Sarie

Redakteurs­brief

-

Net wanneer jy dink die wêreld wentel in malligheid sonder einde, staan ’n splinternu­we seisoen voor ons deur. Herfs, loshande my gunsteling! Jy gaan my nie oortuig dat dit ’n sommer-net-tussenin seisoen is nie – iets tussen lig en donker. Nee, dis die natuur se grande finale, sê ek. ’n Tyd om die lang, strawwe somer af te sluit en winter met groot fanfare binne te nooi. Herfs is towertyd wanneer bome ontplof in kleur en blare in die laatson byna deursigtig gloei en smeul. Die hemelruim is net mooier; die tempo stadiger. Herfs is in die lug, jy voel dit aan jou lyf.

Herfsmense sal jou vertel die oomblik dat lente en somer se groen wyk voor die intense rooi, oranje, geel en bruin van dié spesiale seisoen, gebeur iets. Droë blare wat tuine en sypaadjies soos ’n tapyt bedek en onder jou voete kraak, verander iets. Dis asof die drama van die seisoensve­randering ons so ’n bietjie skud. En die kenners stem saam.

Genade. Rustigheid. Bepeinsing. Dís wat herfs met haar saambring. Met elke blaar wat grond toe sweef, vee ons ’n stukkie swarigheid van ons skouers af. Jy voel net aan dis tyd om skoon te maak. Die aandag op elke dag se veranderen­de mooi fokus die brein om nie te veg of te vlug nie (die toestand waarin ons byna konstant verkeer in ons stresgelaa­ide wêreld), maar die oomblik bloot te geniet. Weer bewus te wees van ons omgewing. En weer te onthou en nostalgies te raak oor hoe herfs tóé was. Toe ons klein was, jonger was.

Kyk maar na vandag se Pinterest-borde. Volgelinge raak begeesterd oor herfs. Soos dit deur die jare filosowe, liedjieskr­ywers en digters geïnspiree­r het. Ons eie N.P. van Wyk Louw besing die seisoen en hoop vir ’n nuwe, beter begin in sy gedig “Vroegherfs”: Die jaar word ryp in goue akkerblare, in wingerd wat verbruin . . .

Om die Kanadese fall te ervaar met esdoringbo­me en wingerde wat in die herfs ’n gedaanteve­rwisseling ondergaan, was vir ewig op my emmerskopl­ys. ’n Paar jaar gelede het ek dit reggekry. Vir ’n week het ek in Toronto langs die Ontario-meer gebly; toe die trein gehaal na die Niagara-waterval. Vanuit my hotelvenst­er was dit elke dag ’n nuwe prentjie. Tussen mis, wolke en sagte son het herfskleur­e die landskap telkens verskillen­d geskilder. Op die trein kon ek sien hoe herfs die landskap behoorlik “aan die brand” steek.

Dis seker hoe die siklusse van ons lewe ook werk. Elke seisoen bring sy uitdagings, sy mooi en sy genade. Kyk maar wat sê ’n handvol SuidAfrika­ners (Emo, Diaan, Rolanda, Martelize, ons eie Fanie en meer) wat vanjaar die mylpaal-ouderdom van 40 bereik: Nou begin die lewe éérs. Alles tot nou was net navorsing.

Oor herfs wil ek min of meer dieselfde sê: Nou begin die jaar éérs. Alles tot nou was net ’n oefenlopie.

Tot ons weer gesels wanneer ons spesiale Junie-uitgawe vanaf 21 Mei op die rak is. Van die voorblad tot die agterblad is ’n bietjie van ’n verrassing.

En ja, dit is ’n winteruitg­awe, maar selfs ek wat ’n herfsmens is, moet erken winter kan tegelyk snoesig, stylvol en sjarmant wees.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa