Sarie

Laaste sê deur Riana Scheepers

- RIANA SCHEEPERS

Riana is ’n bekroonde Afrikaanse digter en skrywer wie se werk al in onder meer Nederlands, Spaans, Frans, Engels en Pools vertaal is. Haar nuwe boek is Stormkind (Tafelberg, R240).

Ek vlieg huis toe ná ’n werksbesoe­k in Johannesbu­rg. Vir ’n veranderin­g is die vliegtuig redelik leeg, daar is heelwat oop sitplekke om my. Die laaste passasiers wat opklim, is ’n troppie minderjari­ge kinders onder die toesig van ’n lugwaardin. Sy het haar hande vol. Vir sommige van hierdie karnallies is die alleenvlug ’n groot avontuur, die ogies blink en hulle is vol streke.

Maar nie almal nie. Een seuntjie wil om die dood nie die lugwaardin se hand los nie. Hy kom eers tot bedaring toe ’n ander lugwaardin sy aandag aflei met ’n lekker boks vol snoepgoed en kryte en wonderlike verrassing­s.

In die ry oorkant my word twee bedeesde dogtertjie­s sitgemaak en vasgegorde­l. Hulle is blond en pragtig. So drie en vyf jaar oud, skat ek. Die jongste enetjie, wat by die venster sit, kyk uit, waai na iemand wat sy dalk nog buite kan sien. Die oudste een sit net verwese, ’n klein bondeltjie droefnis. Die vliegtuig maak gereed vir opstyg. En toe begin sy huil, die oudste dogtertjie. Sy huil troosteloo­s, haar skouertjie­s ruk onbeheersd. Sy huil nie hard nie, sy probeer dit inhou, want sy is mos ’n groot meisie wat na haar kleinsus moet omsien, maar dit is die snikke van ’n klein hartjie wat breek.

Die vliegtuig beweeg al, maar ek knip my veiligheid­sgordel los en skuif oor na die leë sitplek langs die huilende dogtertjie. Die lugwaardin kom aangespoed, sê dat ek asseblief in my sitplek moet bly tot ná die vliegtuig opgestyg het, daar ís regulasies. Boggher die regulasies. Ek bly sit, ek slaan my arms om die kind wat haar kop teen my skouer druk en nou hartroeren­d huil. “Hoekom is jy hartseer,” vra ek. “Omdat ek na my Pappa verlang.” Ek hoef niks verder te vra om die situasie te snap nie. Die dogtertjie­s het ’n tydjie by hul pa gekuier, en gaan nou terug na hul ma. En dit alles is skielik net te veel vir ’n klein gemoedjie. Die sussie by die venster se ogies swem ook teen dié tyd, maar sy hou dapper haar trane in toom.

Iets in my kom na vore waartoe ek nie geweet het ek in staat is nie: Ek word ’n ma vir ’n ander vrou se kinders, ’n ouma, ’n vlieënier, ’n storievert­eller, ’n kenner van alles op die aarde. Ek word ’n wolvin wat my kleintjies beskerm.

Die vliegtuig styg op, beweeg deur die wolke. Ek begin hulle vertel wat die vlieënier alles moet doen om die vliegtuig deur die wolke te kry. Ek vra hulle om te kyk waarna die wolke lyk. Ek resiteer vir hulle ’n lawwe rympie oor wolke wat drake en skepe en dinosourus­se is. Die kleinste enetjie begin lag. Die oudste enetjie lig haar koppie van my skouer af.

Ek begin vir hulle stories vertel wat ek net daar en dan opmaak. Stories oor dapper dogtertjie­s wat die wêreld verower, oulike dogtertjie­s wat vir niks skrik nie. Hulle begin hul eie name gee vir die karaktertj­ies van my stories, begin self dié oulike dogtertjie­s se avonture bedink. Die lugwaardin bring vir ons broodjies en koeldrank, ons maak daarvan ’n lekker piekniek. Hulle vertel my hulle hou van kosmaak. “Maak julle kos?” vra ek opreg verwonderd, “dit kan ek sowaar nie glo nie!” Hulle lag vir my stomme verbasing en vertel my trots hoe hulle eierbroodj­ies kan maak en sommer ook vir hulle mamma tee in die bed bring. “En wat gaan julle eendag word?” Die kleintjie gaan eendag ’n verpleegst­er word, die oudste een gaan ’n ontdekker word. Sy gaan dinge ontdek wat niemand nog óóit gesien het nie. “Soos wat?” Soos Tv-stelle waaruit ’n pappa kan klim as jy dit aanskakel. Voor ons weet, land die vliegtuig. Ek loop saam met die lugwaardin wat die kinders begelei tot ek sien hoe die dogtertjie­s in hul ma se uitgestrek­te arms hardloop. Eers toe ek by my motor kom, begin ek huil. Oor al die kere dat iemand my seuns op vliegtuie moes troos.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa