Sarie

Laaste sê deur Riana Scheepers

- RIANA SCHEEPERS

Ons eet by ’n plein-restaurant­jie van ’n Franse dorpie in die berge. Hier kom min toeriste, want die gehuggie het nie dít wat die grootste gedeelte van die mensdom soek nie. Dit is nie bekend óf sjiek óf naby ’n strand nie. Juis daarom is ek hiér, want min mense en min toeriste is perfek vir my. Ek is doodgelukk­ig. Ek sit saam met die man wat ek liefhet in ’n pragtige Middeleeus­e dorpie onder ou bome. Ons drink ’n bottel Franse huiswyn saam met ’n uitbundige slaai wat voor ons op die tafel neergesit word. Slaaiblare en groente en blomme – en ’n onheilige porsie foie gras.

Ons kelnerin vra of ons ook water wil hê. Ja, graag. Sy neem ’n leë waterkraff­ie en stap weg. Ons kyk haar só agterna. Sy stap na die fontein ’n paar treë verder op die plein, hou die kraffie onder die bruisende stroom tot dit vol is. Dié kom sit sy voor ons neer. Vonkelende, skoon water.

Miskien het my mond oopgehang, want die oulike meisiekind lag en vertel ons van die fontein. Die bewoners van die dorp kry al vir eeue hul water uit hierdie bron. Van so vroeg as 1578. Helder, heilige water, direk uit die berg. Die water loop met ’n ondergrond­se geut, oor ’n duisend koel klippe, af tot hier op die plein waar dit in die fontein uitborrel. Water in oorvloed. Vir almal wat wil skep en drink, skep en drink.

Ek neem ’n slukkie water. Dit is yskoud. Dit proe na bergklip en stilte. Waarom weet ek nie, maar ek kry trane in my oë.

’n Ander herinnerin­g skiet my te binne, want in Suid-afrika is daar óók nog plekke waar ’n mens jou kop in die rivierwate­r kan druk en drink. In die Tankwa se bergklowe, net ná die eerste winterreën. Die Cederberge se tuimelende water. Die stroompies wat in die Drakensber­ge se hoogste pieke ontstaan. Die koue sneeuwater uit die Hawekwaber­ge.

Hennie kom kuier op ’n dag by my op die plaas. Hy bring ’n vriend saam. Jan stap aan in jare, maar hy is nog vol lewe en planne. Hy vertel ons wat hy nog alles wil doen voordat hy die emmer skop. Sy emmerskop-lysie is lánk. Reis en sien en lees en beleef en ervaar, alles in oormaat. Ons eet onder die prieel en kuier en lag en drink nóg ’n glasie wyn. Laat die middag stap ons na die rivier, daar waar die bergstroom oor die klippe spring en dan ’n diep poel maak. Dis somer, die skaduwee onder die eikebome is koel en genadig. Jan kyk die rivier só en vra: Kan ek dié water drink? Ek wil nie verantwoor­delikheid aanvaar vir enigiemand se gesondheid nie, maar ons eie drinkwater kom uit dié bron. Volgens wetgewing moet dit elke jaar getoets word. Elke jaar kom die verslag van water wat so skoon is, dit kan gebottel word. Ja, Jan, sê ek, jy kan drink. En daar kom Jan met nóg iets wat op sy emmerskop-lys is: Hy wou nog altyd in water swem wat hy ook kan drink. Hy wil swem én drink. Hier is jou kans, sê ek. Sonder enige selfbewust­heid trek Jan sy klere net daar en dan uit – ál sy klere – en spring in die water. Hy word weer ’n kind, ’n kind sonder pretensie of skaamte. Hy plas, duik en tuimel. Hy swem stroomop en drink monde vol van die water wat direk in sy mond vloei. Skoon, onbesoedel­de water. Toe hy uitklim, is Jan ’n gelukkige man. ’n Rukkie voordat ons Frankryk toe gekom het, loop ek toevallig Jan se suster raak. Hy is onlangs oorlede, vertel sy my. Ek is geskok en hartseer. Hy kon nie alles doen wat op sy lysie was nie, maar hy hét geswem en gedrink – in dieselfde helder water.

Franse wyn is lekker, maar vandag is die Fontein du Peyra se water heerliker as die beste wyn op aarde.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa