Sarie

Kuberkuier: Gent, België

As jy aan België dink, dink jy aan bier, sjokolade en voetbal. Maar dit bied soveel meer, vertel Tina Boetzkes wat al tien jaar in die stad Gent woon

- DEUR LIESEL PIENAAR

Wat het jou laat besluit om België toe te trek? Ek is in Nederland gebore, maar het in die laat 1950’s as dogtertjie saam met my ouers en broer na Suid-afrika verhuis. Ons het in die Paarl gewoon, waar ek my skoolloopb­aan voltooi het en ook later getroud is. Ná ’n paar keer se trek het ek in Randburg by my dogter gaan woon. Die tydskrif waarvoor ek gewerk het, moes sluit, en weens my ouderdom was dit moeilik om weer werk te kry.

My vader wou graag teruggaan Nederland toe en ek het my moed bymekaar geskraap om terug te keer na Europa. Ná 50 jaar in Suid-afrika was dit hartverske­urend om my familie agter te laat. In Nederland gekom, kon ek ook nie werk kry nie, ondanks talle pogings. ’n Vriendin saam met wie ek vroeër in Suid-afrika gewerk het wat in Gent woon, het gemeen ek sou makliker werk in België kry. Met die steun van die vriendin en my familie in Nederland het ek gou gevestig geraak in Gent. Waar het jy toe werk gekry? Ek is nou amptelik afgetree nadat ek tot einde Augustus 2017 by Bayer Crop Science hier in Gent gewerk het. Ek was bang ek sou vereensaam, maar die teendeel is waar. Ek moes natuurlik verhuis omdat ek dit nie meer kon bekostig om in die middestad te bly nie, maar het toe in ’n buurt – Gentbrugge – beland waar die mense nog regtig “dorps” is. Goeie bure, ’n mark om die hoek elke Maandag, en die baie kinders maak die buurt baie aangenaam. België is een van die 20 beste lande om in te woon. Hoekom? Soms as jy die Belge hoor kla, sou jy dit nie dink nie, maar ek wat as vreemdelin­g hier beland het, ervaar dit anders. Hier is verskeie instansies wat jou opvang as jy op die een of ander manier tekort het, en hul mediese sorg is baie goed en bekostigba­ar.

Wat my die meeste getref het toe ek hier aankom, is die tyd en geld wat hulle aan hul kinders bestee. Hier is geen tekort aan speelparke en spesiale gebeurteni­sse wat net om kinders draai nie. Kinders tot 12 jaar kan gratis treinry, en albei ouers kan ouerskapve­rlof neem met skoolvakan­sies. Die owerheid betaal ook vir elke kind ’n toelae of “kinderbijs­lag”, wat baie help met die koste van kinders grootmaak. Met warmer weer word sekere strate tydens skoolvakan­sies daagliks vir ’n bepaalde tyd vir verkeer gesluit, sodat kinders na hartelus kan baljaar.

Maatskappy­e wat 55-plussers in diens neem, ontvang ’n subsidie om seker te maak dat talent nie verlore gaan nie. Mense ouer as 65 betaal ’n spesiale tarief op die treine en dan ry jy onbeperk en so ver jy wil in België. Dieselfde geld vir die trems en busse.

As ouer persoon wat laat hier begin werk het, kry ek ’n maandeliks­e toelae van die staat buiten die pensioen wat ek verdien het in die nege jaar wat ek gewerk het. Ek betaal ook ’n spesiale tarief vir krag en water. Fiets of motor? Ek het nog nooit ’n motor nodig gehad hier in België nie. Die openbare vervoer is so puik dat ek oral kan kom sonder veel moeite. Die fietspaaie is goed en nuwes word gedurig aangelê. Ek stap graag en selfs soms alleen saans, maar voel nooit dat ek gedurig oor my skouer moet kyk nie. Natuurlik moet jy jou gesonde verstand gebruik en nie gaan rondloop in buurte waar dit wel gevaarlik kan wees nie. België is bekend vir . . . Sjokolade en bier! En voetbal!

Self drink ek geen bier nie, behalwe Kriek, wat gemaak word van vrugte soos kersies. Vroeër het byna elke dorp en stad in België hul eie brouery gehad en hier is seker so 150 van hulle. Dan is daar nog die abdybiere, waarvan sommige al sedert die elfde eeu gebrou word. Daar word vertel dat die water in die Middeleeue hier in Gent nie so suiwer was nie en daarom het almal, kinders inkluis, bier gedrink, maar darem ’n meer verwaterde weergawe!

En dan die sjokolade. Maak nie saak waar jy in België toer nie, êrens sal jy minstens een “ambachteli­jke chocolater­ie” aantref – plekke waar die mense hul eie sjokolade maak. Baie van hulle reis oorsee om kakaobone te koop. Glo my, ek het gou geleer om nie by die eerste winkel in te stap en te koop nie, want net ’n paar treë verder is daar beter en lekkerder sjokolade. En die beste van als is, die meeste van hulle het wat ons “proevertje­s” noem.

Wat die voetbal (sokker) betref, het ek nog in Suid-afrika altyd gedink dat baie van my familie rugbymal is. Maar toe het ek nog nie sokkeronde­rsteuners geken nie. Nou met die Wêreldbeke­rtoernooi het die strate vol gehang van vlae en die mense (meestal mans) loop rond in hul span se klere en hul span se kleure op hul gesig geverf. Enige uitdagings? Ek bekommer my tog oor wat van my gaan word as ek nie meer so beweeglik is nie, ver weg van almal wat ek liefhet. Die afstand van my kinders en kleinkinde­rs is groot, maar dankie vader vir Skype en Whatsapp. Hopelik kan ek nog gereeld daarnatoe reis en hulle hiernatoe kom om my te besoek.

Ná al die tyd hier is die taal ook nog soms ’n uitdaging. Coke staan byvoorbeel­d vir kokaïen, dus bied jy jou gaste liefs Cola aan. En ’n “coffee shop” is ’n plek waar mense dagga rook. As jy hier van my vriend of vriendin praat, dan beteken dit eintlik jou geliefde. Geen wonder hulle het aan die begin gedink ek het vreeslik baie verhouding­s aan die gang nie!

Party Afrikaanse woorde is vir die Belge baie mooi en dan praat hulle van “wat een grappige of leuke taaltje”. Oor een ding stem die Belge en die Nederlande­rs saam – Afrikaans beskryf ’n ding soos dit is. My buurvrou kan nie ophou praat van die feit dat ons “deodorant” reukweerde­r noem nie.

Hoe ervaar jy die mense? In die begin was dit regtig moeilik vir my. Die Belge (veral die ouer mense) behou hul afstand. Die meeste mense skram ook weg van aanraking. Selde indien ooit kyk hulle op straat reguit na jou, hulle glimlag nie maklik nie en hulle sal nie sommer met jou gesels as hulle jou nie ken nie. Ek het geleer dat hulle nie maklik hul medemens vertrou nie, maar dis as gevolg van die feit dat België in die twee wêreldoorl­oë behoorlik aan die kortste ent getrek het. Deur die jare het ek egter vriende gemaak wat ek hoop vir lewenslank is. Watter toeriste-attraksies is daar nog? Gent het pragtige kanale in die middestad waar die ou hawe vroeër was. Hier kan mense op die “bootjes van Gent” rondvaar met ’n gids wat jou soveel moontlik van alles vertel. Om deur Gent se middestad te stap is om ’n tree terug te neem in die Middeleeue. Sommige strate het steeds keistene, of “kasseien” soos dit hier genoem word. Hoëhakskoe­ne is dus nie aan te bevele as jy hier rondloop nie.

Elke Julie is hier die Gentse Feesten wat mense van oor die wêreld trek. Dan word byna elke straat en plein in die middestad in ’n verhoog omskep. Gent het ook pragtige ou kerke – of katedrale – waarvan sommige uit die elfde eeu is.

Een ding waarvan ek besonder baie hou, is die antiekmark­te. Ek woon ook gereeld dié in Brussel, Antwerpen, Leuven en selfs in Lille by as die weer dit toelaat.

Nog iets wat ek fantasties vind van Gent, is dat jy binne ’n kwessie van kilometers in ’n natuurgebi­ed kan uitkom en gaan rondloop, of fietsry. En sommige plekke selfs swem. Ek woon naby die Gentbrugse Meersen en die Schelderiv­ier, wat vir baie ure se ontspannin­g sorg. Aangrensen­d tot die meersen (wat letterlik moerasse beteken) is daar ’n speelplek vir kinders, ’n fiksheidse­ntrum en volkstuint­jies – ’n plek waar mense ’n stuk grond kan huur en dan groente kan plant en selfs ’n skuurtjie oprig om hul gereedskap in te bêre. Is dit baie duur om in België te woon? As jy hier kuier uit Suid-afrika, is dit ongeloofli­k duur, maar natuurlik is alles relatief. Salarisse is oor die algemeen goed en daarom is die meeste dinge taamlik bekostigba­ar. Ek sal dit nooit kan bekostig om ’n huis te koop nie, en ek weet dat baie jong mense ook sukkel – maar dan is dit ook nie veel makliker in Suid-afrika nie. Vir my is klere en kruidenier­sware baie billik en soms selfs goedkoper as in Suid-afrika wanneer ek die pryse vergelyk. Hoe is die behuising? Gent veral het meestal huise en geboue van drie verdieping­s en meer. My neef se kleindogte­r noem Gent “die plek met die stapeltjie-huise” – ’n baie oulike en raak beskrywing! Ek woon op die eerste verdieping van ’n gebou wat uit die 1930’s dateer in ’n tweeslaapk­amerappart­ement. Al die wonings het natuurlik sentrale verhitting, wat noodsaakli­k is as temperatur­e so om die vriespunt en laer rondkuier. In die buitewyke kry jy ook baie mooi gesinswoni­ngs, met ruim voorsienin­g vir minder gegoede mense danksy maatskapli­ke wonings. Watter reuke mis jy die meeste van Suid-afrika? Die nat reuk van die veld nadat daar so ’n Hoëveldse donderbui was. Ook die reuk van die see – vreemd genoeg ruik die see hier vir my net nie dieselfde nie, nie na see nie. Dit het blykbaar te doen met die jodium-inhoud van die water. En iets wat hier nie sommer toegelaat word nie – so ’n basaartafe­l by die ingang van ’n winkel waar boereworsr­olle of vetkoek verkoop word.

 ??  ?? Die Gotiese SintNiklaa­skerk in die ou stadskern. Dis in die 1300’s gebou.
Die Gotiese SintNiklaa­skerk in die ou stadskern. Dis in die 1300’s gebou.
 ??  ?? Die ou Braemkaste­el in Gentbrugge, tans tuiste van ’n musiekskoo­l.
Die ou Braemkaste­el in Gentbrugge, tans tuiste van ’n musiekskoo­l.
 ??  ?? Woonbote op die kanaal Visserijva­art.
Woonbote op die kanaal Visserijva­art.
 ??  ?? Met die trem, te voet, op ’n fiets . . . op pad na die ou Korenmarkt.
Met die trem, te voet, op ’n fiets . . . op pad na die ou Korenmarkt.
 ??  ?? Tina Boetzkes
Tina Boetzkes
 ??  ?? Die hawe in die diepseekan­aal wat lei na Terneuzen, Nederland. ONDER ’n Appartemen­t-kuier saam met oud-kollegas, almal steeds goeie vriendinne.
Die hawe in die diepseekan­aal wat lei na Terneuzen, Nederland. ONDER ’n Appartemen­t-kuier saam met oud-kollegas, almal steeds goeie vriendinne.
 ??  ?? ’n Bierhuis aan die Waterkant. Die Sint-petrusen-pauluskerk in die stad Oostende. Dis in 1899 deur koning Leopold II laat bou. ’n Tipiese chocolater­ie. BO ’n Bierbrouer­y uit die 16de eeu, deesdae ’n restaurant.
’n Bierhuis aan die Waterkant. Die Sint-petrusen-pauluskerk in die stad Oostende. Dis in 1899 deur koning Leopold II laat bou. ’n Tipiese chocolater­ie. BO ’n Bierbrouer­y uit die 16de eeu, deesdae ’n restaurant.
 ??  ?? BO ’n Stukkie Afrikaans by die Yada Yada-mark buite Amsterdam. ONDER Ek en Valeska, oud-kollega en vriendin.
BO ’n Stukkie Afrikaans by die Yada Yada-mark buite Amsterdam. ONDER Ek en Valeska, oud-kollega en vriendin.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa