Sarie

7de Laan se Carina: Aktrise met die vele gesigte

Sy’s een van 7de Laan se nuwe sterre, maar, sê aktrise Carina Nel, eintlik is sy skaam. Gee jy haar egter ’n karakter met twee, of selfs sestien persoonlik­hede, en sy klim behoorlik uit haar dop

- DEUR DELIA DU TOIT FOTO’S LEANA CLUNIES-ROSS KONSEP EN STILERING FANIE CRONJÉ GRIMERING EN HARE TAMARYN VAN TONDER

Om ’n permanente rol in ’n sepie te hê is vir baie plaaslike akteurs die droom. Maar die gevaar bestaan natuurlik dat dít word wie jy is – daardie een karakter wat jy aand ná aand vertolk.

Nie Carina Nel nie. Haar brood is as’t ware aan albei kante gebotter. Want net nadat sy haar verskyning in 7de Laan gemaak het as die suksesvoll­e dokter Alexa Welman, het sy ’n tweede rol in die sepie begin speel – dié van die sluwe Amanda. Dié karakter, wat eers net een keer sou verskyn, was só gewild dat sy nou al verskeie kere terug was in die Laan – en waarskynli­k nog sal wees.

Carina speel ook gereeld die rol van ’n vrou met ’n dissosiati­ewe identiteit­sversteuri­ng in die eenvroustu­k Suster, gebaseer op die ware verhaal van Shirley Ardell Mason, ’n vrou wat in die 1970’s met 16 persoonlik­hede gediagnose­er is.

Dié jong aktrise is beslis nie tot een karakter beperk nie. Maklik is dit egter nie, sê sy. “Sommige aande nadat ek Suster opgevoer het, voel ek self ’n bietjie versteurd. Dit verg baie om so van karakters te verwissel – ek speel selfs ’n man as een van haar persoonlik­hede.

“Amanda in 7de Laan is ook uitdagend. Ek doen stemoefeni­nge om in ’n laer register te praat wanneer ek haar speel, en gebruik ’n ander spraakpatr­oon.” Dan doen Carina eers die twee verskillen­de stemme om te verduideli­k: eers haar gewone stem, en dan laer en stadiger . . .

“Amanda se lyftaal is ook anders. Om haar te kon speel moes ek Alexa in die weke vooraf ’n bietjie aanpas. Sy was maar soos ek, so ek moes myself meer prim en proper gedra en haar woorde meer presies begin uitspreek.”

Dit neem twee uur om Carina se hare en grimering op stel te verander sodat sy soos Amanda lyk, wat haar tyd gee om haar kop in die nuwe karakter s’n te kry, verduideli­k sy. “Ek kry blou kontaklens­e, my wenkbroue word ligter gemaak, die vorm van my lippe word verander, ek kry sproete, en my hare word frizzy gemaak. Dis ’n proses, en dis hard op my vel en my hare! Maar ek kla nie. Dit wys seker vertroue van 7de Laan se kant af in my vermoë, wat my trots maak. En ek waardeer die vryheid om só kreatief te kan wees – hulle het vir my die basiese karakter gegee en ek kon met haar maak wat ek wil. Dis nie altyd maklik nie en soms moet ek mooi kophou!”

Maar Carina floreer wanneer sy uitgedaag word. “Daar is ek nes Alexa. Ek is perfeksion­isties en gaan altyd my bes doen om suksesvol te wees. Maar daar is ook ’n bietjie van Amanda in my – ek kan soms lekker laf wees,” lag sy skamerig.

En sy ís eintlik skaam, bieg sy. “Ek dink juis dís hoekom dit vir my so lekker is om aktrise te wees. Jy kan uit jou dop klim, want wanneer jy ’n karakter speel, is jy nie jouself nie. Jy kan jouself uitleef sonder om as jý geoordeel te word.”

Jy sou dit egter nie raai nie, want Carina gesels so lekker in die koffiewink­el naby haar huis in Pretoria, dat haar koffie al yskoud is. “Nee, regtig!” sê sy. “Ek is die grapmaker voor my vriende, maar voor vreemde mense is ek doodstil.”

Anders as Amanda, is sy duidelik saggeaard. “Ek wil net altyd hê almal moet gelukkig wees. Ek vermy konflik en sal die vrede probeer bewaar as ek sien mense raak moeilik met mekaar. In die meeste gevalle, glo ek, kan jy rustig en met respek jou verskille uitsorteer. Ek is ook emosioneel en huil maklik. Darem oor die mooi dinge in die lewe ook. Soms sal ek in die aand in die bed lê en video’s kyk van honde, dan huil ek sommer omdat dit so oulik is!”

Dié eienskap kry sy van haar ma, Dalene. “Dis ’n geykte ding om te sê, ek weet, maar my ma is regtig my rolmodel. Sy’s so saggeaard en gee net altyd – of dit nou ’n koeldrank vir iemand buite die winkel is of ’n geselsie wat sy aanknoop. Sy en my pa, Willie, het my altyd ten volle ondersteun. Aanvanklik het ek gedink my pa sal my loopbaanke­use teenstaan, want hy het ’n skerp sakebrein en besit ’n logistieke­bestuurson­derneming. Natuurlik is ’n ouer ook maar bekommerd as hul kind in ’n wispelturi­ge bedryf soos drama wil ingaan. Maar dis juis daardie vertroue in my wat waarskynli­k gemaak het dat ek dit kon doen. As ander mense nie in jou glo nie, is dit moeilik om in jouself te glo.” >

Ek is die grapmaker voor my vriende, maar voor vreemde mense is ek doodstil Carina

< Ná haar studie aan die Tshwane Universite­it van Tegnologie het sy lank gesukkel om werk te kry, maar was vasbeslote om dit te maak. Bedags het sy as administra­tiewe assistent gewerk en saans as gasvrou by ’n restaurant terwyl sy vir oudisie ná oudisie gegaan het. “Toe kry ek in 2013, op 25, die hoofrol in die toneelstuk Sand, wat na die Grahamstad-kunstefees en US Woordfees is, en daarna die hoofrol in die toneelstuk Sak en pak in die Staatsteat­er. Dit was ’n droom bewaarheid: Op skool het ek ballet as vak gehad en wou altyd graag in die Staatsteat­er optree.”

Carina het al op skool besef drama is eintlik haar ding. “Vandag is ek bly oor die dissipline wat ballet my geleer het, maar ek het meer talent as aktrise. Ek was nie só goed dat ek dans my loopbaan kon maak nie. Boonop het ek nie die tipiese ballerina-bou nie; daar is baie druk om op ’n sekere manier te lyk as jy profession­eel wil dans.”

Bygesê, daar is ook druk om as aktrise op ’n sekere manier te lyk, erken sy. “Sommige kykers kan maar hard wees op jou. Mense sal op sosiale media goed sê soos: ‘Kan Alexa nie sien hoe vet sy is nie?’ of ‘Kyk daai dik bene’. Maar, ag wat, ek is lief vir eet! Ek probeer oefen en ek wil goed lyk, maar ek is ’n kosliefheb­ber en het ’n suikertand. Jy moet ook ’n balans handhaaf tussen gesond eet en jou lewe geniet.”

Sy het al geleer om snedige aanmerking­s af te lag. Toe sy aan en af van 2012 tot 2014 die rol van Isabel in die SABC1sepie Generation­s vertolk het, het sy op sosiale media kommentaar raakgelees soos “This woman can’t act”. “Dit was swaar as nuwe aktrise, maar nou pla dit my nie meer nie. Mense sal enigiets sê net om iéts te kan sê. Hulle voel hulle het beheer oor jou omdat jy saans in hul Tv-kamer is.”

Sy is self aktief op sosiale media en beskou dit tog as ’n goeie bemarkings­middel vir haar loopbaan. “By die Laan word ons aangemoedi­g om dinge op sosiale media te deel. En dikwels is mense ondersteun­end. Toe ek verlede jaar op stel geval en my arm gebreek het, het ek soveel mooi boodskappe van aanhangers gekry, selfs kaartjies in die pos.”

Sy glo wel jy moet ter wille van privaathei­d iewers ’n lyn trek. “Ek sal foto’s deel van lekker dinge wat ek doen, selfs saam met my man, Deon [Nagel], of met vriende, maar ek sal nooit sê as ons die dag vassit nie. En steeds kan die kleinste dingetjie oor jou die nuus haal. Daar was byvoorbeel­d ’n gyselaarsd­rama in die kompleks waar my ouers woon, maar dit het niks met hulle te doen gehad nie. Almal is net tydens die voorval gewaarsku om binne die huis te bly. ’n Joernalis het vir my ’n paar teksboodsk­appe daaroor gestuur en ek het gedink ons gesels sommer net, maar die volgende dag is daar toe ’n storie: ‘Aktrise se ma in 9 uur lange gyseldrama’. Ons het maar net daaroor gelag. Ek kon dit nie glo nie!”

Dit ten spyt, leef Carina haar droom. In die afgelope 18 maande het al haar grootste wense waar geword – dié dat sy nie die tipiese lewenskris­is ervaar wat baie mense tref wanneer hulle die jaar 30 word nie, sê sy.

“Ek het soveel om voor dankbaar te wees: ’n permanente rol in ’n bekende sepie, ek het getrou met hierdie wonderlike, romantiese man, en ons het ’n lieflike huis. Ek dink nie ek is die tipiese millenniër nie – ek is redelik gevestig, al hou ek ook van reis en om die wêreld te ontdek.”

Deon het haar gevra om te trou voor ’n kasteel in Skotland. “Nóg ’n droom wat waar geword het. Ek is so ’n bietjie obsessief oor die Britse koninklike­s – my geheimpie wat ek nie maklik deel nie – en ek het hierdie feëverhaal-idee in my kop gehad dat ek by ’n kasteel verloof wil raak. Toe vra hy my regtig voor een!”

In Desember het hulle in Italië gaan ski en toe ook deur België, Duitsland, Nederland en Oostenryk gaan reis.

“Daar is nog soveel wat ek, en Deon, wil doen en sien in die lewe. Ons wil beslis kinders hê, maar nie nou al nie. Miskien oor so drie jaar, Deon sal sê vyf,” lag sy.

Intussen beplan hulle om vanjaar twee honde te kry. “Ek wil ook nog baie teaterwerk doen, in flieks speel, agter die skerms werk en regie of vervaardig­ing doen.”

Natuurlik sal sy graag eendag vir ’n paar jaar oorsee wil werk, maar sal altyd in Suid-afrika wil woon, want “ek’s lief vir die land en is geheg aan my familie en vriende. As kind het ek vir my dramajuffr­ou gesê ek beplan om Hollywood toe te gaan, sy moet net asseblief vir my verduideli­k waarnatoe ek moet loop as ek daar van die vliegtuig afklim. Noudat ek groot is, dink ek darem ek sal self die pad kan vind! Maar ek is nie haastig nie, ek glo dinge gebeur op die regte tyd in jou lewe.”

Ek is perfeksion­isties en gaan altyd my bes doen om suksesvol te wees Carina

Marise en Handré verseël hul huwelik met ’n kus.

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa