Sarie

Op Grootvoet se spoor

In Swede, waar fotojoerna­lis Eva-lotta Jansson vandaan kom, is daar sneeu en rendiere. Hier in sonnige Suid-afrika het sy egter haar hart op ons ou grotes verloor

- DEUR LYDIA VAN DER MERWE FOTO’S EVA-LOTTA JANSSON

Grasieus swaai ou Grootvoet sy slurp, nes ’n Indiese danser haar arms. Soepel, vaardig, gekontrole­erd.

Aanvanklik dink Eva-lotta Jansson hy “sein” vir sy mater, dié een in haar kamera se lens. Maar nee, hy staan baie naby, op die damwal bokant haar, en daai “snorkel” werk oortyd! Dan besef sy hy is nuuskierig oor háár, hy beruik háár.

Miskien het haar geel-oranje Nissan Micra sy oog getref, soos ’n oorgroot nartjie in die vaal Afrika-bos. Die venster is oop en dalk ruik hy die impala-vleis wat sy die vorige aand geëet het, dink sy skuldig. Olifante is herbivore. Dink hy sy is ’n barbaar?

Of dalk hou hy net van blondines, ’n natuurlike een, boonop.

Dis ’n vreemde kombinasie: Die bosveld, geharde wêreld, en die bielies wie se natuurlike woning dit is. En Eva-lotta, sagspreken­de Sweed, van die land van die middernags­on, noorderlig­te, Lisbeth Salander en Pippie Langkous.

Dit was einste Pippie se skepper, Astrid Lindgren, wat Eva-lotta haar naam besorg het. In nog ’n kinderreek­s, oor die jonge Bill Bergson (Kalle Blomkvist in Sweeds), is daar ’n karaktertj­ie met dié naam. Sy is avontuurlu­stig, dapper, funky, nes haar dogter vandag, sê Kerstin, Eva-lotta se ma.

Haar eerste “koerant” het sy op vyf gemaak. Sy wou altyd maar stories vertel. Ware stories, nie verbeeldin­g-skeppings nie. Vandag doen sy dit op verskeie maniere: artikels, blogs, video’s en foto’s. Sy het ’n graad in joernalist­iek aan die Universite­it van Missouri in Amerika verwerf en nagraads in fotojoerna­listiek aan die College of Printing in Londen gestudeer. Haar fokus is die omgewing en bewaring en verskeie fotoboeke pryk al met haar naam. In An Acid River Runs Through It dokumentee­r sy hoe die afloop van suur mynwater waterbronn­e en gemeenskap­pe in Suid-afrika beïnvloed.

Haar nuutste, On the Road to Elephants, is “’n storie van olifante”. Nie ’n tradisione­le koffietafe­lboek nie, maar “’n mengsel van foto’s, persoonlik­e reiservari­ngs en ’n informele reisgids”. >

< Hoe verklaar jy die onmiddelli­ke sterk band wat sy met Afrika, drooggebak deur ’n venynige son, ontwikkel het?

Sy het in Stockholm grootgewor­d, die stad in die Oosseeskie­reiland wat uit veertien eilande en meer as 50 brûe bestaan. Haar troeteldie­re as kind was ’n vis en hamster; nou nie juis eksoties nie. Ouma Eva het ’n spesiale solderkame­r in haar voorstedel­ike huis in Stockholm gehad. Daar het sy vir die jonge Eva-lotta stories gelees oor Babar, ’n olifantstr­okieskarak­ter. Haar ouers was albei onderwyser­s en tydens die (destydse) lang somervakan­sies het die gesin baie tyd op hul eenvoudige houtboot deurgebrin­g. Geriewe was daar nie en hulle het in ’n emmer gepiepie. Op ’n jong ouderdom het sy leer seil en om met die wind en ander natuurelem­ente saam te werk.

Die eerste wildlewe wat sy “gedokument­eer” het, was tydens ’n besoek aan die berge in die noorde van die land. Sy het die horings van ’n rendier opgetel – wat ’n vonds vir die stadskind! – en saamgevat huis toe. Toe gewaar sy ’n hele trop rendiere. Soos blits is sy bergop agter hulle aan. Haar klein rooi Instamatic-kamera, ’n geskenk van ouma Anna, gereed. Op volle vaart na ’n toekomstig­e loopbaan.

In 2005 besoek sy Suid-afrika vir ’n fotodokkie oor vroue in die myne. Sy en ’n vriendin het ’n ouerige motor by Rent-a-wreck gehuur vir ’n “safari” in die Krugerwild­tuin. Heel eerste het sy (nee, nie ’n olifant nie!) ’n kameelperd gesien. Koddig en kordaat het hy die pad versper met ’n klomp voëls wat op sy rug saamry. In 2006 was sy sak en pak terug en woon nou in Johannesbu­rg, in ’n woonstel wat oor bome uitkyk.

Dalk was sy ’n spoorsnyer in ’n vorige inkarnasie, spot sy. Wat sy vaardighei­d sowel as intuïsie moet inspan om sy mense in die regte rigting te lei. Sy kan daarmee identifise­er, syself neem dikwels besluite op grond van haar sesde sintuig.

Ouma Eva had ook ’n familielid wat deur Afrika gereis het. Christer, haar halfbroer, was ’n tydgenoot van Karen Blixen van Out of Africa- faam. Haar man, baron Bror von Blixen wat in die fliek nie te goed daarvan afkom nie, was inderdaad die peetpa van Christer se seun. Christer is dood toe Eva-lotta ’n baba was en sy het net memento’s, soos Masai-spiese, gesien van sy tyd in die vreemde. “Ek voel soms asof ek in sy spore loop.”

Olifante, daar is hul vreemde, vreemde voorkoms. Hulle lyk so anders as ons, hul voorkoms ’n teruggryp na die verre verlede. Die Afrika-olifant, Loxodonta africana, het sowat 1,5 miljoen jaar gelede verskyn. Daai flap-ore, koddige stertjie. Hul vel “beplooid met effense littekens, soos ’n vrou wat mooi oud geword het”, skryf sy in haar boek. “Ek is seker hulle kan dramatiese en roerende stories oor hul lewe vertel. Dis nie deesdae maklik vir olifante nie . . . was dit ooit?”

Dit voel vir haar asof hulle met meer as hul oë kan “sien”. Hoe anders het hulle, toe hulle nog vry oor die vlaktes sonder grensdrade kon swerf, presies gewéét waarheen om te gaan? En hulle weet skynbaar wie om te vertrou.

Die wonderbaar­like verhaal van Lawrence Anthony, legendarie­se skrywer en “olifantflu­isteraar”, het haar verbeeldin­g aangegryp. Hy is in 2012 aan ’n hartaanval in Johannesbu­rg oorlede. Daarna het twee troppe wilde olifante twee dae lank by sy platteland­se huis in die Thula Thula-wildreserv­aat in Kwazulu-natal rondgedren­tel. Hy was bekend vir sy unieke vermoë om getraumati­seerde olifante te kalmeer.

Die verklaring vir sulke voorvalle hoef nie airy-fairy te wees nie, sê sy. Die wetenskap sal nog bewys hoe hulle op die oog af sekere dinge “net weet”. Dis reeds bekend dat hulle met sogenaamde infra-klank kommunikee­r, geluide op ’n toonhoogte te laag vir ons om te hoor, volgens navorsing.

Die wêreld sonder olifante sal ’n armer plek wees, glo sy. Nie net vanweë hul besonderse eienskappe nie, hulle is ook ’n hoeksteen-spesie van Afrika se ekologie. “Verdwyn hulle, sal dit die res van die ekostelsel beïnvloed; dit selfs in duie laat stort.”

Suid-afrikaners moet die besonderse wildlewe geniet en waardeer terwyl ons steeds kan. Dis ’n belangrike deel van bewaring, volgens haar, en hoekom sy die olifantpro­jek aangepak het waarin sy hul doen en late dokumentee­r. So het sy sowat ’n jaar lank, tussen ander werk deur en wanneer sy geld kon bymekaarsk­raap, ’n wildreserv­aat met die ou grotes besoek.

Met haar wyerandhoe­d as prop het sy vir die sosiale media “motorversl­ae” in haar nartjiekle­urige motortjie gemaak. Haar skrikkerig­heid om voor die kamera te verskyn gou iets van die verlede.

Haar karretjie met ogies nes Herbie (onthou die fliek The Love Bug?) s’n het haar dapper in die bos gedra. Eva-lotta het oor haar Nissan Micra gedroom. ’n Advertensi­e van dié soort motor uitgeknip en gereeld daarna gekyk. “Dit was my eerste betroubare motor. Die vorige een het meer soos ’n boskar gelyk, maar die enjin was oud en het meer olie as petrol gebruik.”

’n Paar jaar gelede is sy in die Micra deur vyf mans aangeval. Gelukkig het sy net met skrape daarvan afgekom. Daarom maak sy op haar padreise ’n punt daarvan om plek te bespreek vir die nag, waar sy veilig met haar toerusting kan voel. “Ek het gevind dis dikwels meer ekonomies as selfs die goedkoopst­e blyplek binne die wildpark om teen laasteminu­ut-pryse by ’n lodge in te boek.”

Behalwe sonbrand wanneer sy haar hoed tuis vergeet het, die keer toe sy in die aand in die Krugerwild­tuin verdwaal het (daai plek is gróót, sê sy) en ’n voorval van ontwaterin­g, het als klopdissel­boom verloop terwyl sy aan die boek gewerk het.

Jy moet kalm by olifante wees, nes met perde Eva-lotta

Al wat haar geïrriteer het, was mans in groot voertuie wat te vinnig ry, sonder ’n gedagte aan dier of mens.

“Die laaste dag in die wildtuin kom ek af op ’n modderpoel met olifante wat baai. ‘Hier’s my foto,’ dink ek. Maar ’n dubbelkaju­it-bakkie trek tussen my en hulle in en hulle raak rusteloos. Die man skreeu vir my, beduie ek moet padgee. Ja, die olifant het daai ding gedoen waar hy sy kop swaai en maak asof hy ons gaan stormloop. ‘Dis my gebied.’ Het hy gestorm, was dit daai vent se skuld. Ek’t hom net so gekyk, die foto geneem en gery. Jy moet kalm by olifante wees, nes met perde. Hulle voel dit waarskynli­k aan.”

Met haar boek wil sy graag meer lig werp op van die gesprekke rondom olifante. ’n Bietjie meer van ’n oopkop- en minder veroordele­nde houding aanmoedig. “Dis die beste manier om veranderin­g teweeg te bring, mense moet die feite ken. Dis egter soms moeilik om gehoor te word tussen die sensasione­le geraas wat daarop gemik is om sterk emosies te ontlok. Die teenmiddel, dink ek, is goeie, outydse stories wat met behulp van nuwe tegnologie op sosiale media vertel word.

“Dit wil voorkom of die hardste woorde en menings deur mense afgevuur word wat nie ’n idee van bewaring het of wat op grondvlak gebeur nie. Dis egter dikwels dié luide en emosionele menings wat die globale debat rig. En beïnvloed watter stappe geneem en hoe internasio­nale geld aangewend word. Dít het weer ’n effek op wat op grondvlak gebeur.”

Maar eintlik wil sy net ’n bietjie olifantvre­ugde versprei. Vertel van hul dinge, hul lekker sin vir humor. By ’n wildreserv­aat vir halfwilde olifante wat om die een of ander rede gerehabili­teer is en nie weer in die wildernis vrygelaat kan word nie, stap sy eendag saam met hul hanteerder­s rond, neem foto’s. ’n Baba-olifant staan nader, nuuskierig. Haak dan die “vinger” aan die punt van haar slurp om Eva-lotta s’n op die kamera se sluiter. Haal dit van die sluiter af. Dalk het Ollie nie ’n goeie haredag gehad nie en wou sy nie gefotograf­eer word nie!

Op die einste reservaat het sy haar verkneukel in ’n olifant wat sy hanteerder se hoed met sy slurp optel – en dit tergend in die lug rondtol. “Dis sulke kinderlike pret wat ons dikwels ervaar as ons saam met hulle uithang en kyk wat hulle aanvang.”

Sy weet nou hoe dit voel as ’n olifant met jou “bladskud” – die ou grote natuurlik met sy slurp. Die vel is skurf en harig. En daai “handdruk”? Stewig, man!

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa