Sarie

Nataniël sê . . .

-

Ek is tans in Frankryk vir ’n paar weke. Hier waar ek op die vyfde verdieping bly, kan ek vanuit die sitkamer tientalle dakkies en honderde vensters sien. Binne loopafstan­d, minder as vyf minute se loop, is ses blommewink­els, dit weet ek al vir jare, daar is ook vier bakkerye, drie groentemar­kte en ses meubelwink­els binne dieselfde afstand. Maar hierdie week het ek ander winkels begin tel, dié wat soetgoed verkoop. Dis tien minute se stap na die stadsplein en elke dag – met of sonder ’n doel – gebruik ek dieselfde roete daarheen en ’n ander, langer roete terug. Dis 25 minute te voet. En dis verby een-en-veertig (41!) kunstige, unieke, historiese, suksesvoll­e, onweerstaa­nbare klein besighede wat al dekades ’n bestaan maak uit die Franse se liefde vir soetgoed.

Elke sjef spesialise­er in iets anders, sjokolade, meringue, fyngebak, grootgebak, kleinkoeki­es, miniatuurp­oedings, macarons, galettes, handtertji­es, croissants met vulsels, crêpes, poffertjie­s, stapeltjie­s, balletjies in papier, mousse met regte goud, jellies met kroontjies, alles eetbare kunswerke. En elke dag stap ek iewers in. En elke dag eet ek iets uit hierdie tempels van suiker. En ek leef nog.

Suiker is nou die groot vyand, dit hoor ons, lees ons en sien ons op straat. En suiker is orals, dit spook en goël en verskyn onder verskillen­de name, dit kruip weg in verpakking­s en bottels en geregte waar dit nie hoort nie, dit bekruip ons uit alle rigtings en ons het geen weerstand. (Daar is diegene wat nie van soetgoed hou nie, hoofsaakli­k rokers en inwoners van Mars, maar hierdie geskrif is vir my medelyers, ons wat hou van koek en poeding en sjokolade en die gepaardgaa­nde rituele en tradisies en ’n volle maaltyd sal prysgee vir ’n sny tert.)

Suiker laat kos langer hou, dit laat kos beter smaak, dit laat allerhande goed in ons breine en lywe gebeur wat ons na nóg kos laat smag, dit is orals. In souse, blatjangs, konfyte en marinades sluimer die suiker, daarvan is ons wel bewus. Maar dis nou verskuil en vermom in vleisgereg­te, groentedis­se, bredies, brood, kraakbesku­itjies, korse en dinge wat nie as soetgoed bekend staan nie. ’n Volwasse vrou kan ongeveer ses teelepels suiker per dag hanteer voordat dinge behoorlik begin skeefloop, ’n man het genade tot by sy neënde teelepel, maar omdat geeneen besef dat hy reeds sy suikerkwot­a bereik het lank voordat hy uitreik na die poedingbak, loop dinge lelik skeef. Hoekom is daar dan nog mense in Frankryk oor? En hoekom is hulle maer? Twee feite: Hulle kook meestal self. (Boonop koop hulle organies en vars, geen monster kom steek suiker weg waar dit nie hoort nie.) En hulle porsies is klein. (Hulle glo teen die derde hap is dit gewoonte, jy proe niks.)

Wat gaan óns doen? Ons moet al daai bakkies voorafgema­akte, gemaklike, “gesonderig­e” geregte omdraai en die waarheid lees. Vind die suiker onder een van sy skuilname. Ons moet self kook, kospakkies werk toe vat, moenie dat ’n deli-broodjie jou verlei met sy kropslaai nie, die sonde lê veel dieper. Voor jy ’n koekie hap, sit eers die res weg. Moenie aansit by ’n tafel met bakke kos in die middel nie, só ’n tafel het al geslagte vermoor. En lig die glas versigtig: sap, koeldrank, alkohol, alles is belaai met suiker.

Daar is mense wat soetgoed kan eet sonder kommer of gevolge, hulle is feë, ligte wesens vol elegansie, geheime en geluk. Hulle inspireer en verstom. Hulle is die beskermers van weelde. Die res van ons moet ly tot die dag dat ons waarhede aanvaar, kennis aanhang en luiheid opoffer.

Ek het lank gesukkel met my gewig, myself kasty, raad gevra, hulp gesoek, geen sukses. Uiteindeli­k het ek ophou drink, my aktiwiteit­e vermeerder en my porsies verminder. Met donkersjok­olade, vrugte, neute, kaneel en vanielje word ek elke dag slimmer. Die suiker sal gaan, die soet sal bly, die plesier is geweldig, die smaak meevoerend.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa