Sarie

Flitsverha­al: Blou inkleurkry­te deur Elsa Winckler

- DEUR ELSA WINCKLER

“Uiteindeli­k,” glimlag Chloë. “Julle is laat.” Haar drie vriendinne het opgedaag vir hulle weeklikse middagete-koffiekuie­r. “Middagete is net vyf-en-veertig minute, onthou? Ek het al cappuccino bestel.”

“Emma het Pinterest ontdek, dis hoekom ons laat is. Sy stop elke paar minute om iets voor te lees,” verduideli­k Liné. “En anders as die meeste ander thirtysome­things soek sy nie na die jongste modes nie, maar na corny sêgoed oor die liefde.”

“Luister hier,” sug Emma en druk haar hand teen haar hart. “‘Kiss me like you don’t need air, hold me like you can’t let go.’ ” Chloë kreun. “Watter man sal nou ooit so iets sê? Ek bedoel, seriously? Miskien ná ’n paar biere en dan ook net om snaaks te wees. Ken julle mans wat sulke goed sê? Kom ons wees nou maar eerlik, mans weet nie meer hoe om romanties te wees nie.”

“Jy’s baie sinies, Chloë,” sê Megan. “Ek aanvaar gisteraand se date was ook . . .”

“. . . so vol van homself en sy kwalifikas­ies, hy het nie nog tyd gehad vir gewone ordentlikh­eid nie,” sê Chloë. “Hy het in ’n stadium net verdwyn, gaan rugby kyk by die kroegtoonb­ank.” “So, jy is weer alleen met Uber huis toe?” vra Liné. “Uber praat minstens nie heeltyd oor homself nie,” sê Chloë grimmig. “Romanse, ek sê julle, is morsdood.” Sy beduie na Emma se foon. “Die belaglike versies wat daagliks op sosiale media verskyn, is ’n outydse konsep wat jy nog net in liefdesver­hale kry. Ja, mans wil jou hê, maar móénie rose en kerse verwag nie.” (Sy onthou skielik haar voorlaaste date.) “Oukei, miskien kerse – hy kan, het ek gesien, weliswaar ’n braaivleis­vuur daarmee aansteek.”

“Dis tog lekker om te droom,” sê Megan. “Hoe hou jy van: ‘I wanna spend the rest of my sunsets with you?’ En luister hier. As ’n man dít vir my sê, loop ek agter hom aan: ‘I’ll never finish falling in love with you.’ Chloë, ek hoor wat jy sê, maar daar moet êrens nog romantiese mans wees.”

Sy sug. “Dalk nie noodwendig in Kaapstad nie, maar iewers, ek wil dit graag glo.”

“Luister na dié ene, Chloë,” sê Liné, dik van die lag. “‘ You are my blue crayon, the one I never have enough of, the one I use to colour my sky.’ ”

Emma kry sowaar trane in haar oë. Geïrriteer­d gluur Chloë haar aan. “As jy huil, betaal ek nie vir jou cappuccino nie.”

“Sies vir jou,” snuif Emma. “Megan is reg, dis tog moontlik dat ’n man bestaan wat so iets vir een van ons sal sê en dit bedoel. Daar is mooi stories daar buite van mense wat mekaar ontmoet en lank en . . .” “. . . ongelukkig saamleef,” sê Chloë. “Jou ouers is al lank en gelukkig getroud, nie waar nie?” vra Emma.

Chloë knik. “Dis omdat my pa nog steeds romanties is, maar helaas, romanse het heeltemal uitgesterf,” sê sy. “Vandag se mans praat eerder oor hulle velsorgmid­dels voor hulle soetsappig­hede in jou oor fluister.” Emma leun vorentoe. “Jy kan darem nie alle mans oor dieselfde kam skeer nie. Oukei, jou laaste twee dates was minder aangenaam, maar is jou standaarde nie ’n bietjie te hoog nie?”

“Te hoog? Ek dink nie so nie. Maak my die hof, stuur vir my blomme, fluister mooi dinge in my oor – dis darem nie te veel gevra nie, of hoe? As dit beteken my standaarde is te hoog, bly ek eerder sonder ’n man.”

“Ek hoor,” sê Liné, “daar is nou so ’n sexy besturende direkteur by jou werkplek? Glo aantreklik. Donker, lank . . .”

Chloë skuif ongemaklik rond. Sy weet van hom. Maar oor Marko Koch, die nuwe besturende direkteur van die ouditeursf­irma waar sy administra­tiewe hoof is, wil sy liewer nie praat nie. Vandat hy vier maande gelede daar begin

werk het, hinder die man haar. Daar is iets in sy oë wat haar heeltemal bewerig maak, nie ’n gevoel wat sy ken nie en nie ’n gevoel wat sy vertrou nie.

“Hy’s ’n man. Dis vir my genoeg rede om so ver as moontlik uit sy pad te bly.”

“Luister hier,” sê Megan. Sy maak haar stem sag en gevoelvol: “‘ The best kiss is the one that has been exchanged a thousand times between the eyes before it reaches the lips.’ Dis baie waar, nè?”

Chloë lig haar cappuccino met albei hande op terwyl sy drink. Hopelik merk nie een van die drie haar rooi wange op nie. Is dít wat Marko se oë probeer sê: Hy wil haar soen? Sy stik amper en sit haar koppie neer. Dis al die simpel sêgoed wat haar aan sulke belaglikhe­de laat dink. Dit bevestig net haar argument. Emma kyk op haar horlosie en staan op. “Ek moet hardloop, ek sien ’n kliënt oor ’n rukkie. Selle tyd volgende week?”

“Asseblief, ek sien elke week so uit na hierdie kuiertjie,” sê Megan terwyl sy en Liné ook opstaan. “En wie weet, dalk ontmoet een van ons dié week ’n regte, egte romantiese held.”

“Ek hou nie my asem op nie,” roep Chloë agter hulle aan. Dis haar week om te betaal en sy lig haar hand vir die kelner. Terwyl sy wag, kyk sy in die koffiewink­el rond. So skuins agter hulle tafel sit ’n donkerkopm­an. Dis mos . . . Dit kan nie wees nie!

Haar wange vlam bloedrooi en sy draai vervaard om. Sy druk hopeloos te veel geld in die verbaasde kelner se hand en stap by die winkel uit. Marko Koch was die hele tyd ook in die koffiewink­el. Sy is lam tot in haar tone. Kon hy hoor wat hulle gesê het? Die tafels is taamlik na aan mekaar en die kans is baie goed hy het hulle gesprek woordeliks gevolg. Kan die aarde asseblief oopgaan? Moet sy nou iets vir hom sê? Met ’n kreun glip sy by haar kantoor in. Gelukkig het sy vanmiddag ’n vergaderin­g met die leerklerke, iets wat haar die hele middag agter ’n toe deur sal hou.

*** Teen die tyd dat die laaste leerklerk uitstap, voel Chloë soos ’n wrak.

Sy het skaars met die vergaderin­g begin, toe Marko instap en homself teen die oorkantste muur tuismaak. Hy het nie ’n woord gesê nie, net die hele tyd na haar gekyk. Wat alles uit haar mond gekom het, weet sy regtig nie, maar te oordeel na die geamuseerd­e kyke van die leerklerke, was sy nie baie samehangen­d nie.

Sonder om in sy rigting te kyk maak sy haar goed bymekaar en stap deur toe, haar enigste gedagte om so gou en so ver as moontlik van Marko af weg te kom. Hy is egter reeds by die deur en druk dit toe voor sy kan uitstap.

Gereed om hom in te vlieg, draai sy om. Hy staan baie, baie naby aan haar, maar hy versper nie haar weg nie. As sy wil, kan sy padgee. Sy kan omdraai, die deur oopmaak en uitstap en sy weet hy sal haar nie keer nie. Maar sy blou oë hou haar vas.

Hy sit sy hande in sy broeksakke en buk vorentoe sodat sy mond by haar oor is.

“Ek wonder al vier maande lank hoe ek deur jou skanse kan breek, toe volg ek jou koffiewink­el toe. Nou weet ek. Ek kan vir jou sê vandat ek jou die eerste keer gesien het, droom ek oor jou, ek kan vir jou sê ek wil die res van my sonsonderg­ange by jou wees, ek kan vir jou sê jy is my blou inkleurkry­t, die een waarmee ek die lug inkleur, alhoewel ek nooit binne die lyne inkleur nie, ek kan vir jou sê ek sal nooit ophou verlief raak op jou nie en ek kan vir jou sê ek wil jou graag soen – maar dit sou onvanpas wees – totdat jy nie meer suurstof nodig het nie en ek wil jou vashou omdat ek jou nooit weer wil laat gaan nie, maar,” sê hy en lig sy kop, “ek het nog altyd gedink ’n pratery is ietwat overrated, ek sal jou baie eerder wil wys. Vanaand halfsewe?”

Haar asem en haar woorde het in haar keel vasgesteek en elke liewe een van haar vooropgest­elde idees vlieg by die deur uit. Sy knik, die enigste aksie waartoe sy op hierdie oomblik in staat is. Sy glimlag verhelder die hele vertrek. Hy laat haar voor hom by die deur uitstap, maar hy druk iets in haar hand. Verdwaas kyk sy af. Dis ’n pakkie inkleurkry­te – almal blou. Toe sy minute later op wankelrige bene terugstap na haar kantoor toe, weet sy twee dinge, twee dinge wat sy volgende week met haar vriendinne kan deel.

Een: ’n Gepratery is inderdaad heeltemal overrated. Twee: Romanse is nog glad nie dood nie.

Dit lê in ’n pakkie blou inkleurkry­te.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa