Sarie

10 bladsye troufoto’s met Handré en sy Marise

Hy sê dit was liefde met die eerste oogopslag; sy’t sommer geweet hier kom ’n ding. Springbok-losskakel Handré Pollard en die 22-jarige Marise Malherbe van die Paarl weet trou is nie perdekoop nie, maar glo ‘ons lewe begin nou eers . . .’

- DEUR MARGUERITE VAN WYK FOTO’S COETZER COOKE

As klein dogtertjie het Marise Malherbe geweet sy wil eendag met ’n man soos haar pa, Gideon, trou.

Toe vind sy hom op Facebook. Handré Pollard. Briljante jong rugby-bok. Op 9 Desember verlede jaar het hulle laatmiddag voor 180 gaste by die Cavalli Wine and Stud Farm buite Stellenbos­ch die knoop deurgehak. En SARIE het eksklusief die troufoto’s en storie bekom. Twee weke voor die troue is Marise, met haar wilgerlatl­yf en blinkswart hare en oë, aan die gesels met ons in ’n koffieplek in Kaapstad. “Handré het my in graad elf op Facebook uitgenooi,” vertel sy. “Hy het gesê hy hou van my voorkoms, vrolikheid en sportlus.”

Ná ’n maand se gesels op Facebook het hy by hul dorpshuis kom kuier. Hulle het ook ’n plaas, Bloemendal Simondium buite die Paarl, waar haar ouers boer met suurlemoen­e en ’n rehabilita­siesentrum vir alkohol- en dwelmafhan­klikes, Spoor Ses, vir ’n Nederlands­e maatskappy bestuur. Haar ma, Tanya Peckham-malherbe, op haar dag ’n Springbokl­angafstand­atleet, rig ook atletiek af.

Sy glimlag skalks. “Toe hy my die eerste keer sien en ’n #drukkie gee, het ek geweet hier kom ’n ding. Sy selfvertro­ue, goeie maniere en nederighei­d het ons almal beïndruk.” Hy het haar daar en dan na sy matriekafs­keid gevra. Handré het in 2012 in matriek aan Paarl Gimnasium vir die Junior Springbokk­e gespeel en is in 2014 as die IRB se Junior Speler van die Jaar aangewys. Marise was destyds ’n SA 800 m-atleet en het in die eerste netbalspan van die Hoër Meisieskoo­l Paarl gespeel.

Vier maande later is hy gekontrakt­eer om vir die Blou Bulle en Tukkies se rugbyspan in die Noorde te speel. “Gelukkig was ek toe [2013] in matriek en baie besig met my sport, vriende en skoolwerk. Maar hy het darem een keer per maand kom kuier.”

In 2014 het sy met ’n sportbeurs grondslagf­ase-onderwys aan die Universite­it van Pretoria gaan studeer. “Hul atletiek was die beste in die land en ek wou naby Handré wees.”

Aanvanklik het sy niemand daar geken nie en Handré het baie gereis. “In 2015, met die Wêreldbeke­r, was hy vyf maande weg van die huis. Hoewel ek onafhankli­k grootgemaa­k is, moes ek leer om kompromieë aan te gaan. Ek was baie lief vir atletiek, maar my ma het my afgerig en dit was moeilik om met ’n nuwe afrigter te oefen. Ná my tweede jaar wou ek ’n blaaskans neem en op my eie geluk en studies fokus. As ek honderd persent gefokus het op my atletiek, sou dit baie toewyding en reis vereis het, en ek was nie reg daarvoor nie, maar die droom is steeds daar . . .”

’n Verhouding gaan oor gee en neem, glo sy. “My ouers is reeds 24 jaar getroud en steeds verlief. Handré se ouers [Karen en André] is ook dolgelukki­g. Ons kom albei uit goeie ouerhuise. Hy het ook ongeloofli­ke waardering vir sy ouers en sy suster, Inneke, wat hom altyd ondersteun het.” Sy ma het baie opoffering­s vir sy rugbyloopb­aan gemaak, en sy pa het vele ure op die oefenveld saam met hom deurgebrin­g. Hy het ook op sy dag vir die WP rugby gespeel en is nou hoof van kurrikulum-ontwikkeli­ng by Curro.

Marise meen die liefde is ’n fyn spel. “Ná ’n lang reis bederf ek hom met ’n bord tuisgekook­te kos (hy is baie lief vir beesstert en lamskenkel­s), ons kyk fliek en drink rooiwyn.

“My ma het my geleer die man moet altyd ’n bietjie wonder. Behou jou misterie . . . Verhouding­s is harde werk. Jy moet nooit te gemaklik raak nie. Ek versorg my net so goed as toe ons begin uitgaan het. Ek hou van die mode, maar Handré verkies my in ’n T-hemp en jeans,” lag sy.

Handré laat weet per Whatsapp hy wil saam met haar oud word, want: “Elke dag as ek haar sien, laat sy my hart vinniger klop omdat dit opwindend aan haar sy is, én stadiger, want ek voel veilig saam met my beste vriendin.”

Marise sê sy het hom nog nooit kwaad gesien nie. “Ek raak soms so ontsteld as die Bokke gekritisee­r word soos ná hul nederlaag teen Ierland einde 2017. Handré lees nooit ’n koerantber­ig oor homself nie. As ek hóm bel en vra wat moet ek sê as mense bel, sê hy rustig: ‘Sê ons werk aan ons spel, hulle moet fokus op die toekoms.’ Toe hy vir sy swak skopwerk teen die Franse gekritisee­r is, het hy gesê hy oefen en dit was lekker om te wen.

“Handré bons gou terug. Hy kwel hom nie oor dinge wat verby is nie en probeer oplossings vind. Dit is hoe ons alles in ons verhouding hanteer. Wanneer mense sê ons offer baie op deur te trou, lag ons. Ons lewe begin nou eers.”

Hulle het op 21 Desember 2016 op ’n afgeleë strand op Hermanus verloof geraak. Teen skemeraand het Handré haar met ’n piekniekma­ndjie op die strand ingewag met ’n klassieke diamantrin­g. “Agterna het ons by my ouers se strandhuis met familie en vriende soos [die Springbokk­e] Jesse Kriel en Damian de Allende partytjie gehou.”

Natuurlik stel dit eise om ’n Bok as geliefde te hê. “Ek is dikwels alleen. Toe ek Pretoria toe getrek het, het Handré vir my ’n grys kat, Skye, met die mooiste groen oë gekoop. Ek het my byna doodgehuil toe sy dood is.” Maar sy twyfel nooit aan hom nie. “Handré val nie vir die versoeking­s daarbuite nie en meen hy kan sy tyd beter benut deur koffie met mentors te drink of gholf te speel met goeie vriende.”

So twee jaar gelede is die twee deur ’n moeilike tyd nadat Handré beseer is en ’n maand in die hospitaal was. “Dit het ons verhouding beslis versterk,” sê sy. “Eers het hy tydens die Wêreldbeke­r in 2015 sy regterskou­er beseer. Die jaar daarna het hy die kruisligam­ente in sy regterknie geskeur en ná ’n knie-operasie kon hy agt maande nie rugby speel nie. Hy het toe ook sy skouer laat opereer. Sy rehabilita­sie het nie volgens plan verloop nie. Hy het septisemie [bloedvergi­ftiging as gevolg van ’n kiem in die hospitaal] opgedoen en die wond moes twee keer oopgemaak word weens infeksie. Hy was ’n maand in isolasie. Deur alles het hy net positief gebly en elke dag op sy eie benader. Party dae het hy mý moed ingepraat.”

Marise sê sy leer baie by hom. “Ek was altyd angstig, veral voor atletiekby­eenkomste. Handré draf met die grootste gemak voor ’n skare van 50 000 uit. Hy het my geleer om my drome na te jaag, te fokus op my geluk.”

Volgens haar is hy nog dieselfde mens as toe sy hom leer ken het, glad nie aansteller­ig nie en ’n introvert. Sy vertel: “In Pretoria is ons blootgeste­l aan goeie Afrikaanse musiek. Ons het Twee sien optree by Die Blou Hond-teater en Handré wou ’n foto saam met hulle laat neem. Die sangeres, wat eers ’n onderwyser­es by sy skool was, teken toe: ‘Juffrou Rademeyer’. Hy was baie ingenome!”

Heelparty rugby- celebs is na hul troue genooi. Onder andere Springbok-spanmaats Lood de Jager, Eben Etzebeth, Siya Kolisi, Trevor Nyakane, Jesse en sy broer, Stormers-senter Dan Kriel.

Vir hul wittebrood van twee en ’n half weke is hulle na New York, Fort Lauderdale, Miami, en op ’n skeepsreis na Jamaika, Mexiko en Haïti. Marise wou ook die Serengeti in Tanzanië en Zanzibar beleef, maar “jy weet nooit wanneer die diere gaan migreer nie. Ons sal dit later doen.”

Sy het Handré meer van Afrika geleer. “Ons jag gereeld bokke saam met my pa en besoek wildsparke.” Toe hulle begin uitgaan het, het sy al in Zimbabwe, Botswana en Namibië getoer. Hul gesin het ook gereeld op plesierske­pe op die Middelland­se See na plekke soos Monaco, Istanboel, Capri en Barcelona gereis.

“Ons wil leer van mekaar se wêrelde. Ek wil Engelsklas­se gee in ’n vlugteling­ekamp in Kenia en by olifantbew­aring betrokke raak. Hy is opgewonde daaroor.”

Albei is lief vir Suid-afrika, braaivleis en Afrikaans. “Handré het as tjokkertji­e al besluit hy wil honderd Boktoetse agter sy naam skryf. Rugby gaan vir hom oor veel meer as geld. Sy pa het al kleintyd ’n liefde vir die spel in hom wakker gemaak. Hy is tot 2019 se Wêreldbeke­r by die Bokke gekontrakt­eer, maar hoop om ’n geleenthei­d te kry om oorsee te speel. En ek is oop vir avontuur.”

Kinders is beslis op die kaarte, maar eers oor vyf jaar. En as dit beteken hul kinders moet ’n ruk lank oorsee woon, beskou hulle dit as ’n voorreg en lewenserva­ring.

Marise en haar broer Fanie (20) is “infertilit­eitsbabas” en haar laatlam-broer, Richard (6), voel byna soos haar eie kind, vertel sy. “Hy is gebore toe my ma 45 was, nadat sy gedink het sy sal nooit self swanger raak nie, en is ’n groot seëning.” Toe hy op drie maande ’n ingrypende hartoperas­ie moes kry, het sy haar ma baie bygestaan. “Dikwels, as my ouers oorsee gaan, pas ons hom op. Ek het opnuut besef kinders is my passie.”

Die paartjie doen graag saam Bybelstudi­e en glo hul huwelik gaan werk omdat God hul anker is. Ds. Bekker Nieuwoudt van die Paarl wat die huweliksbe­vestiging gedoen het, het ook goeie raad gegee: “Hy het vooraf vir ons gesê om jaarliks oor ’n lekker bottel wyn mekaar se goeie en slegte punte te lys. Aanvanklik sal die slegtes min wees. Terwyl een praat, moet die ander luister. Jy moet nooit dinge opkrop sodat jy op ’n dag ontplof nie.”

Tydens die wittebrood het die paartjie presies dit in Soho, New York, gedoen. Hulle het besef hoe belangrik die groot JA was toe sy op Matthew West se liedjie “When I Say I Do” voor gaste en die predikant ingestap het. Maar vir hulle is die opoffering nie groot nie. Soos hulle sê: “Ons lewe begin nou.”

 ??  ?? Die Cavalli-perdeplaas buite Stellenbos­ch was die perfekte trouplek vir dié twee wat dol is op die natuur en diere.
Die Cavalli-perdeplaas buite Stellenbos­ch was die perfekte trouplek vir dié twee wat dol is op die natuur en diere.
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa