Nataniël sê: Valentynsdag g’n net vir verliefdes
Jaarliks, enkele dae nadat die laaste Kersversierings, koekies en ander soetgoed van hulle desperate en treurige uitverkopingsrakke verlos is, verskyn die volgende bevestiging van swak smaak, rakke en rakke vol rooi harte, té soet sjokolades, blikke met strikke, plastiekrose met liggies, kaartjies vol beloftes en vonkelwyn met linte. Valentyn, Valentyn, waar vat jy ons heen?
Bitter min mense weet dat Valentynsdag ’n jaarlikse liturgiese herdenking is, oorspronklik ter ere van twee martelare uit die Christendom, Sint Valentyn van Rome en Sint Valentyn van Terni, en ’n paar ander. Daar is baie legendes en min feite beskikbaar, maar ’n uiters vereenvoudigde geskiedenis klink min of meer so: Valentyn van Rome was ’n priester wat blykbaar geestelike versorging gebied het aan Christene in Rome, iets wat teen die wet was. Keiser Claudius II het van Valentyn gehou en sy lewe probeer red deur hom na die Romeinse heidendom te probeer lok. Valentyn het die keiser egter van die Christelike geloof probeer oortuig en is ter dood veroordeel. Voor sy teregstelling het hy met ’n wonderwerk die tronkbewaarder se blinde dogter genees en só het talle mense hulleself na die Christelike geloof gewend. Valentyn se naam is verewig. Hy het op 14 Februarie gesterf, of is begrawe, daar is onsekerheid. Die Katolieke Kerk het begin om hierdie martelaar en ook ander se lewens op 14 Februarie te herdenk. Daar is ook soortgelyke dae op die Anglikaanse en Ortodokse kalenders. Geen romantiese verband het bestaan nie.
In 1382 skryf Chaucer sy beroemde “Parlement of Foules” en besluit Sint Valentynsdag is die dag waarop “love birds” hulle geliefdes kies. En so vestig verliefdes hierdie dag as die dag vir romanse. Dit word amptelik die liefdesdag in die jare rondom 1400 toe die Franse koning, Karel VI, uitspattige feeste reël met musiek, gedigte en danse. Die dames van die koninklike hof het tydens hierdie geleenthede verskille en onmin tussen geliefdes aangehoor in ’n “liefdeshof ” en dan uitsprake gelewer.
Dit was die Engelse wat in die 18de eeu begin het om romantiese uitstappies, geskenke, naamlose briewe en boodskappies mode te maak. Slegs ’n paar jaar later is die eerste kommersiële kaartjies gedruk en is daar begin om eetgoed, linne, juwele en parfuum in spesiale verpakkings te verkoop. Deesdae is dit ’n bedryf wat biljoene dollar laat sirkuleer en word dit jaarliks meer uitspattig, goedkoper in smaak en duurder in prys, ’n dolle gejaag vir dié wat ’n jaar lank die werderhelf afgeskeep het, ’n koorsige uitsien vir verlangende tieners en ’n lastigheid vir dié wat bloot gewoonte aanhang. Neem in ag dat die liefdesgebare deur die hart regeer moet word, dat geld nie ’n prioriteit in liefde is nie, dat slegs iets ongewoon of tuisgemaak of uniek geskep deur ’n juwelier of ander vakman aanvaarbaar is vir die belangrikste persoon in jou hart of op jou horison, dat vragte kommersiële twak niks meer beteken as nog rommel nie, dan is die hele Valentynsbedryf nonsens, bog van ’n astronomiese omvang.
Maar ek HOU daarvan! Dis opwindend en plesierig en breek die roetine en is ’n verskoning vir ’n nuwe uitrusting, kerslig, geskenke, die beste eetgoed moontlik, goue borrels, mooi woorde, elegansie, dapperheid, ’n waagkans. Ja, en baaaaaie moeite, die moeite wat heeltyd en heelpad heerlik is.
Vergeet van die verliefdes, ek wens hulle net die beste toe, hulle het 365 dae per jaar om die hartstog uit te leef, dis tog die doel van die hele paringsproses. My visier is op die vriende, die kollegas wat gereeld ekstra moeite doen, die oorwerktes, die bejaardes wat nooit meer aangeraak word nie, die hartseer wesens wat so pas verneuk is, die versorgers wat ons geliefdes hanteer wanneer ons te besig is, die weduwees en wewenaars wat wel verlang, die werkers in ons huise, dié wat nooit luuksheid ken nie, die wat onder ons neuse verarm, ’n lang lys. Kyk uit, kies goed, vermaak, verras, verbaas en vertroos. En onthou jouself, gaan groot!