My 180°-skuif!
In haar ‘vorige lewe’ was Elsabé van der Sijde se dae intens, met adrenalien gevul. Maar toe beland sy in ’n land wat die kuns van ‘rustig wees’ vervolmaak het
Methaar los krulhare, jeans en donsbaadjie lyk Elsabé van der Sijde soos enige jong huisvrou wat by ’n stalletjie op ’n groentemark in Genua talm. Hier pols sy die verkoper in gebroke Italiaans oor wie die eiervrug-boer is en watter soort insekdoder hy gebruik.
Maar as iemand ’n jaar terug in Johannesburg vir haar gesê het sy sou omgee oor waar haar eiervrug (of enige kos) vandaan kom, sou jy haar “met ’n veer kon omtik”. Sy het gelééf op koffie, Woolies-wegneemkos en adrenalien.
In jou geestesoog sien jy sommer die res van dié destydse “prentjie” wat Elsabé per e-pos uit Italië skets: skouerlengte gestileerde bob, klein swart rokkie en wit knopieshemp (sy het “meer klein swart rokkies as wat jy kan tel en seker tien eenderse wit knopieshemde” gehad), altyd in hoëhakke, aan die hardloop.
Elke dag was intens, stimulerend . . . ’n werkplek waar die hoogtepunte baie hoog was, en die laagtepunte soms baie laag gevoel het . . . beskryf Elsabé die wêreld waaraan sy in haar “vorige lewe” as regtersklerk by die Konstitusionele Hof in Braamfontein gewoond was.
“Ek het die kantoor byna nooit in daglig verlaat nie, saans het ek werk huis toe gevat en my dagboek was tot barstens toe vol.” Sy was mal oor die rush om aan hofsake te werk “wat iets beteken en saak maak”, vertel sy.
Maar toe verander haar lewe handomkeer. Deesdae bevind sy haar in die antieke hawestad Genua, in die noorde van Italië, waar die Italianers graag praat van “dolce far niente” – die behaaglikheid van niksdoen. ’n Kopskuif vir iemand wat haarself as “hiperpligsgetrou en hipergedrewe” beskryf. Sy was die toppresteerder onder die meestersgraadregstudente by Tuks en het haar doktorsgraad (aan Stellenbosch) net twee maande ná haar 26ste verjaardag verwerf.
Elsabé (28) en haar man, Giovanni Milandri (36), ’n navorser in biomediese ingenieurswese, het in September verlede jaar na Genua verhuis toe hy sy droompos gekry het: om robotiese eksoskelette en ledemate te ontwerp en ontwikkel. >
< Vir Giovanni was dit ’n kans wat jy net een maal in ’n leeftyd kry, vertel Elsabé. Sy pa se familie het kort ná die Tweede Wêreldoorlog uit Italië na SuidAfrika gekom, en hy wou nog altyd sy familie en kultuur beter leer ken.
Die twee pasgetroudes se besluit om vir drie jaar daarheen te verhuis, was ’n saak van lang besprekings en baie gebed.
“Dit was moeilik om weg te stap van my beroep en my paadjie wat duideliker was in Suid-afrika. Maar ek was ook uitgeput, ek het werksaanbiedings gehad van ’n paar groot regsfirmas, en ek was oorweldig oor waarheen volgende. Uiteindelik het die #avontuur en onvoorspelbaarheid tot my gespreek. Dit was ’n treetjie-virtreetjie-proses, totdat daar eintlik nie meer omdraaikans was nie. Om te sê ek het geen idee gehad waarvoor ek my inlaat nie, is omtrent ’n understatement!”
Die twee het in Genua aangekom met ’n tas vol van hul “nodigste” dinge – in haar geval al haar liefling-jeans en ’n loodswaar gietysterpot – ten spyte van Giovanni se (heel logiese) opmerking dat sy byna nooit kosmaak nie. “Ek was heeltemal irrasioneel – die pot moes saam! Dit klink simpel, maar dis aanvanklik bitter swaar om al jou goed weg te gee of te verkoop en dit wat sentimenteel is te stoor. Dit het ’n ruk gevat om te besef hoe bevrydend dit is om dit agter te laat en met minder reg te kom.”
Vir iemand wat gewoond was daaraan om halfvyf op te staan, was die roetine in Genua nogal iets om aan gewoond te raak.
“Ek is dikwels soggens negeuur die eerste klant by die supermark terwyl hulle gaap-gaap oopsluit! Baie winkels maak eers halftien oop en sluit weer rondom twaalfuur vir tussen een en drie uur. Daarna werk hulle weer tot seweuur. Dan geniet hulle eers ‘aperitivo’ – allerlei happies saam met ’n drankie – met aandete eers nege- of tienuur,” vertel sy.
Haar dae is aansienlik minder gestruktureer as in Suid-afrika. Soggens brou sy en Giovanni regte koffie in hul mokapotjie en kuier rustig saam voor hy werk toe gaan. Sy gaan stap dalk op die promenade, gaan stamp koppe met die plaaslike burokrasie (daar is altyd iets!) of sit op die naaste piazza en stuur e-posse. (Die eienaar roep nou al, “Elisabet, come, come, it is time for caffè”, as sy die dag net verbystap.) Sy neem twee keer per week Italiaanse lesse. En sy skuif elke dag agter haar lessenaar in om navorsing te doen en op hoogte van regsontwikkelinge te bly.
“Ek is gelukkig dat van my vorige professors by die Universiteit Stellenbosch my as ’n soort navorsingsgenoot tegemoet kom met institusionele ondersteuning terwyl ek in Italië bly. My man ondersteun ook my beroepsideale. Ons het vooraf begroot dat ek byvoorbeeld nog konferensies kan bywoon of referate lewer, en hy daag my voortdurend uit om steeds by te dra tot die regsberoep.”
Natuurlik is daar tye wat sy gefrustreerd voel. Met die taal, die kultuur, die vreemdheid, die verlange. En ja, sy het al honderd keer gedink: wat het my besiel? Maar spyt was sy nog nooit. “Ek leer elke dag iets nuuts oor myself, hoe ek dink en uitdagings aanpak, en dieselfde geld vir my man en ons verhouding. Dis miskien minder van ’n intellektuele uitdaging, maar dit daag my op ’n ander manier uit. Ek dink ek het oor die jare dalk van my lewensvaardighede ’n bietjie afgeskeep. Ek was byvoorbeeld baie ingestel op ‘ uitkomste’, ek moes iets wys vir my tyd. Noudat my lewe soveel rustiger is, besef ek dat ‘doen’ en ‘ wees’ nie dieselfde ding is nie. Dis goed vir my om net ’n bietjie mens te wees. Voorheen sou ek myself uitbrand deur te gaan werk, al was ek siek. Ek is baie meer ingestel op my gesondheid. Ek het ook meer tyd om vir ander om te gee, tyd vir die mense na aan my.”
Genua, ’n taamlik klein stad maar propvol geskiedenis, was vir hulle ’n aangename verrassing. Dis een van die oudste hawestede in Europa en die binnestad is ’n Wêrelderfenisgebied. “Die straatjies is so nou, as ek my arms uitsteek, kan ek aan die mure weerskante van my raak. Dis soos ’n doolhof. Dit het my maande geneem om my rigting te vind!”
Die bekende Cinque Terre, vyf eeue-oue kusdorpies, is 90 minute per trein weg. As inwoner sien sy ook baie dinge wat jy nooit as toeris sou beleef nie. “Genua se inwoners sê dat hulle baie skatte het, maar hulle deel dit nie graag nie en dus hou hulle hul monde dig . . .” Daar is byvoorbeeld ’n klooster in een van die berge aan die kuslyn wat slegs per boot besoek kan word, byna heeltemal afgesny van die wêreld. Een van haar gunstelingplekke is ’n restaurantjie wat jy bereik met ’n “funicolare” (’n spoorkarretjie), met ’n pragtige uitsig op die stad. “Die spyskaart word elke dag sommer deur die sjef geskryf en gefotostateer, met
Ek leer elke dag iets nuuts oor myself, hoe ek dink en uitdagings aanpak Elsabé
al die plaaslike spesialiteite, soos lekker seekos en pesto. Ek verbeel my nou al dat ek die goeie pesto van die nabootsings kan uitken!”
Self probeer sy ook nuwe geregte maak. “Almal eet seisoenaal en tans is dit nog artisjok-tyd. Ek het nou al ses maniere geleer om dit te berei – met wisselende sukses.”
Sondae besoek hulle ’n piepklein Anglikaanse kerk. “Dis ’n vreemde groepie bymekaar, maar baie spesiaal.” In die winter benut hulle die geleentheid vir kuns en kultuur, en reis soveel moontlik. Hulle was al in Nice, Rome, Bologna, het gaan ski in die noorde van Italië en beplan wegbreke na Pisa, Florence en Griekeland.
Giovanni se pa se tuisdorp, Ravenna, is sowat vier uur per trein weg. ’n Verbasend belangrike feit, aangesien Italië ’n sterk familiekultuur het. “Ons word gereeld gevra waar sy familie vandaan kom en of ons hulle darem gereeld besoek.”
Met die eerste kuier was sy maar senuweeagtig. “My Italiaans sukkel nog. Maar die ooms en tannies praat lustig voort, en maak net dringender handbewegings as hulle voel ek behoort darem nou iets te sê. Ek het gewoonlik aan die einde van elke ete ’n hoofpyn en maagpyn soos wat ek probeer konsentreer. Of dalk is die maagpyn van lekker eet. Jy kan vergeet van net een porsie, die gasvrou sal vreeslik geaffronteer voel.”
Hulle is al deur hul buurvrou genooi vir ’n “eenvoudige ete” – vier gange – waar hulle met valkoë dopgehou is sodat hul borde weer vol geskep kan word. “Giovanni se familie is net so gasvry. En sy kollegas vra reeds wanneer ons dan nou weer by ons familie kuier!”
Elsabé geniet vir eers haar ontspanne klerestyl, maar raak liries oor die stylvolle Italianers. “Die vroue koop min klere, maar alles is gehalte. En die Italiaanse skoene . . . dis onweerstaanbaar. Dit maak my sommer spyt dat ek nie meer ’n formele werk het nie! Ek sien uit na die somer om meer speels met my kleredrag te raak; die winter-modes is ’n bietjie grou na my smaak.”
Oor die algemeen het sy geleer om elke seisoen te waardeer – in die natuur, maar ook in die lewe. In die winter is die fokus op opera, ballet en kunsuitstallings. Sodra die son weer kom en die dae langer raak, draai alles weer om die berg en die see.
“Dit laat my ’n bietjie dink aan T.T. Cloete se gedig ‘Behoefte aan ongunstige weers- en ander omstandighede’, wat gaan oor die behoefte aan gure weer. Jy weet, so ’n bietjie tyd vir rus en nabetragting is goed vir die siel – voor jy weer die uitbundigheid van die lente geniet. “Die lewe hier is ’n nuwe uitdaging. Maar soos wat ek nou hier staan en konfetti van die naweek se ‘carnevale’ uit my rugsak skud, weet ek, sonder twyfel, dis ’n welkome verandering.”
Dis aanvanklik bitter swaar om al jou goed weg te gee of te verkoop Elsabé