Redakteursbrief
Vra my waar’s my happy plek en ek sal sê daar waar ek oor blou waters uitkyk. Waar ek verwonderd staan oor die geheime van die oseaan en die branders se gesus.
Maar ek is goed versigtig vir water. Al het ek so te sê by die see grootgeword met ’n ouma en oupa wat op Hermanus gebly het, waar ons ons dae op die strand en in ’n getypoel deurgebring het. Respek vir die see is ons geleer, maar hoe magtig sy regtig is, sou die tsoenami’s van die laaste dekade of wat ons wys. I simply lost my nerve . . .
Die een in die Indiese Oseaan net ná Kersdag in 2004 wat uiteindelik by die 280 000 lewens in veertien lande geëis het, se impak is tot by ons eie Struisbaai en Gansbaai gesien. Toe volg die verskrikking aan die Japanse kus in 2011, wat boonop tot een van die grootste omgewingskrisisse nog gelei het toe radioaktiewe afvalstowwe uit die Foekoesjima-kernkragstasie begin lek het. Die beelde wat die wêreld ingestuur is, sal niemand vergeet nie. Kuslyne wat verrinneweer is, dorpe en eilande wat nie meer bestaan nie, getraumatiseerde mense wie se lewens vir altyd verander is. ’n Planeet wat met die 2004-aardbewing en tsoenami kort op sy hakke op sy as vibreer het.
Tog, ewe onrusbarend is ’n waterbron wat niks meer het om te gee nie. Vir mens en dier. Ons byna leë damme in verskillende dele van die land en krane wat droogloop, het ons in die laaste maande onderstebo. Want sonder water is daar niks, is ons niks . . . dit is tot 78% van ons liggaam, 80% van ons brein, 70% van ons planeet.
Dié maand is Erfenismaand, en sekerlik is water ons kosbaarste erfenis. Dit bring hoop en moontlikhede. Help ons fokus. Laat ons blom en floreer. Gee ons lewe . . . en voed die siel, sê kenners.
Welkome druppels onlangs oor Namakwaland het opnuut ’n ontploffing van kleur gebring. Uit pure vreugde bedek veldblomme die landskap soos tapyte, en ons voel die verligting. En doer aan die kus van Engeland is dit Lewis Pugh en The Long Swim – so 50 dae se swem in die Engelse kanaal op om die wêreld op die hart te druk dat die mens se oorlewing afhang van die gesondheid van ons oseane. Sonder plastiek en vullis wat dreig om ons rykdom te verswelg.
In dié uitgawe vier ons die wonder van water. Van fotograwe wat water in hul visier het tot ons ekstreme sportvroue wat deur die polsende energie van die oseane geïnspireer word. Ook ons vrouekampioene wat die wêreld se bestes klop vir goud in die swembad, en ’n skoonheidskoningin wat die eenvoudige plesier van ’n waterfoto saam met SARIE in die ateljee gate uit geniet.
Ek het ’n wonderlike spanjoel gehad. Sarah, met die wit en bruin kolle en ’n onversadigbare liefde vir water. Die swembad, selfs die stort met ’n laaste paar druppels op die vloer, was haar happy plek – elke seisoen, elke dag van die jaar. Op die ou end is water ons álmal se happy plek – dit is eenvoudig wie en wat ons is.
Tot ons weer gesels wanneer ons gróót Oktober-uitgawe met ons 10de SARIE Voorbladgesig vanaf 24 September op die rak is. Daardie uitgawe kan jy nooit misloop nie!