MICHAEL JACOBS, 32, eienaar en boer, plaas Lüneburg, tussen Douglas en Prieska, Noord-kaap
Op sy besproeiingsplaas langs die Oranjerivier ken hy oopheid en vryheid. Maar Michael se horisonne strek verder, want die reisgogga het hom jonk-jonk gebyt toe sy ouers, Colleen en Johan, hul driestuks (hom en sy susters Johandri en Elizca) gereeld op toer deur die land geneem het.
“Vandag nog is reis een van my stokperdjies. Ek probeer elke jaar deur ’n ander land toer en trek nou al by 35. Vanjaar is dit Suid-afrika; volgende jaar die Put Foot Rally wat ses lande in Suider-afrika dek, 9 000 km, 19 dae.”
Michael se aktiwiteite en belangstellings ken g’n einde nie. “Ek waardeer musiek. Of dit nou feeste soos Oppikoppi en Rocking the Daisies is, of ’n simfoniekonsert in die Kaap.
“En my bergfiets is my sielkundige. Dit kry my op plekke wat ek nooit sou gesien het nie. Só het ek al baie mooi plekke saam met my ouers beleef.” Dan’s daar nog duik, vlieg, karre, motorfietsry, driekampe . . .
“Boere hoor gereeld hulle is nie die besigste mense nie, maar die plaas verg ’n konstante oog en jy kan nooit lank weg wees nie.”
Michael sê hy wérk deur die week om naweke te kan afhê. “Om te boer ís my werk. Jy moet lief wees vir wat jy doen, anders maak dié nie altyd sin gemeet aan finansies, die ure en moeilikhede nie.” Sy ken haar beeste só goed, sê mense wat weet, dat hulle haar die “cattle whisperer” van Douglas noem. Boerdery en ’n liefde vir diere is in Colleen se bloed. In 2015 sê sy in ’n onderhoud met Landbouweekblad oor die kêrels wat in haar jong dae maar die aftog moes blaas: “As hulle nie geboer het nie, het ek nie belang gestel nie . . .”
In 1994 het Colleen en haar man, Johan, met bonsmaras begin boer. Vandag is die stoet bekend as Leehan Bonsmara’s – ’n kombinasie van hul name.
“Johan sê altyd: Dis darem lekker as jou stokperdjie ook jou werk is!” Maar, voeg Colleen vinnig by, as jy voltydse beesboer wil wees soos sy, moet jy heeltyd op hoogte wees van álles wat op die plaas aangaan.
Sy geniet dit om self met elke bees te werk. “Kalftyd is ’n lang storie . . . jy weeg elke kalfie, noteer sy geboortedatum en ma se nommer en merk die ore. Dit bly elke dag ’n uitdaging, maar ek’s dankbaar vir die voorreg.”
Balans is wel belangrik. “Ek’s lief om te oefen. Wanneer dit koud is, gaan ek gim toe en doen aerobiese oefeninge of draf op die trapmeul. Anders ry ek fiets en swem. Perdry is ’n ander groot passie, maar daarvoor kry ek ongelukkig nie veel kans nie.”