Sarie

’N KOSHUISMA SE HART

-

Die opgewonden­heid en bang sit sommer so vlak. Vandag moet ek my kind by die koshuis aflaai. Wat wag alles vir ons in hierdie nuwe fase van hoërskool? Hierdie nuwe vreemdheid, nuwe plek, nuwe mense?

By die koshuis aangekom, is daar ’n klomp gesiggies waarop die onbekende soos ’n bang diertjie in ’n hok sit en loer . . . oë wat blink en mammas wat met bekommerde harte hul kosbare meisiekind­ers moet aflaai.

Haar bruin oë blink, maar nie ’n enkele traan rol oor haar wang nie. Want my kind is veel sterker as haar ma wie se trane sommer net stroom. Te vinnig is dit groettyd en dit voel asof ek ’n deel van my siel daar los . . . Die eensame figuurtjie wat waai tot ek om die hoek ry. En toe huil hierdie ma!

Sy huil oor die sterk kind wat van kleins af haar plekkie in die wêreld uitgekap het, oor die stil huis wat wag, die laatnag drukkie al slaap sy al . . . En sy huil oor sy weet haar kind is in goeie hande.

Nou is ’n jaar verby en ek wonder waar het die tyd heen gevlieg . . . Maar ek is dankbaar vir wat die koshuis vir my kind beteken het. Ek is dankbaar vir die deel wees, liefhê en die band van behoort. Want ek sien die geluk in hul lywe, hoor dit in hulle lag. En ek besef God se genade is vir ons genoeg.

En volgende keer? Dan pak ons weer die koshuistas­se, maar hierdie keer is daar nie trane of bang nie, want ons weet wat wag. Dis goed . . . en mooi! Esmarié le Grange, Hartenbos

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa