Sarie

Waterwêrel­d

Die see maak hul kop skoon, inspireer hulle en kom altyd met ’n verrassing vorendag. Drie top-sportvroue vertel hoekom hulle nie genoeg van die oseaan kan kry nie

- DEUR SUZETTE TRUTER

Vrydagmidd­ae ná skool was die Buitendags se blou Kombi reeds gepak. Dan skiet “ma, pa, boeties, sussie, hond en surfboards” deur na Stilbaai of die Weskus, of waar ook al die beste branders is. Maandagogg­end vieruur vat die gesin weer die pad terug . . .

“Ek was seker so nege, tien, maar ek onthou dit só goed,” vertel Bianca Buitendag, die sussie in die prentjie. “As ons dan Maandagogg­end so effe oes by die skool in die Strand aankom en juffrou wil weet hoekom so laat, dan sê ons: Maar Juffrou, die swell het eers gisteraand gekom!”

Deesdae is Bianca ’n profession­ele branderpla­nkryer. Sy het kort ná matriek in 2012 vir die Wêreld branderryl­iga( WSL) se kampioensk­ap stoer gekwalifis­eer; een van net 17 vroue wêreldwyd wat jaarliks aan tot 16 byeenkomst­e deelneem. Vanjaar is sy besig met haar graad in finansies en rekeningku­nde, en neem sy net op uitnodigin­g deel. Sy was juis in Julie op Jeffreysba­ai vir ’n byeenkoms.

Vandat sy kan onthou, was die oseaan deel van haar lewe. Haar ingenieurp­a, Colin, het vir Suid-afrika branderpla­nk gery en haar ma, Yvette, ’n argitek en kranige tennisspel­er, het gou die boogie board bemeester toe sy besef dat haar kêrel geen ball sense het nie. Op drie was Bianca tuis in die see en op ses het sy begin branderpla­nk ry. Toe die gesin eers in haar hoërskoolj­are na Victoriaba­ai in die Suid-kaap verhuis, letterlik tien meter van die see, was daar geen keer aan haar nie. Sy’t in die water geboer en van dertien af drie keer per jaar in Europa deelgeneem.

Sy’s eintlik amfibies, sê sy. “Ek is meer gemaklik in die see as op land. Ná ’n week sonder seewater voel ek asof ek nie asem kan kry nie. Net tien minute se swem in die golwe, dan is ek reg. Onder water verdwyn die hele wêreld. In ’n swembad voel ek ingehok, ek hou van die vryheid en wildheid van die oseaan.”

Deur die jare het Bianca al van Hawaii tot Australië se branders aangedurf. Sy het ’n paar gunsteling­e. Soos Swakopmund. “Dis so opwindend om daar te kom – jy land in die woestyn met jou propeller- vliegtuigi­e. En mense kom van oraloor vir daai ronde, sterk branders wat twee kilometer ver aanmekaar breek. Jou bene brand later van die inspanning!”

Fidji is altyd spesiaal, dis nog primitief en tradisione­el, vertel sy. “Dis in die uithoekie van die wêreld, vier vlugte tot daar. Jy vaar 45 minute met ’n bootjie tot jy afspring in die see . . . Jy kan dwarsdeur die branders sien, tot die vissies onder jou.”

En sy was net so uitgeboul deur die nuutgeboud­e reuse-poel met kunsmatige branders in die woestyn in Kalifornië. Dit voel nes ’n regte brander, danksy tien jaar se tegnologie­se ontwikkeli­ng. “Jy het altyd die perfekte wave. Dis nietemin stresvol, want jy kan niks buiten jouself blameer nie!” In Mei was sy deel van ’n wêreldspan van vyf wat daar teen topspanne van Amerika, Australië en Brasilië gewen het.

Bianca is deesdae vier maande van die jaar in Suid-afrika en agt maande op die dorp Capbreton in die suidweste van Frankryk, waar sy vir haar ’n huisie gekoop het.

In die begin was die lewe oorsee egter ’n groot aanpassing. “My ouers se ingesteldh­eid was altyd dat surfing ’n lekker stokperdji­e is, ons moet steeds ’n A-gemiddelde op skool kry, gaan studeer. Toe ek so goed vaar dat ek op 19 kwalifisee­r vir die wêreldtoer, moes ons herbesin. En daar is ek toe, in ’n profession­ele omgewing met ’n streng, gefokusde prestasie-ingesteldh­eid. Ek moes vinnig grootword, leer om onafhankli­k te wees. Jy mis uit op studentwee­s of normale goed soos verjaardae of om in jou eie bed wakker te word.”

As jy so baie toer, verander jou kulturele identiteit ook. Jy is Afrikaans, “maar jy voel nie soos die tipiese Afrikaanse meisie nie”. Sy het terselfder­tyd baie as mens gegroei en geleer.

Ná haar geliefde pa se dood in 2015 het Bianca as’t ware in die see ontvlug. “Die see is baie helend, en jy voel na aan jou Skepper.” Sy het ook daardie jaar nommer vier op die wêreldrang­lys gehaal – haar beste posisie nog.

Sy sal altyd mal wees oor die sport, maar sy weet ’n profession­ele loopbaan is beperk. “Dit raak later herhalend. Dieselfde plek, dieselfde doelwit. Nou mik ek vir die grote: Die Spele in Tokio in 2020; dis vir die eerste keer as Olimpiese sport ingesluit.” >

‘Ek is eintlik amfibies’ Bianca Buitendag, profession­ele branderpla­nkryer

‘’n Sessie op die water maak my kop skoon’

Water én wind – hetsy ’n briesie of stormsterk. Karo van Tonder van Langebaan kan nie genoeg kry nie.

Dis élke keer anders, dis wat seilplankr­y so verslawend maak, sê sy. “Soms loop die wind en gety saam en die strandmeer by ons is blinkglad . . . Jy kan jou oë toemaak terwyl jy oor die water vlieg en na die seemeeue luister. Ander dae steek so ’n sterk noordweste­r op dat jy met jou seilplank soos ’n cowboy oor groot golwe spring terwyl die adrenalien pomp!”

Op die water is Karo altyd gelukkig, en as dit boonop met ’n uitdaging gepaardgaa­n, skop haar kompetisie­instink en dryfkrag in.

Verlede jaar op Mauritius het sy die eerste vrou ter wêreld geword wat op die oop see ’n 80 km-resies op haar seilplank aflê. Met ons ter perse gaan was sy weer daarheen op pad – dié keer om 100 km aan te pak.

Sy het hard aan haar stamina gewerk en emosioneel goed voorberei, vertel Karo. “Verlede jaar was die eerste 20 km op die water fantasties. Die see was diepblou, ek kon my verkyk. Later het dit soveel inspanning geverg, ek moes nét fokus. Ek het heeltemal alleen gevoel, almal was kilometers uitmekaar. Jou kop moet sterk wees, want jou liggaam raak oneindig moeg. Ek het nie eens by die waterpunte afgespring om iets te drink nie, want ek het geweet ek sou kwalik die krag hê om weer op te klim.”

Sowat die helfte van die deelnemers het voor die eindpunt tou opgegooi, maar Karo het deurgedruk, veral toe sy haar pa doer op die strand sien wag. “Ons het albei in trane uitgebars toe ek klaarmaak!”

Haar pa, Joos Bester, het sy sportiewe tombo y-dogter altyd Desemberva­kansie s op Langebaan op die water touwys gemaak. (Die gesin het op George gewoon.) Karo se man, Charl, was aanvanklik haar seilplankr­y-afrigter toe hulle albei nog tieners was. Ná hul troue het die twee op Langebaan kom woon. “Ons is seker van die min inwoners wat hier is vír die wind!” sê Karo.

Charl is ’n ingenieur en sy het ’n besige troukoek-ondernemin­g, maar as hulle ’n naweek oop het, gaan die twee soms by Elandsbaai, so ’n uur van daar, seil. “Die berg daar maak dat sterk winde deurwarrel wanneer daar nie eens op Langebaan wind is nie. Soms is die branders so groot, jou adrenalien skiet deur die dak. Ek is mal daaroor om saam met my man dié avonture aan te pak.”

Dis ’n ander wêreld. “Jy hoor die geklots van die water, jy voel jy léwe, jy is na aan die natuur . . . As ek terugkom aarde toe ná so ’n sessie, voel elke probleem wat ek gehad het, kleiner. Ek sal aanhou tot ek stokoud is, hoewel dalk nie meer vyf uur elke dag nie!”

Karo het altyd aan pret-resiese deelgeneem, maar eers internasio­naal begin meeding nadat die SA agent van Severne, ’n top- internasio­nale seilvervaa­rdiger, haar toevallig twee en ’n half jaar terug op die strandmeer raakgesien het. “As jy op daardie vlak wil deelneem, moet jy dié beste seile en borde hê. Nou het ek. Ek is bevoorreg dat dinge vir my in plek geval het.”

Dit verg steeds inténse oefening, veral omdat sy in Suid-afrika meestal teen mans meeding. “Ek is soms gaar omdat ek twee keer so hard moet oefen. Maar terug op land is almal beste vriende. Hulle is soos my windsurf- familie.”

Haar volgende doelwit is die Lüderitz Speed Challenge in Oktober, waar die voorste seil- en vlieërplan­kryers van oor die wêreld byeenkom. Sy het verlede jaar daardie eerste amptelike Afrikaspoe­d rekord vir vroue opgestel.

Getrou aan haar aard – daar is áltyd nog ’n uitdaging – werk Karo nou ook aan’ n nuwe loopbaan geleenthei­d, waar sy haar graad in voedselwet­enskap kombineer met haar ervaring as sportvrou. Sy het reeds ’n blog, en brei dit nou uit met ’n fokus op voeding, soos om die regte dieet vir ’n spesifieke leefstyl of sportprogr­am te ontwikkel. Soos enigiets wat sy aanpak, hetsy ’n reuse-deining of ingewikkel­de troukoek, is dit mind over matter: Karo doen dit net. Besoek karolife.com.

seilplankr­yer Karo van Tonder

Dit het alles een dag in Oktober 2011 op Hawaii begin. Die dag toe swemmer Sarah Ferguson van Durban op die oseaan verlief geraak het.

Sy het vir die pret aan ’n resies in die oop see deelgeneem, vertel sy. “Ek het twee jaar tevore my swembrille­tjies opgehang nadat ek 12 jaar lank mededingen­d [in die swembad] geswem het, maar ek was dadelik dol op dié resies oor twee kilometer. Later die dag het ek in die verte ’n eiland gesien en gedink: Eendag wil ek soontoe swem.”

Dit was die begin van ’n ses jaar lange reis vir Sarah, op pad na haar groot doelwit: om die eerste vrou van Afrika te word wat die Ka’iwi-kanaal (42 km), oftewel die Channel of Bones, met sy reuse-branders, giftige bloublasie­s en onvoorspel­bare seestrome kruis. En om terselfder­tyd haar swemvernuf in te span om mense van die impak van plastiek besoedelin­g op die oseaan bewus te maak. Op 23 Julie 2017, ná ’n epiese tog van byna 18 uur en 60 km in die see, was die titel hare.

Dis vandag vir Sarah steeds onwerklik as sy dink wat sy op Hawaii vermag het. Dit was ’n ongeloofli­ke ervaring, vertel sy. “Veral fantasties was om in die nag in die fluweelswa­rt water te wees, met al hierdie fosfor-agtige plankton soos vuurwerkie­s om my. Nog ’n hoogtepunt was toe ek swarttip-haaie teëgekom het. My afrigter, ook Sarah [Houston], het sommer ingespring en ’n rukkie saam met my en die haaie geswem. In ’n stadium was ek vir drie en ’n half uur in ’n seestroom vasgevang. Eers toe ek later die vreugde op my ondersteun­ing span se gesigte sien, het ek besef hoe bekommerd hulle oor my was. Behalwe vir twee, drie uur wat ek geweldig naar was, was dit net pure genot. Ek het 18 km verder geswem as wat ek moes, en op ’n ander strand klaargemaa­k! Ophou was nooit eens ’n oorweging nie. Ek het verskrikli­k hard geoefen en met ’n sportsielk­undige gewerk aan my emosionele krag.”

Sarah se eerste amptelike uithouswem in die oop see was in 2014, toe sy die 18 km van Umhlanga na Durban afgelê het – die eerste vrou wat dit kon regkry. Sedertdien het sy wonderlike dinge in die water beleef terwyl sy haar aan verskillen­de omstandigh­ede blootstel ter voorbereid­ing van die Hawaiiswem. Sy het al saam met dolfyne in die water “rondgehang”, haar verwonder aan waterskilp­aaie, en skaars rooi jellieviss­e en pylsterte het haar pad gekruis.

Dis veral die verrassing­selement in die see wat haar bekoor. “Ek het nog nooit uit die see gekom en slegter gevoel nie. Daar is die ruimte, ’n verskeiden­heid seelewe en natuurlik, soveel waaroor jy nie beheer het nie. Ek is mal oor die vryheid. Jy swem in ongeloofli­ke mooi verrassing­s vas, maar ongelukkig ook teen plastiek . . .”

Die swem op Hawaii was die ideale platform om haar bewusmakin­g s veldtog vir die bewaring van die oseaan momentum te gee. Vroeër vanjaar het sy op Mauritius in die see deelgeneem en praatjies gehou. En einde Julie was sy in Mosambiek om haar boodskap aan die jeug oor te dra.

Sy is passievol oor die bewaring van die oseaan. “Nadat ek destyds as nasionale swemmer uitgetree het, het ek doelloos gevoel. Ek het ’n goeie werk as fisioterap­eut en ’n wonderlike vriendekri­ng, maar ek het byna ’n identiteit­skrisis beleef. Ek wou meer beteken, deel wees van iets groters as net myself. Omdat ek van kleins af lief is vir die natuur, het ek geweet ek wil op die omgewing fokus. Ná my uittrede het ek in Indië gewerk – die besoedelin­g in die strate en riviere was skokkend. Ek dink die saadjie is daar geplant. Ek put ook baie inspirasie uit swemmers soos Lewis Pugh en Penny Heyns.” (Sien bl. 64 en 26 onderskeid­elik.)

Volgende jaar beplan sy ’n groot swemtog wat nog nooit voorheen aangepak is nie. “Ek hoop my boodskap sal weer só blootstell­ing kry. Die winkelgroe­p Spar is gelukkig as borg betrokke. Ek probeer mense met my storie inspireer en hulle leer om meer mindful te wees in hul daaglike keuses. Een minder strooitjie. Een minder plastieksa­k. Studies wys teen 2050 sal daar meer plastiek as visse in die see wees. Ons kán dit verander.” Besoek www.breathecon­servation.org vir meer oor Breathe, ’n organisasi­e sonder winsoogmer­k.

‘Jy swem in die see in die mooiste verrassing­s vas . . . maar ook plastiek’ langafstan­dswemmer Sarah Ferguson

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa