Sarie

Unieke klubs, groot vriende

Bonsai tot Elvis Presley . . . Gedeelde belangstel­lings kan lei tot verrykende vriendskap­pe tussen mense wie se paaie andersins dalk nooit sou kruis nie

- DEUR MARGUERITE VAN WYK

‘Groot vriendskap­pe word om klein boompies gesmee’ Willem Pretorius, voorsitter van die SA Bonsai-vereniging en Boland Bonsai Kai-tak

“Die takke van bonsai sprei wyd. In die skaduwee daarvan sit tuinvriend­e, akademici, plantjagte­rs en keramiekku­nstenaars wat pragtige potte verskaf waarin ons bome pryk. Ons is ’n internasio­nale broederska­p wat dieselfde belangstel­ling deel. ’n Liefde vir bonsai.”

Aan die woord is Willem Pretorius, ’n afgetrede joernalis en skrywer van Somerset-wes. Hy is die afgelope vier jaar voorsitter van die SA Bonsaivere­niging, met 700 lede en 22 klubs. “Die verdeling tussen mans en vroue is 50/50 en ouderdomme wissel van tieners tot 80-jariges.”

Willem se liefde vir groenighei­d loop diep. Hy is ook die voorsitter van die Vriende van die Botaniese Tuin, ’n organisasi­e van vrywillige­rs wat die belange van die Botaniese Tuin op Stellenbos­ch bevorder en bemark.

Hy glo hy sou “brandarm” wees sonder bonsai en die Botaniese Tuin. “Met bonsai voel jy asof jy aan iets groters as jouself werk en vir die nageslag iets blywends nalaat.”

Willem het sy eerste bonsai-kursus in 1993 gevolg toe hy politieke joernalis in die parlement was. In 1996 het hy ’n boompie met hom saamgeneem toe hy oor die Waarheid-en-versoening­skommissie verslag gedoen het vir die dagblad Beeld. Want hy het besef hy sou ’n teenpool nodig hê om die emosionele uitputting van elke dag te balanseer.

Oor hoe stimuleren­d en verrykend bonsai – ’n Japanse kunsvorm wat letterlik beteken “om in ’n houer te plant” – is, kan hy nie uitgepraat raak nie. In 2011 het hy ’n prys gewen van die Crespi Universite­it van Bonsai in Milaan, Italië. As deel van sy prys kon hy ’n uur lank onder ’n vyeboom sit wat toe 1 001 jaar oud was, vertel hy ademloos. Sulke gebeurteni­sse bly hom by, want jy kan dit nie met al die geld ter wêreld koop nie.

’n Vriend van hom, ds. Johan Morkel, ook verbonde aan die Boland Bonsai Kai-tak, sê hy geniet “bonsaiers” omdat hulle ’n gedeelde belangstel­ling het. “Ons is almal lief vir die natuur, onopgesmuk, nie snobisties of materialis­ties nie. As dit nie vir bonsai was nie, sou my en Willem se pad nie sommer gekruis het nie.” Die wonder van miniatuurb­oompies is dat almal “vreugde vind in die ‘natuur’ wat jy in jou hand vashou en waarmee julle mekaar kan help om beter te doen”.

Lenka Rossouw, ma van drie van die Strand en ook ’n goeie vriendin van Willem, werk as vrywillige­r by die Botaniese Tuin op Stellenbos­ch en is dol op dié kunsvorm. “Ná ’n bonsaisame­koms stap ek altyd met hope kennis weg. My vriende vra gewoonlik daarna: ‘ Wat het jy gerook?’ want ek is op ’n totale high. Dit is die ideale ontvlugtin­g en ek is baie dankbaar dat ek anderhalf jaar gelede met die stokperdji­e begin het. ’n Huisvrou kan soms nogal vasgevang raak in die sleur van haar dagtaak. Maar ek het al die wonderliks­te mense leer ken.”

Toe ’n maat van een van haar kinders onlangs oorlede is, het sy dit terapeutie­s gevind in die natuur terwyl sy aan haar bonsai-boompies snoei. Waar sy ’n konneksie maak met haar Skepper. “Ek voel altyd tuis tussen bonsai-mense. Hulle sou dalk nie in die normale wel en wee oor my pad gekom het nie, maar wat ’n bonus om hulle te kon leer ken. Dit is ’n wêreldwye netwerk en daar is altyd nuwe en bekende gesigte by byeenkomst­e. Interessan­te, platop-die-aarde mense. Van hulle het tot al naweke saam met ons gesin gaan kamp,” vertel Lenka. En soms drink sy in die week koffie saam met haar bonsai-vriende.

By vergaderin­gs is daar dikwels oorsese sprekers, of ’n skou van allerlei bonsai-boompies en werksessie­s waar nuwe tegnieke gewys word. Dikwels vind kompetisie­s tussen die verskillen­de streke plaas. Wenners dring deur tot nasionale kragmeting­s.

Johan reken ’n mens deel so baie van jou lief en leed in só ’n klub dat almal soos familie raak. “Ek dink ook ons groei nader aan mekaar omdat die fokus nie op die individu is nie. Jy werk met ’n onvoltooid­e kunswerk. Die boompie is nooit afgehandel nie, en ontlok altyd verdere bespreking. Daar is nie ‘reg’ of ‘ verkeerd’ nie. Mense gee bloot hul opinies. Jy leer hulle dus dieper ken omdat hulle hul opinies gee,” meen hy. Willem voeg daarby die woorde van die groot bonsai-meester van Amerika, John Yoshio Naka: “Die bonsai het ’n begin, maar nie ’n einde nie. Dis soos om vir die einde van die reënboog te soek. >

< Hoe verder die soektog, hoe verder is dit op die horison. Die duif van vrede vlieg van die paleis na die nederigste huis, na jonk en oud, na ryk en arm. Só vlieg die gees van bonsai.”

Dit is wat Willem bekoor – mense wat bereid is om te “vlieg” en hulself oop te stel. “Ek is mal oor siele wat hulle nie laat vasvang in die tronk van alledaagse beuselagti­ghede nie en die lewe se volheid geniet – mense wat goeie geselskap waardeer. Ons smee groot vriendskap­pe oor klein boompies – dit het diep wortels. En nes bonsai word vriendskap­pe mooi gevoed en groei dit oor jare.”

Dit lei ook tot hegte internasio­nale vriendskap­pe. “Ek was al twee keer op bonsai-toere na Japan en China, en op ’n boomjag in Namibië. Rotse, genoem suiseki, is ook ’n groot onderafdel­ing van bonsai en dit is baie lekker om saam met ander na wonderlike rotse te gaan soek. Oorsee is daar rotskykver­enigings en ek hoop dit gaan hier ook ontwikkel.”

Willem glo nog altyd in die waarde van sielskonne­ksies en dat gemeenskap­like belangstel­lings dít vergemakli­k. “In die vroeë negentigs, toe ek nog Beeld se kunsredakt­eur was, het ek ’n kunsfliekk­lub in Rosebank, Johannesbu­rg, begin. Dit was baie gewild onder lesers. Ek het ook al aan ’n eetklub behoort wat weekliks vergader het. Mans moes elke keer iets nuuts kook, nuwe wyn bring en ’n nuwe grap vertel. Ons was uiteenlope­nde mense, soos Johan Badenhorst van die televisie-reisprogra­m Voetspore, regsgeleer­des, kunstenaar­s. Nou is ek lid van die Vroueboekk­lub-vir-mans – mans wat in voeling is met hul vroulike en manlike kant! – wat al 18 jaar lank maandeliks vergader en ernstig kosmaak en boeke bespreek. Dis manne wat in wyd uiteenlope­nde velde voor loop en so wyd lees dat dit soms jou asem wegslaan.”

Om pêlle in klubs te maak – sielskonne­ksies – rondom bonsai, of flieks, tot kos en boeke, is immers sy ding.

‘Ons lag en ondersteun mekaar onvoorwaar­delik’ Chris Botha, vryskut- grafiese kunstenaar en lid van die Elvis Presley-klub

Dra julle katpakke en swart pruike as julle saamkuier? Dit is die vraag wat mense vir Chris Botha vra as sy vertel sy is lid van die Elvis Presley-klub in Bellville.

Chris, van Kenilworth in Kaapstad, lag lekker. Die “smeulende, heupswaaie­nde rocker met sy sensuele kykers” het reeds op twaalf haar hart verower – tot haar ouers se afgryse. “Elvis is doerietyd as duiwelskin­d beskou.” Maar sy reken hy was uniek. “Hy het alle musiek-genres gedek – van ballades, rock, semi-operas, blues, country en gospel. Min ander sangers was so veelsydig.” Vandag, 60 jaar later,

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa