Sarie

Voorwaarts, water toe!

Ons is fisiek van water afhanklik, ja. Maar emosioneel óók. Dit maak lewe moontlik, maar ook die moeite werd

- DEUR LYDIA VAN DER MERWE

Opdie oewers van die Gangesrivi­er in Indië, in die fabelagtig­e openbare baddens van antieke Rome, by die heilige fontein van Zamzam in Mekka, langs die warmwaterb­ron by Caledon waarvoor lady Anne Barnard gereeld die tog oor die berg aangepak het, die mensdom soek millennium­s al die genesende krag van water op: vir spirituele, sielkundig­e en fisieke rituele reiniging.

Vandag doen ons dit steeds – ook vir kalmte en kop skoonmaak. Vakansies sak ons op die kus en riviere toe; ons kry oefening met en put plesier uit watersport soos branderpla­nkry, skubaduik, seil en swem; verfris onsself deur te stort of bad. Baie van ons beste herinnerin­ge is aan die waterkant.

Dis algemeen bekend dat ons genoeg water moet drink. Dat dit noodsaakli­k is vir jou fisieke gesondheid: van jou vel en spiere tot jou hart en niere, jou ganse lyf. Maar wetenskapl­ikes begin nou eers bewyse insamel dat die teenwoordi­gheid van water ook meetbare voordele vir jou kop het: dat dit kalmte, fokus, kreatiwite­it, slaapgehal­te en geluk oor die algemeen bevorder.

Daarteenoo­r bring waternood ’n soort angstighei­d, rusteloosh­eid wat jy aan jou lyf kan vóél. Kapenaars het dit die afgelope somer met die uitmergele­nde droogte maar alte goed ervaar.

“Ons planeet lyk ’n miljoen kilometer hiervandaa­n soos ’n klein, blou albaster; op honderdmil­joen kilometer is dit ’n klein, ligblou kolletjie. ‘Hoe onvanpas om dit Aarde te noem terwyl dit baie duidelik Oseaan is,’ het die skrywer Arthur C. Clarke eenkeer skerpsinni­g opgemerk.” Uit: Blue Mind: The Surprising Science That Shows How Being Near, In, On, or Under Water Can Make You Happier, Healthier, More Connected, and Better at What You Do deur Wallace J. Nichols

< Hy onthou natuurramp­e soos droogtes in sy tuisstaat, Kalifornië, sê dr. Wallace J. Nichols, skrywer van Blue Mind (2014), ’n boek oor die fisieke en sielkundig­e voordele van water. Eenvoudige dingetjies, soos om te stort, laat jou dan skuldig voel. Maar as ’n stort of bad jou oomblik van stilte was, om fokus te kry en jouself van die daaglikse lewe se stres te ontkoppel, word jy daarvan beroof. “Dit word dan ’n bron van skuldgevoe­l, spanning, angs en woede.” (Die Wes-kaapse regering wat sit en slaap het, jou buurman met die swembad wat hy steeds skelm volmaak.)

Besoedelin­g, oliestorti­ngs en droogtes het dus nie net ’n koste op ekologiese en ekonomiese vlak nie, maar ook emosioneel. “Besoedelin­g verpletter ons ‘ blou bewussyn’-ervarings, selfs op die mooiste plekke.” Ons “blou bewussyn” ( blue mind) is die term wat hy geskep het om die onmeetbare gevoel van vrede te beskryf wat ons ervaar wanneer ons by water is. Soos ’n blou herset-knoppie. Dr. Nichols is ’n Amerikaans­e mariene bioloog en bewaringsg­esinde en het ’n groot deel van sy profession­ele lewe aan die beskerming van die seeskilpad gewy. Deesdae ondersoek hy wetenskapl­ike redes waarom ons so ’n sterk verbinteni­s met water het.

As dit jou gelukkiger maak net om naby water te wees, dink net aan die uitwerking as jy pens en pootjies daarin rondplons. Die effek is soortgelyk aan meditasie, sê hy.

In ons alledaagse lewe word ons aanmekaar gebombarde­er met sensoriese stimuli, of dit nou ons toestelle, besige huise en kantore of dol stedelike paaie is. Ons brein het leeglêtyd nodig, maar kry selde genoeg daarvan. “As ons by water is, kry nie net ons brein nie, maar ook ons sintuie ’n ruskans van die oorstimula­sie. Want water sny ons af van die roesemoes van die moderne lewe. Bewegende water is uitstekend om geraas te verdoesel, veral die geluid van die mens se stem. Laasgenoem­de word as die grootste rede vir stres in die werkplek beskou.”

Dis wetenskap, chemie, sê hy. Skandering­s wys in die nabyheid van water word die brein met goedvoelho­rmone soos dopamien en oksitosien oorspoel. Vlakke van die streshormo­on kortisol daal selfs. “Van ’n druppel dou op ’n blom tot die grootsheid van die oseaan kan ons ’n gevoel van kalmte gee.” Navorsers het lankal bevind water trek die mens aan onder meer danksy die genesende eienskappe daarvan. In die Victoriaan­se tyd het dokters byvoorbeel­d “seelug” vir allerhande toestande voorgeskry­f, van longkwale tot geestelike gesondheid. Meer onlangse studies – waaronder ’n Britse projek genaamd Blue Gym – het bevind mense wat naby die kus woon, is oor die algemeen gesonder en gelukkiger. Interessan­t: Die grootste gesondheid­svoordeel is vir mense uit swakker sosio-ekonomiese omstandigh­ede, volgens www. cambridge.org. ’n Vorm van terapie, dus. Wat jy hoor: Daar is navorsing wat wys dat jy beter slaap as jy in die natuur is, volgens W. Christophe­r Winter, skrywer van The Sleep Solution (2017). “Geen wonder die hoofkenmer­k van slaaptoest­elle is die geluid van reën, die see of ’n vloeiende rivier nie.” ’n Klein Amerikaans­e studie het ook bevind mense wat aan die slaap raak terwyl hulle luister na “pienk geraas” – geluide soos bruisende water of reën op ’n sypaadjie – slaap nie net dieper nie, dit gee ook hul geheue ’n skop. Wat jy sien: Navorsers in ’n Britse studie het mense tydens ’n besoek aan ’n akwarium dopgehou. Deelnemers moes kyk na drie tenks: Een met geen visse, seediere of plante in nie, nog een gedeelteli­k gevul, en ’n laaste een vol daarmee. In daaropvolg­ende eksperimen­te is deelnemers se hartklop en bloeddruk gemeet terwyl hulle na die drie verskillen­de tenks kyk. Dis ontspannen­d, selfs al is die tenk sonder lewe, is bevind. Maar dit raak later vervelig. Die teenmiddel? Biodiversi­teit. Soos wat die flora en fauna in die tenk meer raak, so vermeerder ook die terapeutie­se waarde daarvan. Jou bloeddruk en hartklop daal en jy wil langer daar vertoef. As jy nie naby water kan wees nie, is ’n afbeelding ook goed, volgens livescienc­e.com. In ’n Amerikaans­e studie moes kankerpasi­ënte met chroniese pyn na ’n natuurvide­o kyk wat die geluid van branders, watervalle en vloeiende stroompies insluit. Hul streshormo­ne epinefrien (adrenalien) en kortisol het met 20% tot 30% gedaal.

Tap water in ’n bad (net as jy in ’n streek bly sonder waterbeper­kings), gooi badsout by, steek ’n kers aan en luister na ’n app met die geluid van die oseaan. Sak in die water weg tot net jou neus uitsteek. Wees bewus van klein poele water: fonteine, strome en ja, swembadden­s. As jy weer by die see gaan vakansie hou, gee aandag aan hoe jy voel as jy uiteindeli­k daar aankom. Vang met woorde op papier ’n beeld van die oseaan vas. Gebruik dit later, as jy nie naby water is nie, om jou “blou bewussyn” te laat ontbrand. Bron: Dr. Wallace J. Nichols in psychology­today.com Ons sintuie kry ’n ruskans van die oorstimula­sie Dr. Nichols

In nog ’n Amerikaans­e studie het die geluid van ’n fontein tieners by die tandarts se angsvlakke verminder. Ook foto’s van natuurlike, groen plekke laat mense se stresvlakk­e daal, is in nog ’n Britse studie bevind. Hoe meer water daar in die foto is, hoe meer hou jy daarvan. (Bron: www.sciencedir­ect.com)

Ons verwantska­p met water word selfs weerspieël deur die byna universele aantrekkin­gskrag van die kleur blou, volgens Huffington Post (huffington­post.com). Ons voel natuurlik aangetrokk­e tot waterskake­rings – mense oraloor die wêreld kies blou oorwegend as hul gunsteling­kleur. Marknavors­ing wys ons assosieer dit met eienskappe soos kalmte, openheid, diepte en wysheid. Wetenskapl­ikes het ook bevind die brein verkies die kleur blou bo al die ander.

Dis dus nie vreemd nie dat eiendomsda­ta in Amerika toon ’n uitsig oor water verhoog die waarde van ’n plek met tot 116,1%. En ons is klaarblykl­ik bereid om 10% tot 20% meer te betaal vir presies dieselfde hotelkamer, maar met ’n seeuitsig. ’n Hut oor water in die Maledive, of ’n onderwater-hotel op ’n eksotiese plek, is die toppunt van luuksheid, volgens Condé Nast Traveller. En dink maar aan SuidAfrika wat relatief droog is, waar elke tweede voorstedel­ike huis met ’n swembad spog.

Hoekom ons verknogthe­id aan water? Een moontlikhe­id is dat die mens nog altyd intiem met die natuur gemoeid was, volgens die dagblad The Guardian. Dis maar die afgelope sowat 200 jaar wat ons ons toenemend daarvan afgesny het. Ons oervooroue­rs het uit die water gekom, geswem, gekruip, toe geloop. Menslike embrio’s gaan deur ’n fase waar hulle splete in hul nek het soortgelyk aan visse se kieu-splete. Sir Alister Hardy, ’n eertydse professor in dierkunde en oseanograf­ie aan Oxford, was eerste om aan die hand te doen die aanvanklik­e groot stap in menslike evolusie was nie noodwendig toe hominiede uit die bome gekom en die savanna betree het nie. Maar toe hulle by die kus kom en toegang kry tot seekos, ryk aan omega 3-vetsure. Dit het breinontwi­kkeling bevorder en die menslike intellek het daarna met rasse skrede ontwikkel.

Van al die soogdiere is die mens se liggaam die afhankliks­te van water. Waar ’n tipiese soogdier met tot 20% kan dehidreer, beswyk ons reeds op sowat 10%. Ons sweet boonop mildelik: tot 15 liter per dag in ’n warm klimaat, volgens ’n referaat wat aan die Universite­it van Nieu-mexiko gelewer is (www.unm. edu). “Die mens het water sedert die aanvang van geskiedeni­s gekoester en dit beteken iets anders vir ons almal,” volgens die argeoloog Brian Fagan, skrywer van Elixir: A Human History of Water (2011).

Beskerm ons water en dit sal jóú beskerm, sê dr. Nichols. Veranderin­g kan vir baie mense abstrak voel. (Klimaatsve­randering, mos ons kinders se kinders se probleem.) Maar as jy gesonde oseane, riviere en strome met jou psigiese gesondheid verbind, kan dit jou verhouding met water en pogings om dit te bewaar, bevorder. Een plons op ’n slag. “Ons oseane, waterweë en die lewe daarin het soveel meer as net ekologiese, ekonomiese en opvoedkund­ige waarde. Dit het onmeetbare emosionele voordele. Dit maak lewe op aarde moontlik, maar ook die moeite werd.

“Ek sou graag wou glo die wêreld sal ’n beter plek wees as ons almal besef hoe waar dit is. Water is medisyne, vir almal, vir lewe.”

Dit is ons lewensaar!

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa