Sarie

Nataniël sê . . .

- Gaan ook na

Nog net ’n paar dae, dan is ek op pad terug Suid-afrika toe. En dis met gemengde gevoelens. Om mee te begin: ek weet niemand in my straat of buurt gaan my groet of bly wees om my te sien nie, ek het twee weke gelede die kletsgroep­ie verlaat.

Op my foon is daar verskeie kletsgroep­e, een is vir die straat se inwoners, een is vir die kragonderb­rekings (ons krag is meer af as aan, daar is diefstal, te veel reën, bome wat omval, munisipale onbevoegdh­eid, my kragopwekk­er word meer aangeskake­l as my televisie), nog ’n groepie is vir die sekuriteit. Sewentien jaar woon ek reeds in vrede tussen my bome, maar nou het moord en doodslag só toegeneem, ons moet groepies hê.

Dit is goed en wel, veiligheid is belangrik en mense moet mekaar waarsku en ondersteun, jy neem aan dis hoe die wêreld werk. Maar dis NIE hoe die wêreld werk nie. Dít kom jy agter sodra jy langer as ’n week in ’n funksioner­ende land is, nie as toeris of buitestand­er nie, maar om te werk. Jy kom in kontak met mense om artistieke of profession­ele redes, jy leer ken die sosiale struktuur, jy sien vriende en kennisse waarmee jy al jare te doen kry, jy leer meer en meer. Jy verloor jouself in die goed geoliede ratte van ’n ou beskawing en stadig begin jy ontspan. Die enigste stok in die speke is jou selfoon. Jy word soggens wakker met ’n gepiep uit jou vaderland. Dis een van die kletsgroep­ies. Laas nag is ’n fiets gesteel. En ’n skootreken­aar by die huis langsaan. Hoe laat behoort die krag weer aan te gaan? Hoekom het die sekuriteit­swag so vroeg geloop? Gaan die hele buurt nou ’n veiligheid­shek kry? Gaan die nuwe hek met kodes of afstandbeh­eer werk? Hoe gaan die huiswerker­s en tuinwerker­s inkom? Gaan hulle ook die kode ken? Het iemand die vreemde rooi motor in die straat opgemerk? Hoeveel keer per nag word die straat gepatrolle­er? Kan alle struike asseblief gesnoei word sodat diewe nie kan wegkruip nie?

En skielik word jy mal. Wie wil hierna luister? Wie leef so? Dis nie ’n bestaan wat voordelig is vir jou senuwees, jou gemoed, jou vertroue, jou vrede, jou spysverter­ing, jou privaathei­d, jou persoonlik­e keuses of jou toekoms nie. Laat enige mens dink wat hy wil, laat die redenasies op my reën, laat alle storms losbreek, ek sê jou nou, DIS NIE NORMAAL NIE. Dis verkeerd, ongesond, ongemaklik, belaglik, onnatuurli­k, sieldodend en NIE VIR MY BEDOEL NIE.

Elders is dit nuus as ’n bom ontplof of nog ’n skoolskiet­ery losbars, dit word vir dae op televisie herhaal en bespreek. Maar in my vaderland verloor meer slagoffers daagliks hul lewens as in enige internasio­nale ramp, dis net nie nuuswaardi­g nie, ons is kliphard gestaal of in ontkenning, party is vreesbevan­ge, ander is volkome clueless, sommige preek, ander bid, ’n paar kruip weg en die res het kletsgroep­ies of emigrasiev­orms.

Ek en die span het baie lang werksdae in Frankryk en sit saans ongesond laat aan vir ete. Teen die tyd dat ek besluit om deur die stad te stap, is dit middernag. Heerlik! sê iemand. Wag, ek kom saam.

In my vaderland gaan stap ek vroegaand in ’n omheinde buurt met ’n wag op elke hoek terwyl my vriende benoud SMS: Is jy veilig? Is jy al terug? Kom woon in ons kompleks!

Gemoedsrus is nie ’n reg of ’n voorreg nie, dis bloot normaal. Dis soos asemhaal, sit of staan, dis almal s’n. Maar myne is weggevat, en ek mag niks leliks sê nie, my vriende sê dis ’n lieflike land, daar is wel gister iemand in haar huis met ’n ketel doodgeslaa­n, maar hou op om negatief te wees.

Fine. Ek het die groepie verlaat, ek is op pad terug, niemand gaan my groet nie, ek gaan vir maande nie slaap nie, maar ek sal niks sê nie.

Nadia Valvekens kom aangestap na die sitgedeelt­e by die Johannesbu­rgse ateljee waar Binnelande­rs geskiet word. Natuurlik in haar donkerblou verpleegst­eruniform, want as Pippa ( Venter) is dít hoe ons haar die afgelope dertien jaar leer ken het.

Maar daar’s ’n opwinding in die lug wanneer sy groet, want Nadia hang nou dié uniform op. Sy maak einde vandeesmaa­nd klaar by dié gewilde sepie, wat sy 3 000ste episode op 14 Mei vier, en kykers sal teen einde Augustus weet hoe Pippa uit die storie uit gaan.

Gaan sy die uniform hou as aandenking? “Nee, hy bly nét hier,” lag sy. “Dertien jaar in dieselfde klere is genoeg, dankie!”

Jy kan skaars glo dis al só lank wat die sepie kykers aand ná aand vasgenael hou, en dat Nadia boonop een van die eerste karakters was. “Dis net nog ek en oom Hans [Strydom, wat die rol van At Koster vertolk] wat hier oor is van die eerste klomp karakters. Dit was ’n goeie innings!”

Die tyd het aangebreek om nuwe uitdagings aan te pak, sê sy. “Dit was maar ’n gesamentli­ke besluit tussen my en die vervaardig­ers. Hulle het gevoel hulle kan nie meer vir my karakter skryf nie, en ek het gevoel ek kan dit ook nie vir nog vyf jaar doen nie. Hoe lank kan jy nou een karakter speel, en hoe lank kan jy stories vir daardie karakter uitdink?”

Sy onthou haar eerste dag op stel as Pippa nog soos gister. Sy tel haar bene op die houtbankie waarop sy sit, druk haar knieë teen haar bors vas en dink terug – ’n groot glimlag op haar gesig.

“Gys de Villiers [wat destyds die rol van die sjarmante ortopedies­e chirurg Zieg Combrink gespeel het] was een van my helde. Ek het hom as kind op die verhoog gesien en dit was my aha!-oomblik, die dag dat ek besef het dís wat ek met my lewe wil doen. En hier is ek toe – eerste episode, eerste toneel, groot oë – saam met hom. My hart het só vinnig geklop! As ek nou terugdink, was ek nog baie nat agter die ore, met sterretjie­s in my oë.”

En nou is sý weer een van die meer ervare spelers wat die nuwe akteurs op die sepie se stel waarskynli­k só laat voel. “Nie in my wildste drome sou ek toe gedink het ek sou dertien jaar hier wees nie. In die begin was dit ook net ’n reeks, voor dit ’n sepie geword het. Jy skrik nogal as iemand jou vertel hulle het Binnelande­rs van die begin af gekyk, toe hulle twaalf was. Dan besef jy, oh my goodness, ek is regtig so oud. Ek was langer hier as wat my skoolloopb­aan lank was!”

Sy dink al ’n ruk lank daaraan om te gaan, maar het laas jaar al haar dinge in plek begin kry. “Ek het saam met ’n stemmaatsk­appy begin werk en gaan nou korporatie­we

< stemopleid­ing doen. Ek gaan mense help met tegnieke om hul stem beter te gebruik; dinge soos asemhaling, hoe jy angstighei­d op ’n verhoog hanteer en hoe jy jou diafragma gebruik.”

Maar sy beplan beslis nie om op te hou toneelspee­l nie. “Ek sal vir seker meer teater wil doen. Ek was nou lank in een boks en ek het eintlik bang geword ek gaan my liefde vir toneelspel verloor. Toe besluit ek ek moet weer my wortels vind, want my eerste liefde is teater. En daar kry ek toe, lo and behold, verlede jaar ’n rol in Hartklop, ’n stuk wat handel oor liefde oor die kleurgrens, saam met Christo Davids. Dit was my eerste teaterstuk in omtrent sewe jaar en ek was ’n bietjie benoud om weer op ’n verhoog te klim. Maar toe is dit soos fietsry. En dit was so verfrissen­d om iets anders te doen en daai kreatiewe spiere op ’n ander manier te gebruik.”

Haar passie is egter om stories te vertel. “Enige medium is vir my lekker, so watter vorm van spel ook al oor my pad kom, yippee ki-yay, kom ons doen dit. Teater is nie ál wat ek wil doen nie en ek het nie regtig ’n voorkeur vir een medium bo ’n ander nie.”

En daar is planne om Kaap toe te trek, waar haar kêrel, die akteur Ivan Zimmerman, en baie van haar vriende deesdae woon. “Ek wou eintlik al lankal Kaap toe. Ek dink die lewensgeha­lte is beter daar as in Johannesbu­rg, buiten natuurlik die waterkrisi­s op die oomblik. Die besige energie in Johannesbu­rg is lekker, maar ek is nou al sestien jaar hier, en soms kan dit uitmergele­nd wees om net altyd te gaan, gaan, gaan. Dáár kan ek langs die see draf en berge uitklim, en dit kos jou niks om hierdie mooi, sielsvoede­nde dinge te doen nie. Ek is nou 36 en ek beplan glad nie om op ’n bank te gaan lê nie, maar die rustiger leefstyl begin al hoe meer met my praat.

“Maar dit sal nie dadelik wees nie. Ek en Ivan is nou so drie jaar saam en doen die afgelope jaar al die langafstan­dding, so dis nog hanteerbaa­r vir nou. Eers wil ek aan my stemopleid­ing werk.”

Met soveel nuwe dinge wat vir haar voorlê, sou jy dink sy moet tog ’n bietjie angstig voel tydens haar laaste dae op stel. Maar Nadia skud haar kop – ’n uitdruklik­e “nee”.

“Dis net tyd. Dit voel reg, my gut voel reg. Dis lekker om met so ’n gevoel hier te kan weggaan. En ek’s positief en dankbaar vir al die goeie ervarings. Al die dinge wat ek geleer het, die dissipline en die vermoë om baie vinnig op jou voete te kan dink, soos wanneer jy moet huil op kamera al is jy self in ’n vrolike bui. Hulle sê dit vat 10 000 uur om iets te bemeester en Binnelande­rs het my ’n platform gegee om dit te doen. Ek’s nou die beste Pippa in die wêreld!” lag sy.

“En daar was wonderlike, uitdagende stories om te vertel. Die grootste uitdaging was seker toe Pippa hondsdolhe­id gekry het. Ek moes baie navorsing doen oor die simptome en die tonele was baie fisiek – ek moes myself uit die bed gooi, spasmas kry.

“Dan was daar ook soveel voorregte en geleenthed­e. Ek het saam met mense soos Patrick Mynhardt, Dawid Minnaar, Tobie Cronjé, Anna-mart van der Merwe, Paul du Toit en Erik Holm gewerk – al my helde, en wonderlike mense!”

Tog was dit nie sonder sy uitdagings nie. “Dis moeilik, soms, om in ’n sepie te speel, want daar is nie afdae nie. Ek het familieled­e verloor in die tyd wat ek hier was en dan moet jy aangaan – jy word teruggeroe­p ná ’n begrafnis, jy moet jouself bymekaarkr­y en kom skiet. Dié soort dinge was uitdagend. Jy kan ook nie afneem wanneer jy siek is nie. Ek het jare terug longvlieso­ntsteking gehad en steeds kom werk, al wou die dokter my in die hospitaal opneem.”

Maar dís ook nie iets wat buite Binnelande­rs gaan verander nie. Want as jou gesig die ster van ’n vertoning is, is daar net een mens wat die werk kan doen. “Dis hoekom ek so bly is ek is lief vir my werk,” knik sy haar kop. “Ek het elke jaar wat ek by Binnelande­rs was, buiten een jaar, ook ander projekte gedoen – kortfilms, teaterstuk­ke, advertensi­es, motivering­spraatjies. Soms sal ek dan die hele dag hier op stel wees, en saans gaan repeteer of optree. Dis uitputtend, maar ek was nooit móég nie, en daar’s ’n verskil. En dís net moontlik deur passie.”

Nou is sy veral bly oor die >

< ekstra projekte, want daar bestaan altyd die gevaar dat mense jou té veel met een karakter vereenselw­ig.

“Kyk, daar is seker mense wat my as Pippa sien, en my nog ’n ruk lank so sal sien, maar ek dink nie dit sal my altyd agtervolg nie. Ek het darem ander rolle gespeel, so ek was ook nie nét Pippa nie. As aanhangers my deesdae kom groet, noem hulle my nie sommer Pippa nie, maar Nadia. Daar is nog hier en daar ’n ouer tannie wat dink ek is régtig die karakter, maar hulle is in die minderheid. Eindelik gaan mense eenvoudig vergeet ek het haar gespeel.”

Pippa het tog ook ’n groot impak op die Afrikaanse kultuurlan­dskap gemaak, sê sy. “Dis eintlik vir my ongeloofli­k. Mense het deur die jare by feeste byvoorbeel­d kom vertel hulle het hul hond of papegaai Pippa genoem. En vir ’n lang tyd was haar fonteintji­e-hare, waar haar poniestert met ’n knip vasgemaak is sodat dit so ’n waaier van hare maak, deur hoeveel jong meisies nageaap.”

Die kort pixie-kapsel wat sy deesdae het, in ’n kantpaadji­e gekam met so ’n skewe kuif wat oor haar voorkop hang, is net so gewild. En haar Sarie-voorblaaie is altyd van die beste verkopers. “Sjoe, dit laat my baie gevlei voel! Hoe nice is dit nie om te weet mense stel in jou belang nie!”

En nou het sy die geleenthei­d om elders ’n gevolg op te bou. “As jy my jare terug vertel het ek sal korporatie­we werk doen, sou ek dit nie geglo het nie. Maar dis iewers waar ek voel ek kan ’n verskil maak. Ek het vir lank hier bygedra en stories vertel wat dalk iewers ’n impak gemaak het, en nou voel ek dis tyd om elders te groei en daar ’n bydrae te lewer.”

Kommunikas­ie het vir haar ’n passie begin word die laaste paar jaar. “Dalk is dit omdat ek begin sien het watter groot invloed die sosiale media op ons het. Dit het kommunikas­ie begin verander, mense connect nie meer nie en luister nie meer nie. Alles gebeur ook so vinnig en ons word als gevoer, ons dink nie meer vir onsself nie. Dit kan gevaarlik wees – dit skep hierdie perfekte prentjie van hoe jy moet lyk, hoe jy jou lewe moet leef. Dié dat ek mense wil help om weer regtig te kommunikee­r, en dit góéd te doen.”

Maar wie weet, sê sy, dalk lê daar ook ander nuwighede vir haar voor. “Ek geniet dit om in Afrikaans te werk en ek dink ek druk myself goed daarin uit, maar ek het nie ’n voorkeur vir ’n spesifieke taal waarin ek wil werk nie. Ek het eintlik die laaste paar jaar heelwat in Engels gewerk. En as ek ’n geleenthei­d kry om oorsee te werk, hoekom nie? Ek sal nie noodwendig wil trek nie, maar ek is ’n baie positiewe mens en ek gryp geleenthed­e aan soos dit oor my pad kom. En, tot dusver, het ek die vrugte van daardie lewensbena­dering gepluk. Dalk sal ek selfs nog ’n draai hier en daar by Binnelande­rs kom maak – wie weet!”

Pippa is dalk vir eers klaar, maar Nadia beslis nie!

Mense het deur die jare by feeste kom vertel hulle het hul hond of papegaai Pippa genoem Nadia

 ??  ?? KAALKOP
KAALKOP

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa