Sarie

Penny & Tatjana oor daai goue oomblik

- DEUR LYDIA VAN DER MERWE

Wanneer jy rég is, voel jy lig in die water. Jy’t ritme, jy gee jou alles. Dan nog net ’n paar lengtes; jou arms en bene is tam. Jy raak aan die swembad se kant en kyk op . . . jy’s eerste, dis goud, ’n wêreldtyd! Só praat twee van SA se grootste vroueswemm­ers nog. Penny Heyns wat tóé ’n nasie na hul asem laat snak het, en Tatjana Schoenmake­r nou, die kampioen van wie ons nog baie gaan hoor

En op die podium? “Met die 100 m het ek gesien die vlag word gehys, gedink ek moet seker iets voel, huil of iets. Ek het jammer gevoel vir Samantha Riley, die vorige wêreldreko­rdhouer, wat derde was. [Penny het vroeër daardie jaar Sam se rekord verbeter en op die Spele weer haar eie een laat spat.] Met die 200 m was dit ’n bietjie anders. Ek het dit dalk ’n bietjie meer ingeneem, meer geniet.”

Die sensasie as jy soos ’n dolfyn deur die water klief . . . “Ek’t borsslag geswem, dit was dalk meer soos ’n padda! As jy taper, geleidelik minder oefen voor ’n kompetisie, voel die water al hoe beter. Jy voel ligter, kry ritme, dit voel maklik. In sport word daarvan gepraat as being in the zone. Jy voel sielkundig sterk, gereed. Jy’t hard gewerk en kan nie wag om te sien wat gaan gebeur nie.”

Waaraan dink jy as jy oefen, oor en oor en oor lengtes swem? “In goeie tye? [Lag.] Jy’s suksesvol as jou fokus hier, in die oomblik is. Aanvanklik in Amerika [aan die Universite­it van Nebraska] het ek dit glad nie geniet nie. Ek het huis toe verlang en in my goggles gehuil. Toe besef ek ek gaan só nooit suksesvol wees nie. En die gewoonte aangeleer om my swemslae te tel – dit beteken my kop is nou hiér.”

Interessan­t dat Penny nie noodwendig deur ’n liefde vir water gedryf is nie. Haar houding was meer pragmaties: Sy het ’n talent en moet dit ontwikkel. “Met tye hét ek dit baie geniet. Ander kere was al wat my in die water hou die feit dat ek voel ek het ’n Godgegewe talent gekry. En Hy gaan my eendag vra wat ek daarmee gedoen het.”

Een van Penny, wat veertien wêreldreko­rds agter haar naam kan skryf, se sterk punte was dat sy so goed kon fokus. Die tye dat sy die beste gevaar het, was sy enkele oomblikke voor die skoot klap feitlik onbewus van wat om haar aangaan. >

< “Dit raak stil, jy hoor byna nie dinge om jou nie. Ek’t altyd ’n paar keer agter die wegspringb­lok op- en afgespring, net om te voel ek’s reg . . . Dis ’n gevoel van ek kan nie wag nie . . . Dis nou as jy gereed is, nie twyfel in jou kop nie. My lyf? Dis vreemd, die tye dat ek die beste geswem het, het ek net voor die resies sit en gaap. Jy’s op jou beste as jy ontspan, jy moet in die water kan vloei, eerder as daarteen swem.”

Op 25 het sy uitgetree. En ja, daarna was dit ’n paar jaar lank ’n aanpassing. Ná Atlanta, in Amerika en later Kanada, was sy buite die swemwêreld anoniem. Nie terug in SuidAfrika nie. “Ek was nie gemaklik dat mense my herken nie. Ek wou eerder wegkruip.” Ja, mense herken haar nog. Maar deesdae het sy vrede daarmee.

Haar identiteit was so lank aan swem gekoppel, sy moes ná haar uittrede uitvind wie sy buite die swembad is. Boonop is haar ma in 2001 oorlede. Die motivering­spraatjies wat sy gee, sorg egter vir ’n nuwe doelgerigt­heid, vul haar weer met #geesdrif. “Dit gee my ’n energiesko­p. Ek hou dalk selfs meer daarvan as swem.” Sy is gemoeid met swemkampe en -klinieke vir jong swemmers. Ook betrokke by FINA, die Internasio­nale Swemfedera­sie, as buro-lid en voorsitter van die atlete-komitee. En uitvoerend­e lid van Swem Suid-afrika asook voorsitter van die atlete-komitee.

Penny woon op ’n plaas buite Pretoria saam met vriende en tien honde. “Ná my uittrede het ek ’n tyd lank swem en sport ’n armlengte weg gehou. Nou het ek rustigheid daaroor. Ek voel ek het ’n volle sirkel voltooi, tot weer in die sportwêrel­d.” Besoek pennyheyns.com

< Op vyf het haar ma haar vir waterveili­gheidsless­e geneem. Sy onthou sy moes met klere en al in die swembad spring, dit uittrek en kant toe swem. Op agt het sy aan kompetisie­s begin deelneem. Sy het in Johannesbu­rg grootgewor­d, maar grotendeel­s danksy haar afrigter, Rocco Meiring, in graad nege by die Tukssport High School ingeskryf. Haar talent vir swem ten spyt was netbal lekkerder. Sy het egter deurgedruk en haar swemtye verbeter. En dit begin geniet.

Tans studeer sy in die finansiële wetenskapp­e aan die Universite­it van Pretoria. Sy is aanstaande jaar in haar finale jaar en wil daarna haar honneurs in rekeningku­nde doen en haar as geoktrooie­erde rekenmeest­er bekwaam. Nie dat sy haarself heeldag in ’n kantoor kan sien nie. “Ek sal maar eers my studies klaarmaak en kyk.” Wat ook al, sy sal ná haar uittrede ook steeds by swem betrokke wil wees. Soos Penny, met die slyp van kinders vir kompetisie­s.

Intussen het haar lewe nie veel verander sedert haar twee goues nie. Volgende jaar lê die Wêreldkamp­ioenskap in Suid-korea en die Wêreld-universite­itspele in Italië voor. Haar studieprog­ram sal bepaal aan watter een sy deelneem.

Mense herken haar nie juis op straat nie. “Nou die dag word ek by ’n polisiever­sperring afgetrek. Die polisieman kyk na my rybewys: ‘Iemand met jou van het goud by die Statebonds­pele gewen.’ Ek sê: ‘Dis ek.’ En hy: ‘Ek glo jou nie.’ ‘ Ja, dis ek.’ ‘Nee! Klim uit dat ek kan sien!’ ”

’n Tatoe? Sy sou graag die Olimpiese ringe wou hê, maar is skrikkerig. “As ek dit laat doen, sal dit klein wees. En op ’n plek waar ek dit maklik kan wegsteek.”

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa