PLETT SE MOOI
MAAK HUIS SKOON
Ons ken Plettenbergbaai se Mungo Mill. Moderne ontwerpe wat deur plaaslike wewers op gerestoureerde ou weefmasjiene gemaak word. Dekens, handdoeke, sarongs . . . Ná jare van beplanning het hulle langs hul vlagskipwinkel ’n nuwe tuiste, ontwerp deur landskapkunstenaar en argitek Andrea Cristoforetti. Dis ’n groot stuk mooi! Houtpanele om ’n wandelgang herinner aan ’n weefraam en die kurwes aan voue in materiaal. Gaan kyk en kuier – en koop iets en ondersteun die plaaslike gemeenskap. Vir meer: www.mungo.co.za
Meer as 1 000 besittings van Liza Minnelli, wat beroemd geword het vir haar Oscar-bekroonde rol as nagklubsangeres Sally Bowles in Cabaret, gaan in Mei naby Los Angeles opgeveil word. Dit sluit in haar ikoniese swart bolhoedjie, stewels en halternek-top uit die fliek, en haar silwer 1971-Rolls-royce. In die versameling is ook unieke memorabilia van haar aktrise-ma, Judy Garland, en haar pa, regisseur Vincente Minnelli, soos Judy se groen boemelaar-hanswors-uitrusting wat sy vir ’n 1956-foto deur Richard Avedon gedra het. Liza het gesê sy wil haar lewe vereenvoudig en graag nou die dinge met haar aanhangers deel. Bron: The Guardian
PAJAMA-DRIL VIR PA
Op 47 het Jonathan Kaplan, bekende in internasionale rugbykringe, twee besluite geneem wat sy lewe vir altyd sou verander: Hy’t totsiens gesê vir sy loopbaan as professionele skeidsregter. En besluit om enkelpa te word met behulp van ’n surrogaat. is sy verhaal, van die bevrugtingsproses tot pajamadril met klein Kaleb. Dit word beskryf as ontroerend, openhartig en baie snaaks. Joanne Jowell, met ’n paar topverkoper-biografieë op haar kerfstok, is die skrywer.