Nataniël vat kunste dorp toe . . .
KOM HOU SAAM
Verbeeljou . . . Nataniël en ’n handvol guitige kunstenaars in ’n retro-kombi vaar ’n plattelandse dorpie klingelend binne.
Almal hou asem op en kyk. Dis ’n hele Optog – hulle kom konsert hou op jou dorp. Hier kom vir jou ’n ding, want Optog, die naam vir hierdie uit-die-boks-uit-konsep in die Afrikaanse vermaaklikheidswêreld, gaan kuns na die mense toe bring.
Dis bedink deur die musiekregisseur Matthys Maree, bekend vir innoverende suksesse soos die musiekproduksies Afri-frans en Afri-spaans. Nataniël het die naam “Optog” uitgedink en is die “gesig” van die veldtog.
En SARIE marsjeer trots saam, as een van die mediavennote. Optog is ’n gedekonstrueerde kunstefees – jy sien dus nie ’n klomp vertonings in vyf dae nie, maar versprei oor ’n paar maande. En die hele konsert kom na jóú toe. Sowat 20 produksies sal oor ’n tydperk van 10 maande by 32 venues op 26 dorpe aangebied word.
Matthys, wat grappenderwys bekend is as “Die busdrywer” (of stuurman) van Optog, het al in 2016 hieroor begin droom. “Van teater in vervloë dae, soos toe ek op Oudtshoorn grootgeword het, lank voor die kunstefeeste en Skouspel, Afrikaans is Groot, of die toneelstuk Fiela se kind in die destydse Nico Malan (nou Kunstekaap). Toe my pa ons in die Peugeot-stasiewa op naweek-uittogte geneem het. Tye verander, musiek verander en ook die manier hoe dit by mense uitkom. Kuns word al hoe meer in stede, of op net een dorp tydens feeste, aangebied. Dit is tyd om iets te verander.”
Dít is hoekom hy Optog geskep het. “Die kunste is broodnoodsaaklik. Dit is die stem van die mense, dit gee hoop en bied ontvlugting, dit bou ons op. Soveel teaters op klein dorpies – mooi geboue – staan vervalle, toe onder stof, en ons wil hulle weer nuut maak en produksies identifiseer wat wind in die seile kan blaas van daardie venues.”
Optog is byna soos die sirkus en troebadoers en rondgaande teater van toe. “Ons herontwerp nie die wiel nie, ons keer bloot terug na die vroegste formaat deur kleiner vertonings na die mense te neem. Regeringshulp aan die kunste het oor die jare drasties gekrimp, maar in die wêreld is dinge dikwels siklies. Soos ’n konsertina wat in- en uitasem, wil Optog nuwe lewe inblaas.”
En dit sal meer as net produksies wees. “Ons kan hier en daar ’n laag verf aanbring, ’n mikrofoon of ’n nuwe kleedkamer. Klein dingetjies, wat die boodskap dra dat iets weer aan die gebeur is.” Volgens Nataniël sê Optog presies wat hulle gaan doen: “Ons marsjeer jou plek binne, bring vermaak, hoop en herstel, en marsjeer dan na die volgende plek.”
En wie sal beter weet wat kan werk? Nataniël tree immers al 30 jaar lank oral op – van Covent Garden in Londen tot op die kleinste plattelandse gehuggies.
Johan Hendriksz, Optog se “Padbouer” (nasionale logistieke koördineerder), sê trouens: “Nataniël ken elke plattelandse ‘tannie’ op die naam.”
Nataniël se sentimente oor die platteland loop wyd. “As ek aan die platteland dink, onthou ek my ouma, tuisgemaakte jogurt, stilte, bome, vrees, eensaamheid, kleintyd, konserte in die kerksaal, tantes met opwindende donker huise, orrel oefen in ’n groot kerk, fietsry op ’n warm pad, verlange en plaasbrood.”
Maar hy voeg vinnig by Optog is nie eksklusief op die platteland gemik nie. “Dis vir almal, ons gaan na stede en groot teaters ook.
“Ek het betrokke geraak omdat ek nie van die feeskultuur hou nie en die eertydse glorie van goeie teater en werkende teaters wil help herstel. Ek het grootgeword op klein dorpies, in ’n tyd toe toneelstukke en musiekkonserte deur rondreisende geselskappe aangebied is. Dit het my lewe verander, my aan die gang gehou met die belofte van magic. Almal moet dit beleef.”
Hoekom is Optog belangrik? “Eerstens moet mense weet dat daar gereeld teater op pad is, dat hulle gereeld mooi kan aantrek en na iets gaan kyk. Ek verafsku die neiging dat mense informeel en met aaklige plakkies en kortbroeke na >
< shows kom kyk. ’n Verhoog is ’n heilige plek, dis waar talent en harde werk en onverklaarbare dinge bymekaar kom om iets magies te skep.
“Tweedens is daar ’n hele generasie van kunstenaars wat nie omgee om in stof, tente, lapas, sommer enige plek, op te tree nie, solank hulle net betaal word. Maar daar is ander, soos ek, wat in teaters hoort, en ons werkplekke is aan die verval weens politiek, onkunde en verkeerde prioriteite. Ons wil versorg en herstel. Die dag as teaters en sale nie meer in ’n goeie toestand is nie, is ons verlore.”
Dit is nie ’n korttermynprojek nie. “Elkeen kan ’n bydrae lewer – een maak matte skoon, een help met publisiteit, ’n ander diens klaviere, of maak kleedkamers skoon, lei personeel op. Geleidelik sal ons agterkom watter gemeenskappe ondersteun Optog. Ons gaan nie tyd en geld mors op plekke wat nie hul kant bring nie. Hierdie is ’n geleentheid om individue te inspireer, ’n jonger geslag van selfone weg te kry, waar ’n paar individue met drome kan wys alles is moontlik. Ons is ongelukkig deel van ’n samelewing waar net ’n paar alles probeer doen en die res sit en blaf op Facebook.” Van hoek tot kant is die land deur Matthys en Johan deurkruis om te kyk watter plekke sal werk vir Optog. Johan sê: “Die kontakte by al hierdie venues is dikwels net so belangrik, indien nie meer as die teaters self nie.” Matthys vertel tydens die recce moes hulle dikwels hul lyf speurder hou en mense gaan soek buite teatermure: skoolpersoneel, restauranteienaars en kunsliefhebbers, wat noodgedwonge moes inspring om meer te vertel van watter moontlikhede beskikbaar is. Hordes onderhoude is gevoer. Onder die dorpe en stede op die program tel van Kaapstad tot Pretoria, van Rustenburg tot Upington en Stellenbosch – en baie ander, sommige met meer as een venue. In die soektog na geskikte venues, veral op klein dorpies, het interessante staaltjies aan die lig gekom. Veral Nataniël kan ’n pandoraboks vol kleindorpse stories deel. By hom hoor jy merkwaardige verhale van beligting wat inderhaas herbedraad is, kaartjiekantore wat feitlik ontsmet moes word, kleedkamers sonder ’n enkele stoel, of pragtige ou klaviere wat onder die vaardige hande van die pianis Charl du Plessis weer gediens word voor ’n konsert. Soos die projek vorder, sal nóg openbaringe gemaak word, plus dalk ’n dorpspook of twee wat agter die verhoog kan verskyn . . . ’n Liplekker samestelling van kunstenaars is op die spyskaart. Sowat sewentig persent is van die grootste name in die Afrikaanse musiekbedryf (die res kom uit ander genres soos teater, sien bl. 52) – soos Nataniël self, Drie van die Bestes (Mathys Roets, Kevin Leo en Danie Niehaus), Laurika Rauch, Corlea, Vicky Sampson, Jo Black, en baie ander. Die sangeres Anna Davel gaan saam met SARIE konsert hou.
Anna vertel sy het ’n sterk band met die platteland. “My gunstelingdorpe is Rosendal in die Oos-vrystaat en Philadelphia in die Wes-kaap. Dit is my happy plekke – ek hou van die stilte, die hegte gemeenskappe. Op Rosendal loop die koeie tussen die huise rond, en op Philadelphia loop die bottergeel kanola-landerye in die lente tot teenaan die huise.”
Sy is dankbaar om by Optog betrokke te wees as kunstenaar en produksiekoördineerder.
Jo Black vertel hy is mal oor die platteland as hy stilte en rus soek en hy hou van die Noord-kaap.
Klein dorpe laat hom terugdink aan kattekwaad in die strate van Reitz waar hy grootgeword het, sê Mathys Roets. “Élke keer as ek op die platteland sing, is dit ’n lekker gevoel van almal wat mekaar ken. Jy mis dit in die stad. Ons drie [Drie van die Bestes] wil nou by nog meer mense uitkom en ons musiek en pret op die verhoog uitleef en deel.”
Vir haar voel dit soos ’n tuiskoms, vertel Laurika Rauch. “My optredes in die eerste jare van my loopbaan het grootliks bestaan uit konserte soos wat Optog beloof. Dis op ’n manier ’n tuiskoms, ’n volle-sirkel-gevoel om weer die pad te vat – weer in ’n Kombi, soos destyds, in ’n gees van kameraderie, van dorp tot dorp.
“Ek is lief vir plattelandse mense se gulheid en gasvryheid. As kinders het ons vakansies dikwels op my pa se twee neefs se plase in die Moorreesburg-distrik in die Swartland gaan kuier. Van my beste kinderherinneringe is van daardie vakansies. Ons het soms koekemakrankas met ’n donkiewa gaan uithaal en daar was nie altyd krag nie. Saans het ons met olielampe die lang donker gang afgeloop. As ek Chris [ Torr, haar man] se liedjie ‘Die gang’ sing, dink ek altyd aan daardie dae. Ons het ook op familie van my ma se Vrystaatse plase gekuier, en later, ná my en Chris se troue, het ons dikwels tydens Kersvakansies op my skoonouers se Karooplaas gaan kuier.
“Die lys van medekunstenaars wat Optog gaan meemaak, lees soos ’n who’s who van plaaslike talent. Ek is trots om ingesluit te word en kan nie wag nie. Ek glo die doel gaan bereik word – om lewe in en rondom die plattelandse teaters in ere te herstel, om klaviere en toerusting weer op standaard te kry en om ons kunstenaars by die mense te kry.” >
Elke kunstenaar doen sy eie ding, sê Nataniël. “Die gehoor moet weet dat elke vertoning iets anders is. My vertonings het kostuums, ander vertonings het ander elemente.”
Die voorlopige program sluit in twee teaterstukke, Drie Susters met Margit Meyer-rödenbeck, Lizz Meiring en Nicole Holm, en Nêrens, Noord-kaap (Albert Pretorius, De Klerk Oelofse en Geon Nel), wat albei reeds op feeste opgevoer is. Daar is ook een klassieke musiekproduksie, waarskynlik met internasionale supersterre, en ’n konsepshow, O my folk! (net op vyf universiteitskampusse op die planke), wat aan jong, alternatiewe Afrikaanse musieksterre blootstelling sal gee. ’n Groot trekpleister, met ’n kort speelvak, sal die gesamentlike vertoning van sangeresse Corlea Botha en Vicky Sampson wees.
Johan wil nog nie te veel verklap nie. Wat hy nou vertel, is maar net die lusmakertjie vir wat voorlê . . .
Maar, sê hy, hierdie konserte is die gerieflikste konserte nóg – die konsert kom na jou en jy hoef nie maande vooruit te bespreek of elders heen te reis en vir vliegkaartjies en hotelle te spaar nie. Bo en behalwe die sterre op die verhoog is daar nog drie “regte sterre” – wat by elke stad of dorp sal aankondig die Optog is in aantog.
Reg geraai – dit is die drie guitige retro-kombi’s uit die jare 50 – in ’n nimlike seegroen, vuilpienk en bruin. Anneli Karsten van die Paarl, mede-eienaar van die Vintales-handelsmerk wat die Kombi’s (en wyn) bemark, is #geesdriftig verby om deel van Optog te wees.
“’n Kombi is ’n nostalgiese ding. Jonges dink dit is funky, die ouer generasie het lekker herinneringe. En dit werk uitstekend vir bemarking – ons het dit al gereeld op wynskoue en ander feeste gebruik,” vertel sy.
Die oulike Kombi’s het Matthys se oog die eerste keer getref by ’n kaasfees buite Stellenbosch. Hy wou juis een op Mosselbaai koop vir Optog. “Maar toe ek uitvind Anneli het naas dié een wat ek gesien het, nóg drie, was die koeël deur die kerk.”
Binnekort word dié Kombi’s volgepak met Afrikaanse talent. Laat die Optog begin!