Midde-ooste, Ooste bied nuwe kans vir SA jonges
Nie lank gelede nie het ons jongmense nog na Westerse wêreldstede soos Londen gestroom vir #avontuur en om bietjie geld bymekaar te maak. Nou is dit die Ooste en Midde-ooste
Moenieverbaas wees as jy kinders in die Ooste en Midde-ooste met ’n Afrikaanse aksent hoor praat nie.
“Ja-ja,” gooi hulle so tussendeur hul gesels.
Want soos wafferse ontdekkingsreisigers ruk Suid-afrikaanse jonges (en nie sulke jonges) op na die lande van die Arabiese Nagte, Lawrence van Arabië en Marco Polo. Meestal om die plaaslike inwoners Engels, die lingua franca van die globale ekonomie, te leer. Met antieke kulture lynreg teengesteld aan ons s’n, maar bruisende ekonomieë, wink werkgeleenthede én
#avontuur. Die sogenaamde “Doebaigenerasie”.
In China tel die ekonomie kop op ná baie jare onder die kommunistiese juk. En waar daar met Mao Zedong se Kulturele Revolusie nie vinnig genoeg ontslae geraak kon word van als wat Westers is nie, gebeur die teenoorgestelde nou. (Lees Wynand Olivier se storie op bl. 48.) In die Midde-ooste is daar weer stinkryk woestyn-ekonomieë en geld vloei soos uhm . . . olie.
Nie so lank gelede nie was groot Westerse stede die trekpleister. Op soek na nuwe ervarings voor jy die verantwoordelikhede van die grootmenslewe aanpak. En om in die proses geld te verdien vir groot uitgawes soos ’n motor, dalk om studieskuld af te betaal. Nou is plekke soos Londen peperduur en werk skaars. Brittanje se werkvakansie-visum wat verval het, speel ook ’n rol. Daarmee kon jy tot twee jaar in Brittanje reis en werk. Nuwe plekke het dus op #avontuur
lustiges se radar verskyn, sê Irene Toerien, bedryfsbestuurder van Sa-recruitment, wat gekwalifiseerde >
< onderwysers werf vir die MiddeOoste en China. Ook mense wat onderrig in Engels in ’n informele nieskool-omgewing gee, is in aanvraag.
Suid-afrikaanse onderwysers in byvoorbeeld die Verenigde Arabiese Emirate ( VAE) kry uitstekende vergoedingspakkette. Dit sluit in belastingvrye salarisse, gratis blyplek, vlugte en mediese dekking. Daar is wel sprake dat Suid-afrikaners moontlik in die nabye toekoms in SA op dié vergoeding belas gaan word. Dié wat in China klas gee, betaal wel belasting daar, maar die salarisse is steeds aantreklik, volgens Irene.
Bennie Fourie, akteur, skrywer en regisseur, het sowat vier jaar gelede twee jaar in Suid-korea skoolgehou: In die stad Jinju by ’n laerskool en in Ulsan by ’n kleuterskool. “Nie net kon ek my studieskuld afbetaal nie, ek het ook ’n deposito vir ’n kar gespaar en baie gereis.”
Sanet Boshoff het in 2015 by ’n taalsentrum in Linhai in die Zhejiangprovinsie, China, gaan werk. “In Suid-afrikaanse terme is dit ’n groot stad, maar vir China ’n plattelandse dorpie. Jy werk hard by so ’n taalsentrum, vir min geld en geen vakansie nie. Maar dis ervaring en jy kry maklik werk. Jy leer Engels vir mense van alle ouderdomme, party kinders van net vier jaar oud.
“Ek is tans by ’n private internasionale kleuterskool in Hangzhou, Zhejiang. Dis ’n pragtige stad, met groot parke. Hier is talle SuidAfrikaners en selfs ’n Suid-afrikaanse Wechat-groep.”
Elke streek het sy eie uitdagings, reken Irene. Die meeste Suid-afrikaners voel waarskynlik gemakliker in die MiddeOoste as China. Dalk omdat dit soveel kleiner is, is die kans beter dat jy in ander buitelanders vasloop.
By haar aankoms in China het dit vir Sanet inderdaad soos ’n ander planeet gevoel. Hul gewoontes, bygelowe en idees oor die lewe, gesondheid en werk was (binne haar verwysingsraamwerk) vréémd. “Linhai se inwoners is nie juis gewoond aan buitelanders nie en omdat ek lank (1,82 m) met blou oë is, was ek ’n rariteit. Hulle het my aangestaar, sommige het geskrik, feitlik almal het foto’s geneem en ’n vrou het eenkeer in die supermark my arm gestreel. Sy het seker nog nooit so baie armhare en sproete gesien nie!”
Bennie vertel hoe vreemd en alleen hy aanvanklik in Jinju was. Dis ’n klein stad, byna meer soos ’n dorp, in die suide van Korea en jy verstaan uiteraard nie hul taal nie. “My kos-fiemies was egter die grootste aanpassing. Ek het byvoorbeeld nie juis groente geëet nie, maar gou besef ek gaan als móét eet. En hul kos só begin geniet dat ek dit nou crave. My ma se lewe sou makliker gewees het as ek jare gelede al in Korea was.”
Jy “raap” klein goedjies op en maak dit sonder dink jou eie, sê Wynand Olivier. Nie ’n yskoue glas water vir die Chinese nie, nee, hulle drink dit warm. “Ek het dit aangeleer. Veral wanneer ek siekerig voel, drink ek louwarm water. En ja, ek los my skoene by die voordeur as ek die huis instap. Ook wanneer ek met vakansie is in Suid-afrika.”
Die Suid-afrikaners bring hul kultuur saam na die vreemde land met braaidae en sokkiekonserte tot die verkoop van melkterte. Laasgenoemde op die oog af gewild veral in die Midde-ooste, sê Irene.
Quintin Oosthuizen is reeds sedert 2003 in Taiwan en gee tans Engels by ’n private skool. Hy verkoop ook boereen droëwors en biltong. “Dis meestal buitelanders wat belangstel. Maar ons begin ook aan Taiwannese verkoop en verduidelik hoe dit gebraai word. Ook hoe jy pap en sous maak.” Die plaaslike inwoners is mal oor “glamping”. Want oral is elektrisiteit en kampplekke is luuks, 4- en 5-ster.
Volgens Irene kom die meeste van dié “Marco Polo’s” huis toe nadat hul kontrak verstryk het (twee jaar vir onderwysers en ’n jaar as jy informeel Engels gee). Jy keer terug met waardevolle lewenservarings, ’n nuwe uitkyk op die lewe en jou eie drome en begeertes.
Deidré Schoeman, wat in Doebai was, sê: “Jy raak moeg van koop [waarvoor dié plek bekend is] en wil huis toe, verlang na ons inheemse kulture, om ’n spazawinkel te sien! Ons Suid-afrikaners is uniek, al baklei ons ook baie onder mekaar. Die heel beste was toe ek by die Oliver Tambolughawe uitstap en ’n straatverkoper met lekkergoed sien. Ek kon haar druk, dit was die mooiste gesig. ‘I missed you,’ sê ek toe sommer spontaan.” (Lees haar storie op bl. 47.)
Linhai se inwoners het my aangestaar, sommige het geskrik . . . Sanet Boshoff
‘Die begrotings slaan jou asem weg’ Deidré Schoeman het okkasies in Doebai gereël
Deidré Schoeman is in 2004 Doebai toe met die idee dat sy opvoerings soos vrolike pantomimes gaan doen. Sy en haar twee vriende, Jacques Bessenger en Pieter Jacobs, is akteurs en wou ervaring in dié veld in die vreemde land opdoen, en reis.
Eers dáár besef hulle toe hulle werk vir ’n maatskappy wat geleenthede reël: van spanbousessies vir maatskappye tot kinderpartytjies. Dit sou haar oraloor die Verenigde Arabiese Emirate ( VAE) neem, ’n federasie van sewe emirate in die Midde-ooste. Soms was daar tot drie okkasies per dag, soos ’n worsmasjien. Sy was drie maande daar, in 2007 weer drie maande en so ook in 2008.
Die begrotings daarvoor slaan jou asem weg. Veral vir ’n platsak meisiekind wat spaar vir ’n skootrekenaar! Sjeik Mohammed bin Rashied al-maktoem, die eerste minister van die VAE, se dogtertjie wou vir haar agtste verjaardag ’n prinsespartytjie hê. Daarvoor is ’n kasteel so groot soos ’n rugbyveld gebou. Skoenlappers moes van wie weet waar ingevoer word.
Die vroue en kinders is mal oor boeresport: vroteier, eier in die lepel, sakresies. En die wenner kry sommer ’n Sony Playstation as prys!
“Hulle is baie gasvry. As jy ’n geleentheid in ’n huis reël, loop jy nie sonder om lekker te eet nie. Die huise is baie deftig, als nuut gebou en modern. En sodra daar nie meer ’n man in sig is nie, gooi daai vroue hul boerkas af. Dis dan Gucci van kop tot tone, net labels waar jy kyk. Dan wil hulle sakresies hol.”
Deidré het nie gevoel daar word in Doebai teenoor haar as vrou gediskrimineer nie. In Aboe Dhabi (die grootste emiraat) sou sy liefs ’n langmoutop aantrek, die arbeiders het haar aangestaar. In Karama, die voorstad in Doebai waar sy tydens haar tweede besoek gewoon het, kon sy egter snags eenuur kafee toe gaan. “Vroue het daar (byna) gelyke regte. Tog sien jy wel boerkas oral op straat, ja, jy weet jy’s in ’n Moslem-land.”
‘Net beton en sand’ Trudi Maree het swemlesse in Katar gegee
Verlede jaar het Trudi Maree vir ’n proeftydperk van drie maande as afrigter by ’n swemklub in Doha, Katar (ook deel van die VAE), gewerk. Daarna is sy ’n pos in Aboe Dhabi aangebied, maar sy het dit nie aanvaar nie.
Trudi, wat tans by die swemklub van die Laerskool Jan Celliers in Johannesburg betrokke is, vertel dit was ’n aaklige ervaring. In 2012 het sy Suid-afrika by die Olimpiese Spele in Londen in die 50 m-vryslag vir vroue verteenwoordig. As kampioenswemmer was sy gewoond aan reis in die buiteland.
By die Amerikaanse klub in Doha wou die hoofafrigter, ’n Serwiër, ’n Westerse vrou in die pos hê. Sy is aangestel en die ander afrigters (onder meer van Tunisië en Egipte) was haar daarom nie goedgesind nie. Die hoofafrigter was boonop humeurig en het die kinders afgebreek eerder as om hulle te inspireer.
As Westerse vrou het sy ook ongemaklik gevoel. Sy is só deur plaaslike mans in die gimnasium lastig geval dat sy later ’n silikoon-trouring moes dra. Dis baie warm, jy is papnat gesweet die oomblik dat jy uit die stort kom. Vroue met die allesomhullende boerka (los kledingstuk wat jou van jou kroontjie tot jou toontjie bedek) is algemeen. Jy kan nie ’n winkelsentrum besoek in ’n kortbroek en T-hemp nie. Die sekuriteitsmense kan jou versoek om meer klere te gaan aantrek. “Later het ek jeans gedra en myself besimpeld gesweet. Buite is daar niks behalwe sand en beton nie. Dis ’n anderster hitte, dit slaan ook van onder af op.
“Katar is ’n kultuurskok vir baie mense, nie net vir my nie. Dis konserwatief, nie heeltemal so erg soos Saoedi-arabië nie, maar beslis minder ‘oop’ as Doebai. Ek het ’n vriendin wat al ’n paar jaar in Doebai werk en dit geniet. Jy kan byvoorbeeld daar klubs besoek. In Katar kan jy net inkopies doen.” >