Sarie

Akteur Gideon Lombard: ‘Nuuskierig­heid dryf my’

Die reuk van appels het gehore geboei en vir akteur Gideon Lombard ’n gesogte Fleur du Cap- en Fiëstatoek­enning besorg. Maar dis nie waar dié wêreldburg­er se talente eindig nie

- DEUR LIANI JANSEN VAN RENSBURG

Jy skiet deur die dag aan Suidooster vir jou rol as Stefan Gerber. Daarna repeteer jy of speel in ’n toneelstuk. En jy moet nog jou woorde leer vir die volgende dag. Hoe behou jy belans? Ek is ’n volslae workaholic. Ek geniet wat ek doen, dit voel nie altyd soos werk nie. Soveel energie soos dit uit my tap, soveel energie en genot put ek daaruit. Maar met goed soos slaap kom jy agter dat balans wel nodig is. En vriendskap­pe . . . daar’s baie van my dierbare vriende wat ek lanklaas gesien het as gevolg van werk. Wat dryf jou? Nuuskierig­heid. Jy’s in Namibië gebore. Mis jy ooit dié land? Ek’s daar gebore, maar het oraloor grootgewor­d. My ouers is akademici en ons het byna elke twee jaar getrek. Baie van my laer- en hoërskoolj­are het ek in Amerika of Europa deurgebrin­g. Ons het byvoorbeel­d vir ’n jaar iewers heen getrek en dan vir twee jaar weer in Namibië gaan bly. Op een of ander manier is dit nog huis, maar ek het in 2003 laas daar gewoon. Ek het skool in Amerika klaargemaa­k en toe Kaap toe getrek. Jy kan enige historiese figuur vir koffie ontmoet. Wie sou dit wees? Miles Davis, die trompetspe­ler. Hy het homself tydens sy loopbaan vier keer reinvent. Hy’s my gunsteling-musikant en kon meer sê met drie note as baie musikante met 300. Wat sou jy hom vra? Ek sou wou weet wat vir hom aan die einde van sy lewe belangrik was. Wat wou hy nog doen? En dan sou ek hom vra om sy stuk “So What” te speel. Jy’s musikaal en mal oor jazz. Hoe het toneelspel in die prentjie gekom? Ek het ’n jaar lank jazz in Amerika studeer, maar nooit klaargemaa­k nie. Toe kom ek Kaap toe en pak ’n graad in Engels en filosofie aan die Universite­it van Kaapstad aan. Ek het nog een vak nodig gehad om die pakket te vul, toe kies ek drama. Die gogga het my gebyt en in 2008 het ek ’n oudisie by die dramadepar­tement afgelê. Toe is ek van voor af ’n eerstejaar. Het jy in ’n kunssinnig­e huis grootgewor­d? My ma het ’n bietjie klavier gespeel. Sy het vir my pa ’n kitaar gekoop vir sy een verjaardag, maar hy het dit nooit gespeel nie. Die ding het lank daar gestaan, en toe ek 11 was, het ek leer speel. Maar daar was altyd klassieke musiek in die huis. My ouers was wonderlik, hulle het ons na galerye, die teater en opera geneem om by ons nuuskierig­heid oor kuns en die lewe te kweek. Vir die solostuk Die reuk van appels het jy ’n Fiësta- en ’n Fleur du Cap-toekenning ontvang. Hoekom dink jy is dié storie, gegrond op Mark Behr se 1993-boek, steeds relevant? Dit het ’n universele aanklank. Dis ’n kind wat dit vertel en op een vlak hunker jy na jou eie kinderjare en onskuld. Dan is daar ook die Grensoorlo­g en die onskuld wat jong mans verloor het – gesprekke wat nog nie eintlik gevoer is nie. Daardie hele generasie is aangesê om dit te onderdruk, nie daaroor te praat nie. Dus het die land vandag ’n crisis of masculinit­y. Soveel te meer ’n rede om die play te doen. Hoe meer ons dit onderdruk, hoe meer skade word gedoen. Watter kleintyd-herinnerin­g koester jy? Toe ek drie jaar oud was, het ons vir ’n jaar in Poughkeeps­ie, ’n klein dorpie noord van New York, gewoon. Ek en my ma het op ’n bed gesit en by die venster uitgekyk. Dit was net ná winter en die sneeu het nog van die groot groen bome geval. Ek het vir haar ’n song gesing: Trees, trees, trees, trees. Sonder enige vaste melodie of ritme. Daar was iets moois en onskuldigs daaraan. In 2017 het jy besluit om oor jou stryd met dwelms en drank te praat. Hoekom? Ek het destyds ’n paar vriende in ’n soortgelyk­e posisie gehad, hulle het gely onder die skuldgevoe­l, gedink hulle mag nie daaroor praat nie. En ek het gedink as ons nie daaroor kan praat nie, as ons die vermoë verloor om te kommunikee­r, al is dit oor die donkerste en seerste goed, dan is ons regtig in die moeilikhei­d. ’n Mens moet kan praat daaroor, om die shame te probeer wegneem.

Dit beteken nie ek het deur al die goed gewerk nie. Dis ’n aanhoudend­e proses. Daar is goeie dae en slegte dae. Ek is al byna nege jaar skoon, en party dae gaan dit horrible.

Dis belangrik om dit te erken, want dis deel van my. En ek het ook daardie deel lief, want ek het dit leer ken. As jy een ding vir jou jonger self kon sê? Wees ’n bietjie meer lief vir jouself, veral as dit moeilik gaan.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa