Sarie

Kuberkuier: Chevron Island, Australië

As oud-kapenaar is dit vir Kevin de Goede heerlik in Surfers Paradise aan Australië se ooskus. Al kan hy glad nie branderry nie!

- DEUR LIESEL PIENAAR

Hoekom Australië en nie ’n ander land nie?

Die klimaat en kultuur hier is baie dieselfde as in Suid-afrika. Sydney is byna soos Kaapstad en die stad Goudkus, waar ek op Chevron Island in die woonbuurt Surfers Paradise bly, soos Durban. Net soos die meeste SuidAfrika­ners is die Aussies mal oor die buitelewe en sport. Hulle barbecue, ons braai. Hulle is mal oor krieket en rugby, met die AFL (Australian Football League) wat hier groot is. Sokker en netbal is ook baie gewild.

Watter werk doen jy?

Ek het destyds as hoërskoolo­nderwyser hierheen gekom. Sedertdien het ek streek-rugbyspann­e (die Gold Coast Country Colts en South Queensland Colts) afgerig. Ek was ook vryskutjoe­rnalis vir verskeie ondernemin­gs met sport- en mediabelan­ge.

In 2015 het ek my vrou, Cindi (’n Suid-afrikaner oorspronkl­ik van Port Elizabeth), deur haar neef wat langs my op Chevron Island bly, ontmoet. Ons is in 2016 getroud, maar kon nie dadelik vir haar ’n verblyfvis­um kry nie. Ons het eers teruggekee­r na Port Elizabeth, waar ek vir ses maande mede-aanbieder van Grootbek Brekfis op die radiostasi­e Luister FM was. Deur die dag het ek na Tyler gekyk terwyl Cindi, ’n finansiële bestuurder, by die werk was. Tans gee ek weer skool by ’n private skool hier.

Vertel oor die skole?

Openbare skole is baie meer ontspanne oor uniforms, hare en grimering as in Suid-afrika. Queensland is tropies, so leerders aan dié skole dra sportiewe lang kortbroeke en die skool se gholfhemde. Leerders van private skole dra baadjies en hoede.

Tans volg elke staat sy eie onderrig-kurrikulum, maar die transforma­sie na ’n nasionale een is aan die gang. In die verlede is Queensland baie gekritisee­r deur Nieu-suid-wallis. Laasgenoem­de se kurrikulum is baie soos dié van SuidAfrika waar leerders jaarpunte kry en eksamen skryf en dis ook hoe die nuwe kurrikulum sal werk.

Suid-afrikaners kla oor standaarde wat gedaal het, maar hier dop kinders glad nie. So gaan sommige deur 12 jaar van onderrig en kry ’n sertifikaa­t, of hy nou ’n eksamen geslaag het of nie. Ten spyte hiervan is hulle tog baie It-geletterd. Onderrig is ook baie meer ingestel op take pleks van eksamens.

Al is die Aussies sportmal, word rugby in Queensland net deur private skole aangebied. Leerders in openbare skole moet by klubs rugby speel.

Is jy ’n gesoute branderpla­nkryer?

Ek probeer die surfer image (teen my vrou se wil), maar kan glad nie branderpla­nk ry nie. Ek is boonop te vrek bang vir haaie. Maar Australië het pragtige strande en branderry is baie gewild.

Kom kuier jy gereeld in Suid-afrika?

Ek probeer om elke tweede jaar Kersfees in Suid-afrika te spandeer omdat die meeste van my familie nog daar bly.

Chevron Island is . . .

’n Klein eilandjie wat omring word deur waterkanal­e. Dit het twee brûe om op en af van die eiland te kom. Die een loop reguit in Surfers Paradise in. Jy is dus stapafstan­d (700 m) van Australië se “Vegas by die see” (so 70 km suid van Brisbane).

Dit klink fancier as wat dit is. Ja, hier bly skatryk mense met spoghuise, maar hier is ook baie woonstelle en ook ’n paar eye-sore- huise. Mal daaroor! Enige bekendes wat daar bly of kom kuier? Ek weet nie. Die ryk mense wat op die kanale se waterfront bly, sien jy nooit. Jackie Chan het glo in die omgewing vir sy ouers ’n huis gekoop. En die vorige uitvoerend­e hoof van Billabong het ’n $11 miljoen-huis hier gehad.

Hoe vergelyk die barbie met ons braai?

Dit kan nie regtig vergelyk word nie. ’n Vuur, of soos Bok van Blerk en kie sing, ’n hardekool is mos maar uniek. Tog raak ’n ou gewoond aan ’n barbie en duur dit nie so lank soos by ’n tipiese SA braai voor daar geëet word nie. In Suid-afrika word jy mos genooi vir ’n braai om sesuur, maar dan is jy gelukkig as jy elfuur eet!

Het jy al koalas teëgekom?

Nee, ek het nog nooit ’n koala in die natuur gesien nie en ek bly al veertien jaar in Australië. Hulle is so skaars soos leeus in Suid-afrika se strate.

Het jy al heelwat van Australië gesien?

Saam was ek en Cindi al in Sydney, terwyl ek op my eie ook al in Perth, Adelaide, Melbourne, Brisbane en Cairns ’n draai gemaak het.

Eenkeer het ek en ’n mate, Dingo, met ’n ou Cortina-stasiewa die 2 690 km vanaf Perth na Adelaide gereis om Kersfees saam met sy familie te spandeer. Dit het ons 32 uur gevat met ’n paar koffiestop­pe. Was dit nou ’n vervelige trip vir jou! Dit was deur die Nullarbor-vlakte, waar die landskap net so eentonig is soos om deur die Karoo te ry, net agt keer groter.

Natuurlik was my besoek aan Hamilton-eiland (deel van die Groot Koraalrif), waar ek gesnorkel en vir Nemo “gevind” het, ook iets om op my emmerskopl­ys af te tik.

Ervaar jy Australië as duur?

Baie. Brisbane is byvoorbeel­d die vyfde duurste stad ter wêreld om in te parkeer, en Sydney is nog erger. Ja, as jy Aussie-dollars verdien, kan jy gemakliker lewe, maar die meeste dinge kos baie duurder as in SA. Die minimum loon wat tans $18,29 per uur is, jaag veral klein besighede se pryse op, maar mense kán daarop lewe. Middelklas-verdieners kan ook gereeld oorsee gaan as jy mooi begroot.

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa