Nataniël sê . . .
Was jy al by die nuwe kunsplek? Nee, maar dit lyk nie lekker van buite af nie, daai sementpoppe is aaklig. Is dit die plek wat behoort aan daai vrou met die regaf rokke? Ek dink so, sal gaan inloer wanneer ek tyd kry. Is dit my verbeelding of het hierdie omelet ’n vreemde smaak? Daai kelner het seker sy vinger daarin gehad, mensig, maar hy’s dik! Maar kan iets erger wees as daai plek waar ons verlede week was? Ons het baie lekker geëet by dinges-hulle verlede week, maar toe nooi sy daai paartjie met die siersteenhuis, hulle praat net oor hulle kinders, ek was byna dood. Ek kan dink, dis verskriklik om te maak of jy belangstel! Hierdie gesprek is nie uit ’n riller nie, dis ook nie drie moderne hekse wat hulle volgende aanslag beplan nie, dis bloot vriende om ’n tafel in ’n gewilde restaurant, ’n toneel wat hom ’n duisend keer per dag afspeel, ons almal is gereeld deel van so ’n samekoms. En ons aanvaar so ’n gesprek as normaal, al word daar vir dertig minute aaneen net vuur gespoeg. Ons bedoel dit nie lelik nie, ons is nice mense, ons praat maar net.
Ons is grootgemaak in Afrikaans of ’n ander taal, die meeste ploeg gangbaar deur Engels en kritiek is nou ons derde taal. Ons kom dit nie altyd agter nie, ons wil ophou, maar soos met sigarette of drank is dit ’n versoeking wat ons altyd bybly.
Die Engelse het twee woorde, criticism en critique. Volgens die aanlyn woordeboek word beide vertaal as kritiek, maar daar is ’n groot verskil. Critique word gebruik wanneer daar kommentaar gelewer word op iemand se werk, die tegniese gehalte, die vorm, die inhoud en die resultaat word aangespreek, dikwels met humor, raad, idees, ander moontlikhede en verwysings. Criticism beskryf aanmerkings en opmerkings, dikwels venynig, persoonlik en negatief. EN SO VERSLAWEND. Om te skinder en te beswadder en te verkleineer is heerlik, so maklik en dikwels skreeusnaaks, ons lag heerlik oor ander se tekortkominge. Maar waar kom dit vandaan? Is dit sosiale media? Televisie? Genetika? Mode?
Hoor hier: Lank, lank gelede was die mensdom verdeel tussen die regeerders (adellikes, rykes en kerklikes) en die gepeupel, gewone mense soos ek. Die gepeupel was altyd na aan opstand. Hulle was arm, wonings was primitief, belasting was ongenaakbaar, siekte altyd teenwoordig. Hulle was moedeloos en naby breekpunt, hulle was ook rof en onopgevoed en kon jou met ’n klip doodkap vir ’n brood of ’n stukkie vleis. Die regeerders het besef hierdie gepeupel gaan ontplof as hulle nie ’n vorm van ontlading gegee word nie, hulle moet kan uiting gee aan hulle woede sonder om die hiërargie skade te berokken. Die regeerders besluit toe dat misdadigers in die openbaar verneder moet word, aan die galg, onder die valbyl, op die brandstapel, gekruisig of vasgeketting op die dorpsplein. Die gepeupel mag hulle dan na hartelus beledig en beskuldig van enigiets denkbaar. Die strate was oorvol, die optogte nimmereindigend, die slagoffers is gevloek, gespoeg, geslaan, gestamp en gegooi met enigiets van vrot kos tot modder. Die gepeupel het meestal nie geweet wat die misdaad was nie. Hulle het nie omgegee of iemand moontlik onskuldig kon wees nie. Hulle kon gif braak na hartelus. En was tydelik ontslae van hulle ongelooflike ontevredenheid. En die adel kon asemhaal.
Is dit hoe ons op ons plek gehou word? Ure se realiteit op televisie, alles, ALLES, word nou aangebied as kompetisies: sangers, sjefs, kunstenaars, atlete, skoonhede, dikkes, bekendes, almal word geoordeel. En ons sit en praat saam, kryt hulle uit, niemand hoor ons nie, maar dis pret. En eeue van nou af sal die geskiedenis na ons verwys as die Tyd van Skel.
Ek dink kritiek is broodnodig, daarsonder is daar min kwaliteit of vordering. Ingeligte kritiek. GEVRAAGDE kritiek. ONGEVRAAGDE kritiek, hoe terloops snaaks ook al, is die duiwel se speletjie. Maak my baie bang.