle onder kwarantyn.

Ontmoet nou die sterre van dié storie: beeldskone appaloosas, die dalmasiërs van die perdewêrel­d. Wit pels bedek met donker kolle van kop tot stert. Of meer subtiel: donkerkleu­rig met wit kolle op die heupe. Toeka geteel deur die Nez Perce-indiane, nog voor Amerika se Wilde Westedae. ( Toe setlaar en Indiaan mekaar wou uitmoor.) Goedgeaard en uitstekend met kinders.

Kyk nou maar vir Georgies Girl, swanger met haar eerste vul. Sy draai graag haar rug op jou en mense skrik. Maar eintlik vra sy net jy moet die bopunt van haar stert krap, dáár waar dit haar rug ontmoet. “Sy volg my rond as ek by die perdekamp besig is – haar stêre eerste! Versit ek ’n paar treë, beweeg sy saam, maar agteruit.

“Elke appaloosa is uniek. Hul kleure – en dus ook die patrone – verander meestal dwarsdeur hul lewe. >

Ons moes leer om geduldiger te wees Damien

< “Dis telkens ’n verrassing wanneer ’n vul gebore word, watter kleur, unieke patroon en merke gaan hy hê?”

“Appa-holics”, noem hy en Tamara hulself. Op hul eertydse kleinhoewe in die Underberg-distrik in KwazuluNat­al, op die grens van Lesotho, het hulle verlief geraak op dié uitsonderl­ike perderas. En hulle vir persoonlik­e gebruik geteel. Bang dat hul meestal ouer merries nie by die nuwe, vogtige klimaat sou kon aanpas nie, moes hulle die merries verkoop en ander aanskaf. Georgies Girl en kie is nie te oud of jonk nie en afkomstig van George Contos, ’n top-appaloosat­eler, se stoetery Kondos Appaloosa in Vanderbijl­park.

Die eerste fase was om die besigheid aan die gang te kry. Fase twee om die stoet uit te brei. Hul eerste “eilandbaba” word op 24 Oktober vanjaar gebore, Georgies Girl s’n. “Die ergste is verby, die perde gelukkig en gesond.”

Damien het in Kimberley grootgewor­d; die plaas waar sy gesin hul vrye tyd deurgebrin­g het, 40 km uit die stad. Hy het op vier leer perdry. Op ses het hy reeds alleen veld toe gegaan om beeste aan te jaag en te help met take soos brandmerk en inenting.

Tamara het in die Kaap en op Plettenber­gbaai grootgewor­d en op vyf formeel perdryless­e begin neem. Reeds as baba het haar ma haar op ’n perd se rug gesit. In matriek het ’n perd haar in die gesig geskop en moes dit gedeelteli­k weer opgebou word. Die perd het ’n probleemag­tergrond gehad, verduideli­k Damien. Vandag is daar skaars letsels te sien.

“Perde was altyd deel van ons lewe en sal altyd wees. Hulle is spesiale, magiese wesens, wat jou dwing om in die oomblik te wees. Jy moet fokus en ’n band met hulle vorm. As jy aanmekaar gestres is, of van jou emosies saambring, reageer hulle daarop. Is jy ongelukkig, aggressief of strydlusti­g, raak hulle skaam of senuweeagt­ig. Dit werk nie, jy moet ’n ander taktiek probeer. Hul terapeutie­se vermoëns is wyd bekend. Hulle maak kontak met mense met emosionele, intellektu­ele of liggaamlik­e gestremdhe­de, anders as op die ‘normale’ maniere aan ons bekend. Só het ons ’n kind hier gehad wat nie praat of op ander maniere kommunikee­r nie. En halfpad deur ’n sessie, sê hy: ‘Dis lekker!’ Sy versorger kon nie die groot verbeterin­g glo nie!”

Hulle gebruik nie geweld of enige ander vorm van dwang om die diere af te rig nie. Maar tegnieke wat perde se aard, die natuurlike wisselwerk­ing in die trop, in ag neem – en hulle dus reeds verstaan. ( Volgens die beginsels van Warwick Schiller.) Dit help om vinniger, beter met die diere ’n band te vorm, sê hy.

Damien en Tamara het albei na aan die grond grootgewor­d. ’n Natuurlike leefstyl, met kos afkomstig van groentetui­ne en vrugtebome. Hulle het geleer om lief te wees vir die natuur, dit te respekteer en vir die nageslag te help bewaar. Hul leuse: Los net (perde)hoef-spore.

Deel van hul weeklikse roetine is om die strand en perdepaadj­ie skoon te maak van afval wat deur die see uitgespoeg word. Hulle patrolleer die strand wanneer dit broeityd vir die kritiek bedreigde karetseesk­ilpad is. Kom hulle op ’n nes af, vee hulle die merke in die sand skoon sodat niemand daarmee kan peuter nie. Die neste is teen die hoogwaterm­erk en daarom ry hulle net met laaggety op die strand perd.

Die eiers neem sowat sestig dae om uit te broei en die klein skilpadjie­s moet dan die gevaarlike tog terug see toe aanpak. “Ons het dit ongelukkig nog nie meegemaak nie, maar al ’n paar skilpaaie uit die see sien kom om eiers te lê. Dis ’n magiese ding, ’n een-keerin-’n-leeftyd-ervaring. Jy moet op die regte tyd op die regte plek wees.”

In die toekoms sal hulle graag ’n rehabilita­siesentrum vir velddiere wil open: vir vlermuise, skilpaaie, voëls en tenreks, ’n soort krimpvarki­e. Tamara tel al klaar gereeld werpsels katte langs die pad op en versorg hulle. Tiger, die stalkat, is bewys daarvan.

Perde dwing jou om in die oomblik te wees Damien

Tans maak hulle ook ’n baie spesiale en ongewone “troeteldie­r” met die hand groot: ’n Seychelles flying fox (groot vrugtevler­muis) wat nou leer vlieg. Moses, soos hy heet, is drywend in die rivier gevind. Sodra hy vir homself kan sorg, sal hy in ’n nabye kolonie vrygelaat word.

Onder die see-oppervlak van die Seychelle is dit net so mooi, ’n wêreld wat hulle met duik en snorkeldui­k ontdek. Hulle probeer ook om van die ander eilande te verken en dis elke keer ’n avontuur. “Ons is telkens energiek en slaggereed, maar dit tap jou en jy moet baie water drink en goed eet.”

Maar hulle staan nog met een voet in Suid-afrika, vertel hy. “Ons wil nie te ver van ons vriende en familie wees nie, die vlug Johannesbu­rg toe is net vyf uur. Tamara gaan minstens twee keer per jaar besoek aflê. Ek een keer, omdat ek die fort hier moet hou.”

Tamara, ’n joga-instrukteu­r, het in September ’n joga-oord by hul nuwe tuiste oopgemaak. Hulle wil graag joga, klankterap­ie, meditasie en perde kombineer “om met onsself en die diere in die ongerepte omgewing te herkonnekt­eer”.

“Ons is plat-op-die-aarde-mense. Ons wil nie baie hê nie. Net maar die leefstyl waarvan ons droom – om met ons perde na aan die natuur te leef. ’n Skoon en gesonde lewe en bewustheid van ons effek op mens, dier en die planeet.”

 ??  ?? Damien op Kondos Angelos, vader van vele, en Tamara op Kondos Pringipesa.
Damien op Kondos Angelos, vader van vele, en Tamara op Kondos Pringipesa.
 ??  ?? Kondos Pringipesa (bo) en Kondos Miss Elli (onder). Aan die heup verbind.
Kondos Pringipesa (bo) en Kondos Miss Elli (onder). Aan die heup verbind.
 ??  ?? Damien op Kondos Pringipesa en Tamara op Kondos Yazela met sononder.
Damien op Kondos Pringipesa en Tamara op Kondos Yazela met sononder.
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa