Sarie

Leser: ‘Franse Camino maak my skatryk’

Op die Franse platteland, ver van haar bekende wandelpaai­e en geliefdes, het Mariaan Folscher van Brandvlei algaande besef: hiér word jy so alleen-alleen die mens wat jy eintlik is

-

Van al die perde wat ek opgesaal het, was hierdie een die heel malste.

Ons gesin het ses jaar gelede op ’n stasie in Agra in die noorde van Indië gesit en op ’n trein gewag wat elfuur die aand moes kom en toe eers tweeuur voordagmôr­e langs ons perron gebriek het.

Om die tyd om te kry het ek op ’n stuk karton gesit (die mense is baie en die sitbanke min) en kyk hoe groot, ronde rotte by ons verbyskarr­el terwyl ’n mooi swartkopvr­ou van Bonnievale my vertel van ’n ding soos die Camino. Daai nag is die saal op die perd se rug gesit. In die jare wat gekom het, het ek gedroom en gedink. Later vir Johan gevra of ons nie van Loeriesfon­tein af na my pa se winterplas­ie met die kliphuis, diep in die berge, Namakwalan­d se kant toe kan stap nie.

Hy het langs die kombuistaf­el gesit en in ongeloof na my gekyk. ‘My vrou, het jy nou heeltemal bedinges geword?’ het hy verslae gevra.

Vol hoop het ek na Mia gekyk. Sy het haar oë opwaarts geslaan, omgedop en geantwoord: ‘Is Ma nou koekoes! Nee dankie vir my!’

Veel later het my altyd fiks suster, Rietjie, die pad saam met my gestap. Al op ons kinderspor­e langs tot by ons wortels.

Ek het vir die eerste keer ná al die jare van graag stap besef dat daar ander plekke ook is waar ek kan stap as die plaaswerf en die vaal, kaal, dorre stofpaaie van my geliefde Boesmanlan­d. In die tye daarna het ek baie drome gedroom en gesigte gesien oor hoe ek ’n Camino-pad stap. Maar toe kom die dag dat ek ’n dik streep deur my kosbare bucket list trek. Ek het dit opgefromme­l en weggegooi, want die dinge wat al so lank op die lys staan, kom nie een tot vervulling nie.

Dit was nie maklik nie, maar ek het die boodskap duidelik gekry: Ek is nie veronderst­el om my eie wil op ’n bucket list af te merk nie. As ek aan Christus behoort, kan ek maar die lysie los. Hy sal my in sy wil inlei om dinge te doen, want Hy ken die begeertes van my hart.

Lank daarna, op ’n tyd toe ek dit die minste verwag het, het elke ding wonderbaar­lik, bonatuurli­k en uit die bloute in plek geval. Ons sal die Franse Camino* stap – ek, my suster, Rietjie, en ons vriendin Heleda, ’n bietjie ouer as ons.

Heleda het al drie Camino-stappe agter die rug. Sy behoort goed streetwise te wees.

Ek is fort met ’n rugsak, goeie stapskoene, ’n donsligte slaapsak(kie) en ’n verskeiden­heid pleisters, ligte en sterk pynpille, Deep Heat-agtige aansmeerse­ls en vitamienaa­nvullings. Terwyl ons hoog in die lug is op pad na Lyon, Frankryk, het ons ons voete in die stiebeuels van die saal gesit en van omdraai was daar nie meer sprake nie.

Twee dae later verlaat ons op D-dag die klooster van Le Puy-en-velay in die Auvergne-streek. Ek met my suster se kraaknuwe, onuitgetra­pte winkelskoe­ne (’n insek het my enkel gebyt en ek kon nie my goed uitgetrapt­e stapstewel­s dra nie), my rugsak met aardse besittings vir drie weke en ’n aluminium-stapstok.

Daardie eerste dag het ek meer en steiler hoogtes en rante en berge geklim as in my hele lewe. Die baie kilometers van stap op die plaas se plat paaie was van geen waarde by hierdie optes nie. Ek het een tree vorentoe met loodswaar voet gesleep, dan die ander voet ook tot bo, gehyg na asem en dan ver en lank na bo gekyk waar Rietjie en Heleda lankal verdwyn het.

My jonger suster was soos ’n July-perd wat in die wegspringb­lokke staan en trippel, gereed om die jackpot los te hardloop. Heleda het soos ’n grasieuse swaan teen die hoogtes uitgesweef, tree vir tree met haar houtstaf soos St. Christophe­r s’n in die hand.

Ek het my ronde, middeljari­ge liggaam gebreek om die eerste opdraande van 7 km uit te kom. Laatmiddag was ons op ’n plato’tjie en kon ons uitkyk oor groen weivelde en waters waar rus is.

My redding was dat dit nie ’n wedloop is nie. Ek kon stap solank ek wou, so ver ek wou en wanneer ek wou, waar ek wou. Al waarmee ek moes rekening hou, was my eie kragte. Soms het ons met mekaar saamgestap, gesels-gesels. Soms woordeloos net gestap, elkeen met sy eie gedagtes. En dan was daar die alleen-ente. Met klipperige bergpaadji­es vol boomwortel­s, deur woude, langs riviere, verby verlate plaasopsta­lle van ruwe klip.

< Dis eintlik die alleenloop­tye wat ek nou onthou. Jy is ontdaan van gerief, weelde en geborgenhe­id. Terwyl jy ver van jou eie, bekende loopgronde en geliefdes is, word jy so alleenalle­en elke dag meer en meer wie jy eintlik is. Tot jou eie verbasing sien jy ’n mens wat jy net van hoorsê ken.

Dit was bevrydend om met so min klaar te kom. My bondeltjie klere het in my hoed gepas. Buiten my baadjie wat ek om my lyf kon knoop.

My horlosie se bandjie het reg aan die begin gebreek. Ek het tydloos aanbeweeg en dit nooit gemis nie. Sonder ’n kam, borsel of haardroër. (Daarvoor moet jou hare min of meer piepiepot-styl gesny wees.)

My selfoon was van nul en gener waarde buite die landsgrens­e. Behalwe vir brokkies via my suster se Apple, was ek afgesny van huisnuus. Ons het nooit TV gekyk, sepies of nuustyd se misdaad- en korrupsiev­erslag gesien nie. En dit bring ongekende vrede in jou binneste. Ek is met twee multifokal­e brille weg en het met ’n halwe een teruggekom. Wat ek nou nog dra.

Aanvanklik het ons saans, ná die 18 of 20 of 28 km wat ons die dag gestap het, dieselfde voorneme gehad: môre gaan ons huis toe. Wanneer môre kom, staan ons op, trek ons dik sokkies en skoene aan, eet ’n stukkie Franse brood of iets kosserigs, sit ons rugsakke op, vat ons stapstokke en val in die pad. Later het ons saans al geweet ons wil en sal die volgende oggend weer in die pad val, want ons lywe het selfs die hoë hoogtes al makliker oorwin.

Die bedagsaamh­eid van meelopers en mede-oorblyers by die gites (herberge), hul onvermoë om ’n enkele woord Engels te praat, hul welwillend­heid desondanks, hul respek vir mense en die natuur het van die stap ’n amazing grace race gemaak.

Ons het min jong mense sien stap. Die stappers is gryskoppe, kaalkoppe, liggame wat al die lewe geleef het.

Frankryk se wandelpaai­e is nie so kommersiee­l soos dié in Spanje nie. Dis meestal Franse wat naweke en vakansies stap op hul eie roetes. Daarom is alles en almal so on-engels.

Voordat ons vertrek het, het my suster se huishoudst­er vir haar gevra: ‘Do they pay you to walk?’ Nee, niemand betaal jou nie. Jy betaal baie. En ná die loop is jy ryk, skatryk. Die belewenis van die mens, van die aarde, van die natuur is herinnerin­ge wat jou ongevraag verryk. Jy besef hoe arm jou klomp besittings en luukshede jou maak; watter las dit soms vir jou is en hoe bevrydend dit is om met alles by jou in ’n sak op jou rug te kan beweeg oor ver paaie, in ’n ander halfrond.

Hier skree die verbygaand­e voertuie se draadloos nie dat die kranse antwoord gee nie, wil niemand jou selfoon gryp (of jou gryp) op die alleenpaai­e nie. Daar lê nie oral blikke en papiere rond nie. Dis ’n ander wêreld waarin jy beweeg.

Die tuiskoms maak my dankbaar vir ’n growwe handdoek (i.p.v. die dun, ligte, gladde afdroogdin­getjie); dat ek nie elke aand al my goed uit ’n rugsak moet pak en gebruik en môreoggend weer alles moet inpak nie; dat ek rys, vleis en aartappels kan eet en nie ’n koppie koffie in euro hoef te betaal nie. En ’n lekker stukkie beskuit daarby. As jy ver geloop het, is jy friends for life met jou saamlopers.

En as jy terug is in jou eie Derdewêrel­d, het jy gesien jy is vergenoeg met oorvloed én gebrek.

Al brand die kampusse toe ons op eie bodem neerstryk, weet ek daar is geen land so wyd en ver geleë soos my land nie, al wys hy vuis en skree Amandla!

Ek kan antwoord: Ubuntu! Menslikhei­d aan alle pelgrims op jou pad in mooie Suid-afrika. Derdewêrel­d of te not!

* Mariaan, Rietjie en Heleda het in 2015 vanaf Le Puy tot by Cahors gestap. Dit was sowat 350 km, ompaaie ingesluit. In Mei 2017 het sy en Rietjie en nog twee vriendinne die 488 km gestap vanaf Cahors tot by SaintJean-pied-de-port en toe tot by Roncesvall­es in Spanje, ’n klein dorpie in die Pireneë. Hulle beplan om in Mei vanjaar ’n deel van die laaste skof te stap op pad na Santiago de Compostela, sowat 750 km van die Pireneë.

Dis die alleenloop­tye wat ek onthou. Jy is ontdaan van gerief, weelde en geborgenhe­id Mariaan

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa