Erik le Roux: Stylvolle ‘ekstra’
Hy’s die sjarmante, vaardige mede-aanbieder van Edik van Nantes, maar Erik le Roux beskryf homself as ‘net ’n ekstra’ op stel, ’n ‘kok met ’n bietjie opleiding en baie geluk’
Wat gaan jy doen noudat Edik van Nantes Winter, die laaste seisoen, opgeneem is? Dit was van die begin af ’n familieprojek, en daarmee bedoel ek ’n Nataniël-projek. Ek was bevoorreg om iets saam met hom in die openbare oog te kon doen, maar dit was nooit ’n skuiwergat om ’n nuwe loopbaan te begin nie. As jy eers saam met hom gewerk het, is enigiets anders ’n baie troebel afspoeling. Ek gaan beslis ’n groentetuin begin . . . Wie se plan was Edik van Nantes? Dit was ’n natuurlike sprong vir Nataniël ná sy Tv-reeks Die Nataniël Tafel. ’n Nuwe uitdaging om die begroting deur vyftien te deel, 41 mense na sewe te verminder en steeds ’n beter Tv-program op te dis. Ek was net ’n ekstra. Hy voel jammer vir my omdat ek geen talent gekry het nie. Daar is so ’n 70%-30%-verdeling tussen ons op die skerm. Dis ’n wensituasie vir hom, vir my, die borge en die publiek. Die hele reeks, elke bord, vurk en vadoek is sy werk. Hoe lank woon jy nou al in Frankryk? So twaalf jaar. Ek wou hier bly vandat ek kan onthou. My van is immers Le Roux. Ek bly suid van die Loirerivier, aan die wingerdkant van die dorp [Nantes], so tien minute se ry op my bromponie vanaf die middestad. Ek voel tuis hier. Jy’t ’n verhouding met jou omgewing. Hierdie dorp bevredig die globale gemiddelde somtotaal van wat ek vereis vir my kulturele, professionele en sosiale toebroodjie. Wat doen jy daar? Ek gee Engels by ’n duikbootfabriek en ’n kommunikasieskool. Praat jy vlot Frans? Die taal is ’n doolhof: vloeiend, beskrywend, intens en ontstellend moeilik. As jy nie Frans hier praat nie, is jou twak nat. Dis die kern van die kultuur en die sleutel tot inburger. Ek praat Frans soos my ma Engels praat, sê ek altyd. Mis jy dit om in Suid-afrika te bly? As jy ja sê, bewolk jy jou huidige stand van sake; as jy nee sê, is dit nie patrioties nie. Diplomaties gestel sal ek vandag nooit my twee dogtertjies in Suid-afrika grootmaak nie. Al my besluite word nou vir hulle geneem. Vertel van jou gesin. My vrou werk op die dorp, ry werk toe op ’n fiets, verkies om anoniem te bly, besit nie ’n slimfoon nie en lees een boek per week. Ek dink dit sê alles oor haar karakter en prioriteite. Giulia is vyf en klap al deure toe. Sy lyk soos haar ma. Luccia is nege en wil ’n nuusleser word. Sy lyk ongelukkig meer soos ek. Hoekom is julle vegetaries? Diere is my ding. Sommige mense skenk bloed, gee geld vir kankernavorsing of deel klere uit. Ek kies diere. Die waansin waarmee ons besig is om die planeet te verwoes en die marteling van enigiets wat nie soos ons lyk nie, is skrikwekkend. Gesond, eties en vooruitdenkend is woorde wat op ’n bord bedien kan word. Ek eet wel sekere vissoorte en die redes hiervoor het ek met myself uitgepluis. Hoekom hou julle jul kinders uit die media? Vandag is privaatheid ’n kosbare seëning. In ’n tyd van sosiale media is openbare uitstalling ’n kenmerk van trop-mentaliteit. Ek het geen probleem om bv. ’n foto of twee van my kinders te publiseer nie, soos in SARIE, met rede en sin. Ek is self ook heeltemal onbereikbaar. Besef jou Franse gesin Nataniël is ’n ikoon in SA? Hulle het geen idee van sy geskiedenis of dat hy volksbesit is nie. Vir hulle is hy net die oom met die stywe broeke en sakke vol geskenke. My kinders hardloop letterlik na hom toe wanneer hy opdaag en elkeen gryp ’n been. Almal hier waardeer hom – nie vir wat hy al gedoen het nie, maar vir wie hy is. Is jy ’n opgeleide sjef? ’n Sjef is ’n professionele kosmaker wat ’n eksamen geskryf het. Ek is ’n kok met ’n bietjie opleiding en baie geluk. Ek het al in Engeland en Dublin as kelner, kok en restaurantbestuurder gewerk. Ek verstaan die bedryf, maar daar is kookskoolstudente met meer idees, vernuf en tegniek as ek. Dis lekkerder om te eet as te kook. Hoe het dit gebeur dat jy en Nataniël albei kaalkoppe is? Die mans in ons familie het swak hare. Jy kon dit al kleintyd by ’n begrafnis of ’n troue sien. In my twintigs het ek my hare op ’n warm dag in ’n hotel in Namibië afgeskeer, jare voor hy dit gedoen het. Hy het vir jare ’n bokstert gejel. Ek dink hy het net moeg geraak van elke week nuwe kussingslope koop. Wat is die mooiste les wat jy by hom geleer het? Ek dink nie mense leer mekaar lesse nie. Jy merk karaktereienskappe in iemand op wat afwesig of slapend in jou is en voeg dit dan bietjie vir bietjie by jou eie emosionele visdam. Sy onbeskaamde goedhartigheid is iets besonders. Wat het hy by jou geleer? Ek vermoed om nee te sê. Hy dink ek is mal of olik as ek weier om tienuur soggens soetgoed te eet. Matigheid was nog nooit onder sy bevel nie. Watter kinderherinneringe het jy van Nataniël? Daar is ’n groot ouderdomsverskil tussen ons. Ek onthou drie episodes: Ek het altyd sy kar gewas en gestofsuig wanneer hy Sondae van universiteit af kom kuier het. Daar was ’n klomp kleingeld onder die matte. Eendag het hy met June van Merch opgedaag wat om die kombuistafel kom sit het. Jare later was ek saam toe hy iets by Brümilda van Rensburg gaan aflaai het. Sy was in haar onderklere toe sy die deur oopmaak. Ek is sedertdien ’n groot aanhanger.