Nama het iets in ons are wakker gemaak, het die akteurs gesê
en Van Riebeeck in die 1650’s, na die oorspronklike Khoekhoegowab (verwysend na Khoe), as “klippertjies wat diep in die kleipot skud”.
Sekere rolprentresensente het kritiek gehad omdat daar volgens hulle nie ’n taal soos Khoisan bestaan nie. “Niemand het so gesê nie. In die fliek word die Nama-dialek gepraat, wat lank voor die koms van Van Riebeeck bestaan het. Nama is deel van die Khoe-tale. Akademici en mense wat nie in voeling met die taal is en dit nie magtig is nie, moenie stry met moedertaalsprekers nie. Daar word dikwels verkeerdelik na Khoisan verwys. Dit is twee afsonderlike tale, dié van die Khoi en dié van die San, hoewel hulle familie van mekaar is.”
Voor sy die fliek aangepak het, het Dorothea navorsing gedoen oor die destydse Nama wat aan die Kaap gepraat is. “Die oorspronklike ortografie [spelling en uitspraak] het verander, hoewel ek so getrou as moontlik probeer bly het aan wat ek glo outentiek is.”
Sy sê dit was nie aldag maklik om saam met almal te werk nie, maar mettertyd het almal aan mekaar geskaaf en sake uitgewerk. Aanvanklik sou sy nie op stel wees nie. “Maar die taal Nama het gewys dit gaan nie so maklik wees nie. Ek is ook op my beurt ’n moeilike mens, veral as my vermoëns onderskat word.”
Sy kyk nou met diep dankbaarheid terug na ’n hoogs bevredigende projek. “Toe die akteurs die eerste keer hul woorde onthou en reg uitspreek, kon ek sien hoe gelukkig dit hulle maak. Dit was ’n riem onder die hart.” Sy het baie goeie bande met hulle gebou en van hulle kontak haar nou nog.
Haar werk op Krotoa was ’n hartstaak. “Taal is ’n integrale deel van menswees. Dit is ’n baie sensitiewe saak dat die Khoe- en San-tale nie deel uitmaak van Suid-afrika se elf amptelike landstale nie. ’n Volk sonder ’n taal of kultuur is uitsig- en ankerloos. Ons kan nie toelaat dat dit uitsterf nie.”
By die Kaapse première van Krotoa op 31 Julie vanjaar het sy geblom. “Wat ’n heuglike dag. Dit behoort in die geskiedenisannale opgeteken te word.”
Maar haar pleidooi en opdrag aan haar eie mense is: “Kom ons vertel self ons stories en bring dit planke toe. Mense maak soveel geld uit ons taal en kultuur. Dit moet eerder gaan oor die behoud van ons taal en die nalatenskap aan generasies wat kom.”
Nama het ook spore in Afrikaans getrap. Woorde soos abba, karos en boegoe is maar enkele voorbeelde wat uit Nama geleen is. Dorothea se ma, Katharina, en ontslape pa, Klaas Davids, ’n skoolhoof in die omgewing van Karasburg in Namibië, het altyd vir haar en haar drie broers en vyf susters vertel hoe hul oumagrootjies die “wit kinders” in die abbakaros (drasak van vel gemaak) op die rug gedra het. “Ek is ook in so ’n abbakaros gedra.”
En ja, sy hoop vir seker sy kry weer geleentheid om aan soortgelyke projekte te werk.