Sarie

SNAAKS? ALTYD!

Ons ken Quanita Adams vir haar ligte, humoristie­se rolle in Afrikaans, soos binnekort weer in die fliek Susters*. Sy’s ook ’n veelbekroo­nde aktrise vir haar ernstiger werk op die planke. Is sy snaaks in lewende lywe? Ja, deksels snaaks!

- DEUR LYDIA VAN DER MERWE FOTO’S WILLEM LOURENS

Daai bos hare staan vanoggend in alle windrigtin­gs. Niks nuuts daar nie. Sproetjies dans oor haar gesig, sonder ’n beduidenis van grimering.

As Lizzie, in Sara se geheim op kyknet**, wurm sy haar kurwes in tabberdjie­s wat die pastoor (Keeno Lee Hector) se oë behoorlik laat uitpop. Hy kwyl, man!

Twee dinge van Quanita Adams: Sy is in lewende lywe ook deksels snaaks. En so tuis in haar lyf, die meeste vroue sal by haar kan kers opsteek.

“Of course het ek hang-ups oor my lyf,” sê sy. “Maar ek kyk na foto’s toe ek twintig was, met sleutelben­e wat lyk of jy gordyne daaraan kan hang. En al daai tyd het ek oor my lyf gestres. Ek’s ook nie die enigste een wat soos ek lyk nie. Jy sien in Sara se geheim hoe ek veg om in my klere te kom. Vroue van alle ouderdomme, kleure en gemeenskap­pe kom na my toe, identifise­er daarmee. Ek dink daar is ’n eerlikheid aan my spel. Want natuurlik sukkel ons almal. Maar daar kom ’n punt wat jy sê, dude, ek gaan nie gim toe nie, ek’s te lui.

“My pa, Nazeem, was ’n amazing man. Ek’t eenkeer hierdie skinny jeans gekoop en die clue is in die naam, skinny, nè? As jy nie skinny is nie, is daai jeans miskien nie vir jou nie. “Ek vra hom: ‘ Dad, is my boude te groot?’ En hy sê: ‘Jou boude is agter jou. Moenie stres nie, jy kan dit nie sien nie.’ Dit was ook sy houding oor die lewe. Kyk vorentoe, nie terug nie.”

Wyse man. Hy is vroeg in 2016 oorlede weens ’n oorgeërfde hartafwyki­ng. ’n Hunk, beskryf sy hom. “Die oorspronkl­ike bruin Bobby Ewing. Die bruin Michael Knight. Hy was gorgeous, charismati­es. En my ma, Felicity, is gorgeous. En my broer, Tauriq, is gorgeous. En dan is daar ek.” Haar broer is “’n korporatie­we cowboy” wat “sakke vol geld” maak in Noorweë, waar hy met sy vrou en baba woon. >

< Quanita is ’n masala van die verskillen­de stemme in ons land. Als versoen in haar sterk, kleurryke persoonlik­heid. In ’n Moslem-huis grootgewor­d, haar ganse skoolloopb­aan in ’n Katolieke skool. Haar ouers, uit die werkerskla­s, het baie opoffering­s gemaak om hul kinders net die beste opvoeding te gee. Smiddae het sy met haar netjiese kopdoekie Madressa, die Moslem-kerkskool, bygewoon. Maar sy het ook solo in die skoolkoor gesing. “Ek ken nie die helfte van die Moslem-gebede nie, maar kan die ‘Angelus’ in Latyn sing!”

Ouma Anne, haar ma se ma wat by hulle gewoon het, was wit, ’n Christen en betrokke by die kerk. Die familie aan haar pa se kant, “super-moslems”. Haar broer, halfpad om die wêreld, besoek steeds gereeld ’n moskee. Kersfees kom almal bymekaar, deel geskenke uit. Op Eid, die fees aan die einde van Ramadaan, word saamgeëet.

Natuurlik was daar destyds baie vrae in haar krullebol-kop. Sy’t vroeg geleer om als te bevraagtek­en. Bekkig, met haar hand altyd eerste op. Op ’n manier het sy “niemand geglo nie, maar almal verstaan”. “Soos jy ouer raak, besef jy pleks dat die twee goed met mekaar baklei, jy uit albei moet neem wat jy nodig het. Ekself gaan nie kerk of moskee toe nie. Maar lewe in geloof, met passie en beginsels soos respek vir ander, toleransie, aanvaardin­g.”

Hoe anders, met ’n naam wat deugsaam, vroom, godvresend beteken. Haar ma het gedink sy is ’n seun en die naam Zacharia gekies. Ná 27 uur in kraam, word ’n mooi meisietjie gebore. Felicity was in ’n nagklub op die dansvloer toe haar water breek. “Sy sê as sy geweet het ek gaan so lank vat, het sy by die klub ge- chill. Sy sê ek was lazy van dag een af.” In die Islam fluister die imam ’n gebed in jou oor ná jou geboorte. En haar ma sê vir hom: “Ek het ’n meisienaam nodig.” En hy sê: “My dogtertjie se naam is Quanita.” Sy hou toe van die betekenis.

“Nou ja, om te dans, te perform, was in my lewe geskryf van voor my geboorte af. Albei my ouers het wonderlike sangstemme. En praat van drama queens. Ek sê altyd ek word betaal om een te wees. Die res van my gesin doen dit verniet!”

Quanita het baie lae, jy skil haar af soos ’n ui. Lank voor ons haar op Afrikaanse TV leer ken het in ligte, humoristie­se rolle, was sy ’n bekroonde verhoogakt­rise. Bekend vir ernstige rolle waar sy stereotipe­s afbreek, en waarvoor sy onder meer vier Fleur du Cap-toekenning­s ontvang het. Sy het ook ’n Safta vir die fliek Forgivenes­s gekry. “Al die diep, wroegende goed, oor ras, geslag, godsdiens. Dit voel asof ek my lewe lank teenoorges­telde elemente saamsnoer: Moslem en Christen, wit en swart, komedie en drama. Ek voel soos gom wat twee goed saamtrek – op ’n manier wat sin maak.”

Die ernstige kant van haar persoonlik­heid sien jy egter net in haar verhoogwer­k. Sy hou nie van onmin, spanning, konflik nie. Altyd die een wat op stel die spanning met ’n grappie ontlont.

Dit gesê, as iemand dinge aan die gang moet kry, skop sy met graagte blaker. Sommige mense noem dit “bossy”, sy noem dit gefokus. “Ek het daardie hoofmeisie-soort persoonlik­heid. Verlede jaar sit ons agtien uur lank op die lughawe in Moembai vas. Toe stap ek na daai toonbank en sê baie kalm vir die klerk presies hoe dinge nou gedoen gaan word. ‘As jy nie vinnig ’n vliegtuig kry nie, gaan ek die hele vlug se mense by ’n sessterhot­el inteken – en ek gaan nie betaal nie.’ Binne ’n uur was daar ’n vliegtuig! Almal juig en ek sê, dankie, dankie.” Buig. Altyd die vermaaklik­heidster. Quanita het Engels grootgewor­d. Haar Afrikaans was vrot toe sy by Binnelande­rs in die rol van Zadie instap. Op stel het die hele span gehelp. “Elke liewe dag. Ek kon maar net nie die dubbele ‘nie’ onthou nie. Dan hoor ek iemand van agter gil: ‘Nie!’ Arrggg . . . Eenkeer, in karakter, het ek gepraat van ’n ‘ verassings­partytjie’ in plaas van ’n verrassing­spartytjie!

“Maar nou moet jy my sien. Die dag toe ek op die Binnelande­rs- stel ’n grappie in Afrikaans maak, het almal hande geklap. As jy ’n joke kan maak in jou tweede taal en Afrikaanse mense lag! Dis soos . . . [buig diep, wuif] . . . dankie . . . dankie!”

Eens was sy “diep suspisieus oor die taal”. Want in die tagtigs, toe sy grootgewor­d het, het dit in haar gemeenskap “’n sekere ding” beteken. Deesdae skryf sy tekste in Afrikaans, soos die komiese kyknetreek­s Vinkel en Koljander. Dit behoort immers nie net aan een groep nie. Geleerde Moslems was inderdaad eerste om tekste in Afrikaans te skryf. “En dan skielik wil jy in die taal klouter, jou kultuur, geskiedeni­s is ingebed daarin. Dis vanuit eie bodem en daarom so perfek om dinge eie aan ons land te beskryf.

Ek voel soos gom wat twee goed saamtrek Quanita Dude, ek gaan nie gim toe nie, ek’s te lui Quanita

My vriend, ’n Amerikaner en nou vyf jaar hier, gebruik dikwels ’n Afrikaanse woord. Want hy verstaan daar is geen ander manier om sekere ervarings vas te vat nie.” Oor hom wil sy niks sê nie. Hy’s ’n doktor in ekonomie aan die Universite­it van Kaapstad, en ja, daar is trouplanne . . . Basta nou.

Haar pa is oorlede terwyl sy besig was met die skiet van Vinkel en Koljander. Hoe om snaaks te wees as jou hart wil breek? Sy weet nie hoe sy daardeur gekom het nie, kry angsaanval­le as sy daaraan dink. “En daar was regtig vreugde op stel. Nie ’n dag het verbygegaa­n wat ons nie histeries was nie. Ook met mekaar, hoe ons met mekaar jol. Ek dink my pa se lewensuitk­yk het gehelp. Die aand voor sy dood besoek ’n niggie hom. Al die vroue in my familie het boobs soos dié.” Sy wys, gróót. “Net sulke borste. #blessed. Maar my niggie is klein, shame man, klein. Sy kom groet, sy gaan kamp. ‘ Waar?’ vra my pa. ‘ Tietiesbaa­i,’ seg sy. ‘Gaan hulle jou daar toelaat?’ vra hy sedig.

“Toe die nurse vra wat hy vir aandete wil hê, sê hy Coke. ‘ Want Coke is life.’ Ons was by hom toe hy sterf en daar was soveel liefde. Ek dink dis hoe jy aangaan.

“Moslems word ook mos blitsvinni­g begrawe. Want in Islam gaan dit nie oor die dooie nie, maar die lewendes wat saam tyd deurbring. Ná sy begrafnis was dit ’n teken dat ek weer op die lewe moet fokus.”

Vinkel en Koljander, oor ’n Christenma­n en Moslem-vrou, eggo boonop haar eie gesin se verhaal. (Haar ma het die Moslem-geloof aangeneem.) “Dit was so deel daarvan. Volgende jaar wil ek ’n Tv-reeks oor my kinderjare in die tagtigs skryf. Ek wil die storie van ons land vertel, maar vanuit ’n plek van lig.”

Ja, sy het heelwat stof uit haar persoonlik­e geskiedeni­s waaruit sy stories kan put. “Dis ’n komedie, drama, sielkundig­e riller!”

Sy het al in die argiewe gegrawe op soek na ouma Anne se wortels. Sy en haar man, ’n bruin Rhodesiër, het sewe kinders gehad. Net sy name verskyn op die geboortese­rtifikate. George Henry Edward Louw. Dit was destyds mos onwettig dat wit en swart trou. “Daar is soveel geheime in ons familie. In daai jare is glad nie met die kinders gepraat nie, want kinders is mos nes koerante.

“Jare gelede was ek in Belfast, NoordIerla­nd. Ek bestel ’n pastei in ’n kroeg en toe ek dit hap, kan ek skielik nie sluk nie, weird. Want dit proe nes my ouma s’n. En ek sê ek dink my ouma se mense kom van dié plek. Daar was net iets . . .”

Haar werk neem haar na plekke waar nie juis toeriste kom nie. Met die stuk Truth in Translatio­n het hulle nie net Noord-ierland besoek nie, maar ook onder meer Sarajewo. ’n Deurgang van die wêreld, met Arabier, Turk, Indiër, Europeër . . . “Soos trifle, maar die dag ná Kersfees. Dit lyk effens verdag, maar proe net so lekker.”

Net op ’n Land Rover in die Karoo klim sy nooit weer nie. Op en af het hulle met die verfilming van Susters gery. Williston, tussen êrens en nêrens, winter, tweeuur in die oggend, minus-vier grade Celsius. Brrr . . . En hulle in somerskler­e, die tyd wat die storielyn afspeel. “My humorsin het goed te pas gekom, anders sou ons mekaar dalk wou vermoor!”

Sy hou daarvan om ’n draer van lig te wees. En daar is meer sulkes, as dié wat donkerte versprei. “Ek was jare lank in ’n slegte verhouding en kry toe die idee dat hy ’n bak batterysuu­r op sy rug ronddra. Oral drup hy spatsels suur wat sulke gate brand. As jy lig dra, kan jy egter maar baie daarvan uitgiet. Die beste manier? Dans net!”

* Susters is vanaf 30 Maart in fliekteate­rs landwyd te sien. ** Die tweede reeks van Sara se geheim word tans geskiet.

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa