Oorskiet & afvalbestanddele
Kosvermorsing is ’n saak wat deesdae wêreldwyd aandag kry. Die beweging om minder kos te laat sleg word en te kook met dele van groente wat gewoonlik weggegooi word, kry vinnig stoom, ook hier plaaslik. Dink byvoorbeeld aan beet- of wortelblare wat in slaai gebruik word. Aartappelskille word bros gebraai vir peuselhappies en dag oue brood raak ’n ál groter staatmaker. Die topwenk vir so ’n leefstyl? Beplan vooruit wat jy gaan kook vir die week. So kan jy elke deel van een bestanddeel in verskeie etes gebruik
GROENTESKILLE MET MAYONNAISE
Bros aartappelskille is nie net lekker nie, maar ook vol vesel wat goed is vir jou. Gebruik ook patat- en selfs wortelskille op dieselfde manier.
genoeg vir 6
2 eiergele 30 ml dijon-mosterd sap en gerasperde skil van 1 suurlemoen 200 ml olyfolie sout en varsgemaalde swartpeper na smaak sonneblomolie vir diepbraai hand vol aartappelskille hand vol patatskille hand vol wortelskille
Klits eiergele, mosterd, sap en skil van suurlemoen saam. Terwyl jy klits, gooi olie geleidelik by tot romerige mayonnaise vorm. Geur goed met sout en peper. Hou eenkant. Verhit olie in groot pot tot warm. Diepbraai groenteskille apart vir ’n paar sekondes tot goudbruin en bros. Dreineer op kombuispapier. Geur met sout. Meng gebraaide skille en sit voor met mayonnaise.