Jong man skryf wendrama in ure by kerslig
Dis net ’n wonderwerk dat hy is waar hy is, sê Chase Rhys Downes, skrywer van Kinnes, wat nou by die KKNK te sien is. Dié toneelstuk oor bendegeweld op die Kaapse Vlakte is ook sý storie . . .
Twaalfuur voor die spertyd – in kerslig – het hy begin skryf, kruisbeen op sy bed in Ocean View in die Kaapse SuidSkiereiland. Daar waarheen bruin mense destyds deur die apartheidsregering verskuif is uit Simonstad, Kalkbaai en Noordhoek.
“As daar nie krag is nie, gebruik jy die kers, maar skryf moes ek skryf,” sê die 28-jarige dramaturg en akteur Chase Rhys Downes. “Ek het tóé die eerste keer van die Adam en Rosalie Small-wedstryd vir debuutskrywers gehoor.” Maar alles het saamgewerk – en Chase is einde verlede jaar as die eerste wenner van dié prys, wat in samewerking met Distell toegeken word, vir sy toneelstuk Kinnes aangewys.
Die stuk, met Lee-ann van Rooi en Dean J Smith in die hoofrolle, het in Maart by die US Woordfees op Stellenbosch gedebuteer en is ook by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees* op Oudtshoorn te sien.
“Ek móés Kinnes in Afrikááps, wat onse mense praat, vir ‘ kinders’ skryf, om die kinders wat hul lewens in bendegeweld verloor het, te eer. Dit was regtig die eerste keer dat ek wóú skryf,” vertel dié jong man met die sagte bruin oë, neusring en blou vingernaels.
En hy het. In stilte, op ’n skootrekenaar met ’n stukkende skerm, waarna hy dit op ’n slimfoon geredigeer het. Hy handig dit toe ’n kwartier voor die spertyd in.
Hy was stomgeslaan toe regisseur Hennie van Greunen, wat op die beoordelaarspaneel was, hom laat weet hy het gewen. “Ek dog hy gaan sê dit is so messy, hoe durf ek my eerste draft instuur. Maar toe dink Hennie dis in dieselfde klas as die skryfwerk van Nathan Trantraal, imagine.”
Om betyds te wees vir ons onderhoud om tienuur die oggend in die Kompanjiestuin het Chase al halfsewe op die trein gespring. Hy eet nou sy Engelse ontbyt met méning.
Hy kan steeds nie glo hy het die R10 000 gewen en dat Hennie hom twee maande lank gementor het nie. Om ’n toekenning te wen wat genoem is na een van dié grootste Struggle-skrywers, was ’n reuse-voorreg, vertel hy. Met sy wengeld het hy ’n lessenaar en ’n behoorlike stoel aangeskaf. “Jou lyf raak seer as jy heeldag op die bed skryf.” Sedertdien het Distell ook vir hom ’n nuwe rekenaarskerm gegee. Sy mentorskap by Hennie het hom voorberei op die bedryf. Hy het hom selfvertroue geleer. “Ek weet nou ek kan skryf.”
Chase is op ’n goeie emosionele plek. “Ses jaar lank was ek blue, baie depressed. Ná my diploma in drama aan die Universiteit van Kaapstad moes ek gaan niksdoen in Ocean View om myself te vind. As ek nie daai swaarkry beleef het nie, kon ek nie vandag shine nie.”
’n Ruk lank ná universiteit wou hy nét in sy gemeenskap bly. Hy was te kwaad vir al die vergrype van apartheid wat hy nog om hom gesien het. “Ek het gevoel daar sal altyd ongelykheid wees. Maar soos ek meer gemediteer en begin navorsing doen het oor die politiek en my Khoi-oorsprong, het ek insig gekry. Dit is asof ek meer vryelik kon asemhaal.
“Nou neem ek mense uit op die berg – wit, swart, gekleurd. As ons in die natuur stap, is almal gelyk. Ons fokus op die hede en vergeet van die verlede en die toekoms. Ons raak van die ‘geraas’ ontslae. Eers dan leer jy die wonder van stilte ken. Dit is helend.” Hy nooi my dadelik uit.
Dis net ’n wonderwerk dat hy is waar hy is, reken Chase. Hy het dwelms, woede en wanhoop in 2016 gegroet . . . “As iemand ’n jaar gelede voorspel het ek gaan die toekenning [in November 2017] losslaan, sou ek gelag het. Ek sou nie gereed gewees het vir die aandag nie.” Nou word sy roman, Kinnes, gegrond op sy toneelstuk, in Oktober deur Kwela uitgegee. En hy het idees vir ’n televisiereeks.
“Ek wil ook handboeke vir skoolkinders skryf om hulle lief te maak vir lees. Hulle is geïntimideer deur die boeke wat op die oomblik vir hulle voorgeskryf word. Ek was ook. Ek wil in Afrikaaps skryf en ek wil karakters inbring waarmee die