Sarie

DÁÁRDIE GESPREK

-

Hoe jy jou man (of vrou) vertel en wát, is baie belangrik. Dit gaan bepaal hoe die egskeiding vorentoe ontvou. Eerstens, hoe groot gaan die verrassing wees? Meestal is hy, soos jy, waarskynli­k ontevrede met die huwelik. Dalk weet hy jy is ongelukkig, maar soveel dat jy wil skei? Of dalk dink hy als is reg, daar’s nie fout nie. Hoe meer geskok en verras hy is, hoe langer gaan hy neem om dit te aanvaar.

Kies ’n tyd wat julle nie gesteur sal word nie. Wees voorbereid op ’n lang gesprek of ’n reeks. As hy nie gereed is vir skei nie (en die kans is goed daarvoor), gaan sy eerste impuls wees om jou daaruit te probeer praat, jou te vertel hoe verkeerd dit sal wees. Hy kan woedend aandring om te weet hoekom jy dit aan hom en die kinders doen en jou van allerhande dinge beskuldig. Dis voorspelba­ar en normaal.

Moenie terugkap nie. Sê bloot die huwelik werk geruime tyd nie meer nie. Dinge kan nie meer reggestel word nie en egskeiding is die enigste uitweg. Julle het albei daartoe bygedra en dit help nie julle blameer mekaar nie. Jou besluit is finaal, niks gaan dit verander nie. Jy sou graag ’n beskaafde egskeiding wou hê waar almal se behoeftes in ag geneem word, syne ook. Jy gaan nie vasval in ’n gesprek oor wie se fout dit is nie. Net maar praat oor hoe om die egskeiding te reël. Jy weet hy het tyd nodig om die situasie te aanvaar en jy sal hom soveel gee as wat nodig is. Dat jy seker is julle sal saam ’n redelike ooreenkoms uitwerk. Daar gaan nog baie sulke gesprekke wees, maar dis al wat jy nou hoef te sê.

Bron: psychology­today.com

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa