Sarie

KOEBAAI, DEEGBAK

-

Waar is die dae? Mammie het koek in die oond en ek en my sus sit op die kombuisvlo­er met die deegbak. Elkeen het ’n teelepel en ons is bésig. As lepels nie meer hond haaraf maak nie, word vingers ingelê. Nie lank nie, dan is die bak skoon – asof hy klaar onder die Sunlight-seep deurgeloop het.

Toe kom die skooljare. Ná skool word ons soms met koek begroet. En ’n skoongewas­te mengbak. Maar wat, gewoonlik het ons geweet: die versiersui­kerbak kom nog.

Toe is dit studeer, werk, trou . . . As jy koek wil hê, gaan koop jy dit, want vir koekbak is daar tog nie tyd nie.

Maar met die eerste kleintjie word die deegbak geproe voor sy op haar agterpote is. Later is daar drie en die bak op die koue kombuisvlo­er met kleintjies daaromheen is ’n prentjie. Met die bak leeg gelek moet ma die deegbekke en -hande met haar natlappie bykom.

Toe hulle begin skoolgaan, word koek gebak in skooltyd en alles dadelik opgeruim, maar voor daardie bak water kry, glip ma ’n vinger ’n paar keer tussen bak en tong.

Nou is ma al ouma, en die kleinkinde­rs ver. Nou is die deegbak net ouma s’n. Op die vloer is twee paar oë wat die lepel volg van bak na tong en terug. Een paar is groot en smekend. Die ander verwytend. En dan gee ouma in. Geen menskinder­s het ooit so lekker en met sulke oorgawe geëet nie. Ná die gelek is die bak silwerskoo­n en daar is nie ’n sweempie deeg aan die twee Jack Russells se bekke en pote nie.

Ouma sê: “Koebaai, deegbak.” Lucille Kriegler, Hermanus

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa