Trump, Poetin & kie: Mag kán tot breinskade lei, wys nuwe studies
Nuwe studies wys mag kan breinskade veroorsaak – en jou impulsief, irrasioneel en minder empaties maak. Dalk stof tot nadenke vir bekende sakelui en politici wat oënskynlik hiermee sukkel . . . SARIE.COM
MarkusJooste, Jacob Zuma, Donald Trump, Wladimir Poetin, die Guptas . . . Wat het hulle gemeen?
Mag. ’n Man (en vrou) kan gemeet word aan wat hy doen met mag, het die Griekse filosoof Plato gesê. En die geskiedenis het al gewys mag kan na jou kop gaan. Nou dui navorsing daarop mag kan ook breinskade veroorsaak. Dit is omdat mag mense meer impulsief kan maak, minder bewus van risiko, selfs minder empaties – omdat hulle hulself moeilik in ’n ander se skoene kan sit. Die navorsing, deur sielkundeprofessor Dacher Keltner aan die Universiteit van Kalifornië, Berkeley, is oor twee dekades gedoen.
Retha Alberts, ’n Suid-afrikaanse sakekonsultant en leierskapsafrigter wat internasionaal werk, sê magsdronkheid ontstaan in die brein. “Dit is ’n neurologiese proses wat direk jou denke en gedrag beïnvloed. Iemand wat magsdronk is, is narsisties en selfgesentreerd, met weinig self-insig. Hy is dikwels manipulerend en misbruik ander fisiek, emosioneel en geldelik. Hulle is ook uiters koppig, gee oordrewe en onvanpaste komplimente, of is die ewige martelaar.”
Die toonaangewende Amerikaanse joernaal The Atlantic sê as mag ’n voorskrif-medisyne was, sou dit teen vele neweeffekte gewaarsku het. Dit sluit in: bedwelming, die vermoë om jou te korrupteer en te laat glo jy is ’n seksuele dinamo (soos die voormalige buitelandse sekretaris van Amerika Henry Kissinger glo van homself geglo het).
Nie net Keltner het onthutsende bevindings oor mag gemaak nie. Prof. Sukhvinder Obhi, neurowetenskaplike aan die Mcmaster-universiteit in Kanada, het die brein self bestudeer en bevind mag beïnvloed ’n spesifieke breinproses, genaamd spieëling – die hoeksteen van empatie. >
< Spieëling is wanneer ons lag of hartseer is saam met ander en ons dus hul emosies “ons eie” maak. ’n Mens met mag verloor dikwels hierdie vermoë, terwyl dit in die eerste plek een van die sleuteleienskappe was wat jou in staat gestel het om mense se vertroue te wen om in ’n magsposisie aangestel te word. Obhi noem dit die mag-paradoks.
Retha verduidelik dat iemand wat magsbehep is, dikwels ly aan die sogenaamde “hubris-sindroom”. Dit beteken onder meer die persoon kan ander nie reg lees nie, het nie respek vir ander nie, verloor insig in die werklikheid, tree roekeloos op, toon gedrag wat as onbekwaam beskou word vir die taak waarvoor hy verantwoordelik is, en so iemand word deur geld gedryf.
Soos Zuma se uittrede, oorheers Steinhoff en Markus Jooste (in wat alom beskryf word as die grootste finansiële skandaal nog in Suid-afrika en een wat die land se sakeprofiel internasionaal erg benadeel het) tans ons nuus. Oor die eertydse miljardêr Jooste het ’n vorige werknemer gesê hy kon selfs die mees hardgebakte bestuurslid in trane laat uitbars.
Donald Trump word deur die Amerikaanse sielkundige en skrywer Harper West beskryf as ’n verleentheid vir die Verenigde State, die magtigste land ter wêreld. Soos ’n stout kind wend hy hom daagliks tot geniepsige twiets wat hom dikwels in die pekel laat beland (waaroor hy nie omgee nie). Sy narsistiese behoefte om sy brose ego te beskerm lei daartoe dat hy deurgaans ander mense beskuldig en nie self verantwoordelikheid vir sy swak gedrag neem nie. Hy het byvoorbeeld Russiese agente toegelaat om digitaal toegang tot Amerika se sake te kry om die Amerikaanse presidentsverkiesing twee jaar gelede in sy guns te swaai. Is dit die gedrag van ’n ware leier? Dit bewys dat sy emosionele intelligensie, karakter en morele keuses bedenklik is.
Volgens Retha speel magsbeheptes graag die martelaar en Zuma is ’n goeie voorbeeld. Dink maar aan sy woorde in die laaste ure van sy presidentskap: “Ek weet nie wat ek verkeerd gedoen het en waarvan ek beskuldig word nie.”
Woorde wat deur die Gupta-familie, vermeende staatskapers wat glo miljarde landuit geneem het, ge-eggo word.
Retha voeg by: “Navorsers aan die Columbia-sakeskool het bevind dat magtige mense groter risiko’s neem wat moontlik beter finansiële resultate sal oplewer. Hulle is ook geneig om groter kanse met dobbelspeletjies soos blackjack of onveilige seks te neem. Hulle tree dus impulsief op.”
Switserse navorsers aan die Universiteit van Lausanne het ook bevind mag kan dieselfde uitwerking op die brein hê as die dwelm kokaïen – dit kan testosteroonvlakke, wat dikwels aggressie aanwakker, verhoog. Dít lei weer tot verhoogde dopamienafskeiding (’n goedvoelhormoon), wat op sy beurt hoogs verslawend kan wees. En dít kan weer arrogansie en ongeduld veroorsaak.
Een van die eksperimente wat vir dié projek gedoen is, was met leiers wat ’n pot geld tussen hulself en hul volgelinge moes verdeel. Hoe magtiger en hoe meer volgelinge hulle gehad het, hoe meer geneig was hulle om antisosiale besluite te neem en die geld ongelyk te verdeel, het prof. John Antonakis, die projekleier, bevind. Sy uitsluitsel: “Mag korrupteer.”
Retha sê: “Uit ondervinding weet ek daar is ’n direkte verband tussen mense met swak ontwikkelde emosionele intelligensie en magsbeheptheid. Magsdronk bestuurders se grootste motivering is selfgesentreerd – dit gaan suiwer oor eiebelang en onbegrensde ambisie.
“In die sakewêreld kan jy ’n magsdronk leier ook uitken in ’n kultuur waar mense hom blindelings navolg, ook bekend as die Messias-tipe leierskap. Die ‘onderdane’ versterk in werklikheid die magsdronk baas deur hom nooit te bevraagteken of teë te gaan nie. Hulle toon dikwels ’n naïewe heldeverering en glo die magsbehepte baas ‘ loop op water’ en maak nooit ’n fout nie. Hoe meer die ‘onderdane’ die ‘ baas’ op ’n voetstuk plaas, hoe meer buit hy sy mag uit . . .”
Kaapstad se burgemeester, Patricia de Lille, is ook al daarvan beskuldig dat sy “te veel” mag het. Die topjoernalis Ferial Haffajee skryf in Huffington Post dat Patricia te veel in haar eie handelsmerk begin glo het – eerder as dat sy haar mense gedien het.
Die wetenskapskrywer Geoffrey James meen die menslike brein en DNS is nie aanmekaar gesit om mag oor groot groepe mense uit te oefen nie. Dit is volgens hom eerder “optimaal doeltreffend” vir samewerking in klein groepe.
Iemand wat magsdronk is, is narsisties en selfgesentreerd, met weinig self-insig Retha Alberts, leierskapsafrigter
Magtige vroue is net so geneig soos magtige mans om affairs te hê
Dit klink dalk vreemd dat eksterne faktore die brein kan beïnvloed, maar die menslike brein is bekend vir sy plastisiteit, of vormbaarheid, en nuwe breinpatrone word konstant gevorm as gevolg van gebeure in die mens se lewe, skryf James.
Oor die breinskade wat magsbehepte mense volgens Keltner se navorsing opdoen, sê James dat die omvang van die skade en gevolglike bisarre gedragspatrone verhoog as magtige mense hulself omring met “gatkruipers” en aanbidders.
Magsbeheptheid kan soms deurgetrek word na die sportwêreld – waar die grootste sterre dikwels aanbid en verhef word. Dink maar aan die Amerikaanse voetbalspeler OJ Simpson, die fietsryer Lance Armstrong en wyle krieketkaptein Hansie Cronjé.
Prof. Ankebé Kruger van die Skool vir Menslike Bewegingswetenskappe aan die Noordwes-universiteit, Potchefstroom, sê navorsing bewys telkens “mag gaan na mense se koppe”. Baie mense wat mag het, vat nie net wat hulle wil hê omdat hulle reken hulle sal nie gestraf word nie, maar ook omdat hulle dink hulle is geregtig daarop. Jy wonder dikwels of dit nie ook ’n rol speel by die ondergang van sommige internasionale sportsterre nie, sê sy. “Maar daar is nooit net één oorsaak vir ’n situasie nie,” maan Kruger.
Volgens ’n artikel in Huffington Post reken baie Amerikaners OJ Simpson se fisieke en sosiale mag het moontlik daartoe bygedra dat hy vrygespreek is van die moord in 1994 op sy vrou, Nicole Brown Simpson.
Sportlui het deesdae dikwels meer mag as politici. As hulle praat, luister die wêreld. Nadat daar bekend gemaak is dat hy al jare lank sportopkikkers gebruik, het die fietsrykampioen Lance Armstrong en sy steunwerwers nog hul bes gedoen om die VSA se amptelike agentskap teen middelmisbruik in sport te oortuig om lojaal aan hom te bly.
Magtige mense is ook meer geneig om hul maat te verkul, volgens ’n studie in 2011 aan die Tilburg-universiteit in Nederland. En dit geld nie net mans nie. Dr. Joris Lammers en sy span het onder meer bevind dat magtige vroue net so geneig is soos magtige mans om affairs te hê (“Psychological Effects of Power” – Business Insider).
Magsbehepte gedrag kan met moeite verander word, hoofsaaklik omdat dié wat koning kraai, dikwels nie eens bewus is van hoe hard hulle kraai nie.
Ouers moet dus sensitief wees om kinders nie oormatig te prys en met ’n sin van selfvoldaanheid groot te maak nie, sê Retha. “Kinders moet grense geleer word en nie ’n sin van eiegeregtigheid ( entitlement) nie. Help hulle om nederig te bly deur interaksie met minder bevoorregte kinders.
“Of vra iemand om jou gereeld ’n bietjie terug te bring aarde toe en te laat dink oor jou gedrag sodat jy perspektief kan kry. Die Britse staatsman Winston Churchill se vrou het gereeld vir hom briewe geskryf om hom tot besinning te roep as hy tekens getoon het dat hy sy mag sou oorskry,” volgens Retha.
Indra Nooyi, uitvoerende hoof van Pepsico, vertel kort ná haar aanstelling in die direksie het haar ma haar die aand toe sy by die huis kom, aarde toe gebring met dié woorde: “Los jou ‘ kroon’ in die garage – ons het melk nodig, gaan koop dit.”
Retha raai aan dat jy kollegas se eerlike terugvoering moet glo oor “blinde kolle” in jou gedrag – net soos evaluasies oor leiers by die werk dikwels vir dié doel aangewend word.
Sy dink dis ook ’n goeie plan om na dokumentêre programme oor gewone mense te kyk en ’n gewoonte daarvan te maak om kliënte se briewe aan jou maatskappy te lees.
Die heel belangrikste ding is om te onthou dat mag enigiemand kan laat kantel.