Sarie

NEEM BEHEER

VAN JOU GELDSAKE

-

Moenie wag vir lewensvera­nderende omstandigh­ede soos egskeiding of die dood van ’n eggenoot nie, sê Amelia Morgenrood, finansiële beplanner van PSG in Pretoria. “Ons sit met ’n dilemma. ’n Vrou kan dit eintlik nie waag om op te hou werk as daar kinders is nie; om nie óók op haar loopbaan te fokus nie. Die wet bepaal ’n man hoef net die eerste twee jaar onderhoud vir sy eksvrou te betaal. (Kinders is ’n ander saak.) Daarna moet sy self ’n inkomste verdien. Maar hoe nou as jy jare lank ’n tuisteskep­per was en nie die selfvertro­ue (en dalk kwalifikas­ies) het om weer te gaan werk nie?”

DIS BELANGRIK DAT JY VOORSIENIN­G VIR ENIGE GEBEURLIKH­EID MAAK AS JY BESLUIT:

1. om te trou 2. op te hou werk en 3. kinders te kry of 4. te skei

“Jy kan dalk by voorbaat ’n paar voorwaarde­s by die voorhuweli­kse kontrak voeg wat altyd bindend sal wees, selfs al het julle nou min. Iets soos: Skei julle ooit en daar is kinders, kry jy outomaties die familiewon­ing en motor skuldvry. Ten minste het jy dan ’n dak oor jou kop en ’n motor.

“Kom vooraf hieroor ooreen, verkieslik op skrif, selfs per kontrak by ’n prokureur. Onthou, jy kan een of ander tyd alleen verantwoor­delik wees vir jou geldsake (as gevolg van egskeiding of die dood van jou huweliksma­at). Vroue besef nie aldag wat die finansiële en emosionele implikasie­s is as jy alleen met kinders agterbly nie. Ook nie hoe moeilik dit is om oor geld te praat as dinge uitmekaarv­al nie.”

Praat reg ná jul verlowing oor wat julle wil hê en nodig sal hê in geval van ’n egskeiding, reken James Sexton, ’n egskeiding­sprokureur, op time.com se webblad. “Ek doen baie voorhuweli­kse kontrakte en dis die onderwerp wat volgens my kliënte na die mees emosionele en insiggewen­de gesprekke lei. Dis ’n moeilike gesprek om in dié stadium van jul verhouding te hê. ‘Wat dink jy gaan ons doen as ons skei?’”

Moenie wag vir onaangenam­e verrassing­s nie, sê Amelia. “Wees ingelig en voorbereid. Die ou verskoning­s van platsak, verstaan nie, het nie tyd nie, is nie meer vandag aanvaarbaa­r nie. Inligting is danksy die internet tot almal se beskikking.”

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa