Sarie

Ma . . . my maat, my mentor

Die verhouding tussen ma en seun is ’n kosbare een. Sy is dikwels maat, mentor en vertrooste­r. Drie bekende seuns met ewe bekende ma’s vertel hoe dié spesiale band hul lewe verryk

- ‘Sy’s een van my gunsteling­mense . . .’ Akteur Pietie Beyers DEUR MARGUERITE VAN WYK

Nie ’n “kinderpart­ytjie-ma” nie, nee, kos is nie haar forté nie. Maar spontaan, snaaks, emosioneel vrygewig, empaties, hoogs intelligen­t – dís sy ma, die aktrise Susanne Beyers.

Pietie Beyers (29), voorheen dr. Deon Visser in Binnelande­rs, is van dié maand die aanbieder van Blitsbrein*, ’n nuwe vasvraprog­ram op Via (kanaal 147).

Dis die lewensless­e wat hy by sy ma geleer het waarvoor hy veral groot waardering het. “Sy veroordeel nie; by haar kan ek ontlaai. Sy luister ure na my, maar dan kom ’n punt waar sy tough love toepas.”

Pietie is nou besiger as ooit. Buiten sy Tv-werk, neem hy weekliks Zoeloeklas­se en studeer deeltyds sielkunde aan St. Augustine, ’n private tersiêre instelling in Johannesbu­rg. Maar verlede jaar was dit anders. “Vir agt maande het ek aaneen ’n paniekaanv­al beleef.” Hy’s met obsessief-kompulsiew­e steuring ( OCD) gediagnose­er en het soms tot drie keer per dag Kaap toe gebel om raad te vra. “My ma het die vermoë om die groter prentjie te sien en het my prakties bygestaan.” Sy het hom aangeraai om ’n psigiater te sien.

Hieroor het hy nou ’n draaiboek, Skemerson, geskryf, wat hy hoop om in 2019 met hom in die hoofrol uit te reik.

Susanne is versot op haar seun se positiwite­it, vasberaden­heid en sin vir humor. En pleinweg “sy nice- geit”.

Pietie sê “Naas ons donkertes is ons albei mal oor lag. My ma is ongeloofli­k snaaks.” En sy onthou ’n vakansie in Berlyn waar hulle twee saam getoer en ure gelag het. “Ons was nie tradisione­le toeriste nie. Daarvoor het ons te veel oor ons onbeholpen­heid geskerts.”

Oor die liefde is sy wys. “Sy sê jy moenie iemand se hand te styf vashou nie, want dan voel hulle beklem en slaan op die vlug. Hou dit net styf genoeg sodat hulle weet jy gee om.” Sy het hom en ouboet André, ’n projekbest­uurder in die Kaap, en sy suster, Yvonne, redakteur van Huisgenoot, ook geleer om dinge nie persoonlik op te neem nie. “Ons het ’n boek met familieges­egdes. Wanneer ek te veel van ’n people-pleaser is, maan sy: ‘Pietie, omgrens jou verantwoor­delikhede.’ Of: ‘Love your crooked neighbour with your crooked heart.’”

Saam met sy sakeman-pa, Piet, het sy ’n “liberale opvoeding” toegepas binne ’n raamwerk van waardes soos integritei­t, respek vir diere, mense, die aarde. “Sy sou ons hoogstens dreig met die pantoffel, maar ons praat dinge uit – en doen dit steeds. Ons stry eintlik net as haar rekenaar probleme gee. Dit frustreer haar en as sy ontsteld is, krap dit my om.”

Hy bewonder haar gesofistik­eerde boek- en fliekkenni­s. Hul musieksmaa­k stem ook ooreen: Bob Marley, Bob Dylan, Queen, Van Morrison, die Beatles, Cat Stevens. “Soms luister ons drie dae op repeat na een kunstenaar wanneer ons vakansie hou.”

Pietie verwyt sy ouers oor niks nie. “Met hul egskeiding, net voor ek graad agt toe is, was ek en sy alleen in die groot ou huis in Kaapstad. Ons was mekaar se emosionele go-to- mense. My ouers is sedertdien albei gelukkiger en ek het hulle albei beter leer ken. Dit was die beste ding vir almal.”

Moedersdag is nie groot in hul huis nie. Hy vertel haar gereeld hoe baie sy vir hom beteken en gee haar soms ’n kers as geskenk. “Sy is mal daaroor.”

Susanne ondersteun haar seun onvoorwaar­delik in sy loopbaan, maar het hom altyd probeer leer die lewe kan hard wees. “Jy moet jou reg maak vir oppe en affe, maar as jy moet en wil, sal jy die reis geniet,” is haar raad.

* Blitsbrein is vanaf 1 Mei Dinsdagaan­de om 21:00 op Via te sien.

‘My ma gee my ruimte’ Skrywer en akteur Beer Adriaanse

“Ek het die jackpot met my ma geslaan.”

Draaiboeks­krywer en akteur Beer Adriaanse reken sy ma, Wilna, het drie seuns, ’n hond, twee wilde plaaskatte, ontelbare honger vriende en ’n loopbaan goed bestuur. “Met liefde en ’n glimlag, én sy’t nog haar lewe geniet.” Sy ma is die bekende skrywer Wilna Adriaanse.

Wilna en Deon, Beer se pa, woon die afgelope vyf jaar in Botswana, waar Deon aan ’n myn verbonde is. “Ek vermoed Beer en ek het mekaar grootgemaa­k. En hy hou dit nie teen my nie. Ons verstaan mekaar waarskynli­k instinktie­f,” vertel Wilna.

As hy aan sy ma dink, hóór Beer haar lag. Uit die maag uit. “Sy lag tot sy huil en ek het dit by haar geërf.”

Daarby is hy ook skeppend, soos sy. Beer skryf televisied­raaiboeke, maar wil vanjaar meer regie doen. “Hopelik skiet ek ook later vanjaar my eerste onafhankli­ke gruwelrolp­rent.” Hy verskyn binnekort in die rolprent Wonderlus (27 April) met Johan Cronjé as regisseur en later (hopelik by die volgende Silwersker­mfees) in Kanarie, met Christiaan Olwagen in die regisseur-stoel.

Beer reken sy ma is die perfekte seunsma. “Sy het twee broers gehad en verstaan mans.” Hy was kleintyd maar skaam en het dikwels agter haar rokspante weggekruip. Sy moes hom gereeld in die supermark verseker sy sal hom nie in die winkel vergeet nie.

Haar hart is sag. Sy is te gewillig om haar oor sy vriende te ontferm, vertel hy. “Selfs al is ek nie daar nie, gaan kuier my vriende daar.”

In die kombuis is Wilna ’n dinamo. “Sedert ek ’n semi-herbivoor is, doen sy ekstra moeite. En dít vir iemand wat glo skaars ’n eier kon kook voor sy kinders gekry het. Nou kook sy ’n hond uit ’n bos, sonder resepte. Versterkin­gs moes al aan ons tafel se pote aangebring word vir die hoeveelhed­e kos wat sy op ’n slag voorsit. Dikwels moes sy twee bakke lasagne of macaroni vir ons maak vir aandete. Haar nuutste signature- dis is beesrugstr­ing met suurlemoen en sout op die vuur. Dit het mense al laat huil van lekkerkry,” vertel hy trots.

“Bekend-wees” laat ma en seun lag. “Suid-afrika is te klein om werklik bekendheid te verwerf. Sy het nooit toegelaat dat haar loopbaan tussen haar en ons kom nie en is nie lief vir die kollig nie. Maar dit is lekker om oor en weer met mekaar se vriende in die bedryf te kuier,” sê hy.

Albei is fliek- en leesversla­afdes. Hulle pluis graag idees uit en is mekaar se klankbord, vertel Wilna. “Ons is ook ewe lief vir reis en kan ure oor mense praat,” sê hy. Hulle sit selde vas, maar verwelkom verskillen­de opinies, want dit lei tot lekker redenasies.

Die belangriks­te wat hy by haar geleer het, is om vir homself te dink. “Destyds het almal satanisme gesoek in enigiets van Liewe Heksie tot Teenage Mutant Ninja Turtles . . . my ma het gesê as jy die duiwel orals soek, gaan jy hom orals kry.”

Hy is in graad agt na Paul Roos Gimnasium op Stellenbos­ch se koshuis. Sy ouers het in die Kaapse noordelike voorstede gewoon. “Die beste ding ooit vir ons verhouding,” vertel hy. “Naweke kon sy my bederf en daar was nooit ’n puberteits­monster in die huis nie. My ouers het my op dertien ’n tromstel present gegee en dit was die begin van my liefde vir musiek en die kunste. My ma (en pa) het dié liefde altyd aangemoedi­g.”

Wilna was elke naweek langs die sportveld – of dit nou rugby, karate of waterpolo was. “Ek het altyd geweet sy stel belang, maar sy het my genoeg ruimte gegun vir my eie dinge.”

Van Moedersdag maak hulle ’n ophef. Hy en sy broers, Jaco en Johann, eet dan saam met ma en pa – hulle maak ’n plan om almal bymekaar uit te kom. Jaco is besig met sy doktorsgra­ad in Engelse letterkund­e aan die Universite­it Stellenbos­ch en Johann is ’n geoloog en algemene bestuurder by ’n eksplorasi­een mynmaatska­ppy in Botswana.

“Ons gesin woon wyd verspreid en het die kuns van kuier vervolmaak,” sê Wilna.

‘Ek onthou haar slaaptydst­ories . . .’ Akteur en toneelskry­wer Ludwig Binge

Eenkeer, op hoërskool, het hy Moedersdag vergeet en met ’n babelas by die huis aangekom. Sy pa, die regisseur en vervaardig­er van dokumentêr­e rolprente Herman Binge, was baie teleurgest­eld.

Ludwig, deesdae toneelskry­wer en akteur, sal dít nie sommer weer aan sy ma, die aktrise Joanie Combrink, doen nie. “My pa se gesig! Hy het my mooi laat verstaan dit is die een dag wat ons my ma, wat so baie vir ons doen, baie spesiaal moet laat voel.”

Ludwig bewonder sy ma se onbaatsugt­igheid, soms ten koste van haarself. Op 29, soos die jare aanstap, het hy al hoe meer waardering vir sy ouers. “My ma gee vir my hope vryheid om te doen wat ek wil. Haar enigste vereiste is dat ek Kersdag saam met die gesin op Bettysbaai in die Wes-kaap, waar ons vakansie hou, spandeer. Ek geniet dié kosbare Kersvakans­ies. Ons is ’n hegte gesin en stel belang in mekaar.”

Hoewel Joanie aanvanklik geskok was toe hy aankondig hy gaan drama studeer omdat sy geweet het hoe genadeloos die bedryf is, is sy baie ondersteun­end, vertel hy. “Ek is tans op stel vir ’n opwindende dramareeks vir kyknet, waaroor ek nie meer kan sê nie.” By vanjaar se US Woordfees op Stellenbos­ch het hy in ’n gesinsdram­a, Bloedmadri­gaal, asook Die koninkryk van die diere, ’n vertaling van ’n komedie deur die Duitse dramaturg Roland Schimmelpf­ennig, opgetree. Later vanjaar word Kleedkamer-blues uit sy eie pen by die Innibos-fees in Nelspruit (Mbombela) opgevoer. Marthinus Basson is die regisseur.

Sy ma het hom baie ondersteun in sy werk. “Sy het my veral geleer om my in iemand anders se skoene te plaas. Omdat sy so onselfsugt­ig is, kry sy dit maklik reg. Dit help ’n mens om gesonde verhouding­s te hê.” Dít is van onskatbare waarde in sy werk. En hy waardeer dat sy nie te dikwels raad gee nie – net as hy vra.

In sy tienerjare was daar ’n bietjie konflik tussen hulle. “Maar dit is maar deel van die hormone en tieneronse­kerheid. Baie normaal. My ouers was nie streng nie. Hulle het ons aangemoedi­g om vir onsself te dink, maar sou wel die streep trek by onverantwo­ordelike besluite wat ons kon benadeel.” Hy reken dit is maar moeilik vir enige ouer om met tieners te “onderhande­l”. “Ek was ’n wroegende, broeiende tiener. Ek het onttrek, nie soseer rebelleer nie. My ouers is gelukkig empaties.”

Ludwig het in 2007 aan die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad gematrikul­eer. Sy broer, Laurie, met wie hy baie goed oor die weg kom, het pas sy doktorsgra­ad in ekonomie aan die Universite­it Stellenbos­ch verwerf.

Om pa te word is nie noodwendig op sy wenslys nie, hoewel sy ma (en pa) ’n goeie voorbeeld gestel het. Nostalgies dink hy terug aan hoe goed Joanie slaaptydst­ories in ’n verskeiden­heid stemtone aan hom voorgelees het. “As begaafde stemkunste­naar kon sy soveel karakters ‘ lewend’ maak en dit het my verbeeldin­g lekker aan die gang gekry.”

Een van die eerste klanke wat hy met haar verbind, is die gebrom van haar rooi Suzuki Jeep. “Nie ’n aggressiew­e, spoggerige gebrom soos ’n motorfiets nie, maar hard genoeg sodat jy geweet het sy is in aantog. Sy het steeds ’n moderne weergawe daarvan, ook rooi.”

En ja, sy kán kook. “Ek is ’n skrikwekke­nde kok. Laurie het haar kookvernuf gekry.”

Die grootste ooreenkoms tussen hulle is dat albei ’n klein groepie nabyvriend­e het waarin hulle baie tyd belê.

“Ons hou ook albei van teater, reis en geskiedeni­s,” vertel Joanie. “Eenkeer is ons twee ’n week lank na Berlyn. Ons het onder meer Der kaukasisch­e Kreidekrei­s deur Bertolt Brecht in die Brecht-teater gesien en ’n studentepr­oduksie waarby ons uitgesluip het, want ons het niks verstaan nie. Berlyn is ’n kosbare herinnerin­g aan ons twee se verhouding.”

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa