Sarie

Tillia se blog

-

DAG 1

Ons stappers slaap vanaand alleen in die woestyn en moet voor sononder 13 km in dik sand aflê. So hard soos die woestyn is, so sag is daai sand. Ná 5 km, met ’n wind wat die branders se skuimvlokk­ies onder ons voete deurwaai, loop en sing ek vir my stapskoene The Weeknd-liedjie: “I can’t feel my face when I’m with you . . .”

Ons is uitgelewer aan die elemente met net ’n satellietf­oon by ons. Almal trek hul Buff’s oor hul ore en monde. Dis yskoud. Later slaan ons kamp op in weerstoest­ande wat my laat wonder oor my droom om tot by Everest se basiskamp te klim. Oral lê die spore van bruin hiënas. Dis vir my, wat spore ken, verrassend groot.

DAG 2

’n Uur van die kamp af kry ons die spoor van ’n bruin hiëna. ’n Bloedspoor. Druppels skarlaken vlek die sand van die waterkant af, die woestyn in. Volpunte vir dramatiese effekte in die Namib!

Die wind het gaan lê. In die verte doem die duine op en my mond hang behoorlik oop van verwonderi­ng. Moeilik om te dink daardie duine nestel feitlik teen die see. Kom jy op die verkeerde tyd daar aan, kan jy maar koffie maak. Jy gaan ’n halwe dag vir laaggety moet wag.

Ek sê weer: Dié sand loop “anders”. Jy voete sink daarin weg. Ons stap moeilik, maar teen namiddag het ons 21 km voltooi. Ons kamp daardie aand is deur hemelhoë duine omring.

Ek bad die eerste keer in ’n week [sedert die konvooi weggesprin­g het] met ’n plastiekem­mertjie. Tuis skep ek gewoonlik kokosneuto­lie hieruit. Ek giggel oor hoe kreatief jy in die woestyn met jou skoonheids­roetine moet wees. Môre gaan die 4x4-groep blykbaar ry dat die branders oor hul enjinkappe spat. Vandag, terwyl dolfyne in die branders langs ons spring, het ek opnuut respek vir die oseaan se krag gekry.

DAG 3

Die sand is hier en daar minder dik. Ek val my elke keer byna disnis as ek met my diksandtre­ë op ’n harde deel trap. Ek kan nie help om te dink aan Anette nie, wat die hele roete (en verder!) op haar eentjie geloop het. En ek was laas nag te bang om uit die kamp te stap vir ’n woestyn-piepie! Ek is nou moeg vir stap in dik sand – en môre lê die Dash nog voor.

DAG 4

Dis D-dag en die groep is donker al op. Mandy Minnaar, ’n sakevrou van die Weskus, rol van tweeuur af rond. Vas onder die indruk dis ’n uur later, maak sy die groepie halfvier wakker. Die koffiewate­r kook.

Jy het net jou voete nodig. Die res kan jy maar by die huis los, Mandy het als. Jy kan dag of nag by haar tent inloer en sy sal vra: “Wat’s fout, wat wil jy hê?” Sommer opvlieg en help. Só skryf Tillia.

“Klaar gepak, lê ek op my opblaasmat­rassie en wag vir die reuk van koffie. Weet Mandy sy maak almal ’n uur te vroeg wakker? Weet die Atlantiese Oseaan sy moet genadig wees as sy haarself oopvou en hooggety uitrol duine toe? Weet Elizabeth hoe dik die sand teen die einde gaan wees?” Dis Elizabeth, skoonheids­terapeut van Omaruru, se eerste staptog ooit. En: “Weet ek waar is my kopliggie?”

Later maak hulle ’n sirkel buite die kamp se ligkring vir ’n paar oomblikke se stilte. Elkeen met sy eie gedagtes en die see se geluid in hul ore. Dan begin hulle oor die duin afsak strand toe. In die sirkel van haar kopliggie sien Tillia die see lê soos ’n gladde meer langs hulle. Die seesand lyk hard genoeg, maar hulle sink nietemin byna enkeldiep daarin weg. Die eerste 5 km sleep verby en die son kom oor die duine op.

“Kon ek maar ’n tree iewers in die wêreld gee vir elke keer wat ek omdraai en ‘woooow!’ sê! Om ons is daar niks. En dis ongeloofli­k mooi. Ek smag na ’n koppie koffie, maar daar’s nie tyd nie. Dis die Dash dié. ’n Naelloop. Ek raak honger en swaai Camino-bekwaam my rugsak vorentoe. Haal ’n appel uit, smeer sonskerm aan, neem ’n foto van ’n seevoël – en trap in ’n brander wat aspris onder my inrol. My voete is nat. Slofnat. En nog 15 km van dik seesand lê voor.

“Ag nee, man. Dis 8:15 en stap is nou werk. Die duin langs my is geel en die see blougroen-gryserig. Die gladde meer van netnou het ’n woedende see geword, die branders mors met my. Jy stap 200 m op sagte dog kompakte seesand en hol dan 30 m duin se kant toe om van die kwaai water af weg te kom.

“9:10: Barbara [Willemse, ’n landbou-ekonoom van Noordwes] se pas is gemaklik. Sy ‘wow!’ steeds oor als. Altyd rustig en gemaklik, met daardie dansie wat sy met haar arms maak wanneer sy iets snaaks vertel. Ek wil eerder nou in [die Kaapstadse winkelsent­rum] Canal Walk wees. En ek háát winkels.

“9:11: Ek voel die bekende brandpyn van skaafplekk­e. Vermoed ek gaan blase op my voete hê. Dit sal die eerste keer wees in die langer as ’n dekade wat ek staproetes aanpak. (Jip, dit was toe só.)

“9:35: Hoekom het ek aangebied om Elizabeth se eetgoed te dra? Dit lyk soos ’n sak kos vir ’n Cliftonpap­egaai en weeg 14 kg.

“9:40: Elizabeth loop soos die meisie in die destydse Timoteiadv­ertensie – sy kort net ’n mandjie met varsgepluk­te blomme. Anette, eens majoor in die weermag, se duime is by haar rugsak se bande ingehaak. Sy kyk vorentoe en hóú by die moordende pas waarmee sy ons lei. Nou en dan draf sy terug om te kyk of ons volg. Antje

Dis asof die Skepper ’n namiddag wou afvat en toe vir hom sê: ‘Bou jy da gou ietsie? Ek’s nou terug!’

Tillia

[Janse van Vuuren van Pretoria, ’n lektor] wonder of ons nie maar moet skoene uittrek nie, maar gee nog aanmekaar dolgelukki­g haar kenmerkend­e laggie. Is ek die enigste een wat suffer? Ek het die Camino gestap, genugtig.

“10:00: Nog 5 km oor. Willanie Sadie, die dokter op ons tog, stap sowaar al weer kaalvoet in die vlakwater. Noudat ek daaraan dink, sy was byna die hele pad van die Kunene af kaalvoet . . . Van die ander volg haar voorbeeld en stap soms kniediep in die water verder. Ek’s agterna spyt ek het nie ook nie.

“Frans de Witt, ons gids van Yona Safaris, bel op die satellietf­oon. Hy ken die Angolese kus asof die Skepper ’n namiddag wou afvat en toe vir hom sê: ‘Bou jy da gou ietsie? Ek’s nou terug!’”

Hulle moet roer, sê hy vir die groep. Die bestuurder­s, veilig deur die Doodsakker, wag by die klipbank, maar die gety kom in. Die stappers kom om die laaste draai en laat weet, wag, hulle kan dit nog maak. Die branders gooi hulself nou verwoed teen die duine.

Knap voor elf sien hulle die voertuie in die verte en bestuurder­s wat arms swaai. Ita van Niekerk, een van hulle, skree oor die laaste honderd meter: “Julle moet máák!”

“Dis so ’n Chariots of Fireoombli­k. Barbara, Anette, Willanie, Antje en Mandy draf die voertuie tegemoet. Ek en Elizabeth so 43 sekondes agter hulle. Sy, want grasie is tweede natuur. Ek, omdat ek kastig na haar kyk. Haar eerste staptog, mos.

“Die voertuie luier reeds ongeduldig, die branders lek aan die wiele. Daar lê ’n koue bier op my sitplek. Ons het dit gemaak. Die eerste groep wat die Doodsakker te voet oorwin! Ek was lanklaas so gelukkig. Canal Walk se alie.”

Eers toe Tillia die erns sien in die oë van die drie bestuurder­s wat hulle kom oppik het, besef sy die hoogwater het byna gewen. Hulle jaag letterlik onder daai branders uit: Frans, Ita en Elsa Spiess. Die ander bestuurder­s, Annelie Swarts, Ilse Delport en Stefanie Hefer, wag hulle met groot glimlagte agter die naaste groot duin in.

Die vroue, vol adrenalien, wil nou gaan visvang. Die Angolese viswaters is immers groot hengelaars se lewensdroo­m. Vandag, belowe Tillia haarself, gooi sy daai sinker dat die katrol so fluit! Onder Frans se leiding vang Barbara haar eerste vis ooit. Ita trek ’n kolstert uit, gee dit ’n soen en gooi dit terug in die water. Te klein! Mandy sorg vir aandete met ’n groot kabeljou (72 cm en 5 kg). “Toe ek daai vis inkatrol, klop my hart duisend kilometer per uur.”

Van iewers steel musiek Tillia van die viswaters weg.

“Ek en Barbara staan en dans gate in die louwarm seesand. Beskut teen die wind agter die bakkie se deur waarin die luidspreke­rs dreun. Musiek, wind, seesproei. Ek vier die Doodsakker.”

Vandag dans Tillia op die Angolese kus – blase op haar voete en al. Want sy was lanklaas so verlief op die lewe.

Silent Steps pak in Julie vanjaar ’n soortgelyk­e uitdagende staptog in Namibië aan. Belangstel­lendes kan Anette kontak by 082 903 5445, anette@silensteps.co.za, of besoek www.silentstep­s.co.za, www.facebook.com/silentstep­ssa/

Tillia se blog: Facebook/mooiloop

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa