Kate Mosse oor haar Hugenote-verhaal The Burning Chambers (Mantle, R330)
Hoe begin ’n verhaal in jou kop vorm? Eerste kom die plek waar my verhale afspeel. Dis in daardie landskap waar ek die fluisteringe van ’n storie hoor. Ek hou van baie plekke, maar hulle praat nie met my nie. Toe ek die eerste keer op Franschhoek aankom, was dit soos die skok van herkenning. Ek skryf dikwels oor Languedoc, waar ons ’n huis op Carcassonne [voorheen ’n Franse heuwelvesting] het. Dit was die eerste plek weg van my huis in Sussex, Engeland, waar ek hierdie roering langs my rug af gevoel en besef het ek verstaan die plek en hoort hier. Ek het nie gedink ek sal ooit weer so oor ’n plek voel nie, totdat ek in 2013 die eerste keer op Franschhoek aangekom het. Dit was asof die inspirasie net oor my gespoel het. Met my besoek aan die Hugenote-gedenkmuseum was daar ’n koue gevoel om my hart toe ek die name lees. Jy voel die voetspore uit die verlede. Die stemme het onmiddellik met my begin praat.
Ek het myself gemaan, moenie luister nie, jy weet niks van die 17de eeu of die Kaap nie! Maar hulle wou my nie uitlos nie. Waarom is al jou vrouekarakters sterk? Dis my ervaring van vroue. Mense vergeet dat geskiedenis nie net deur die oorwinnaars geskryf word nie, maar ook deur dié wat penne besit. So, al daai stories word deur mans geskryf. Vroue word glad nie verteenwoordig nie. Die maatstaf vir my vrouekarakters is of hulle relevant is vir die tyd waarin hulle verskyn. En hulle is. Die meeste mans was toe op die slagveld. Op dorpe, op plase is die werk deur vroue gedoen. Minou is beslis die soort meisie wat in daardie tyd kon bestaan.