Sonvanger
Carloweet van die nuwe meisie langsaan in Cobble Stone 2. Akkommodasie in hierdie moderne metropool-woonstelkompleks is uiters skaars en baie gesog. Sy was gelukkig om plek te kry.
Boonop blyk sy ’n drawwer te wees, sien hy een oggend op pad werk toe. ’n Fikse een, gemeet aan die pas waarmee sy langs die bougainvillea-laning aangedraf kom en al bokstertswaaiend by hom verby snel. Kyk nie links of regs nie.
Dit beïndruk hom nogal – die drawwery. Om vroeg op te staan net om te gaan oefen verg dissipline. En hy hou van dissipline. Natuurlik – analities gesproke – verteenwoordig een dag wat hom betref nog lank nie ’n week of ’n maand nie.
Die tyd sal leer, ’n maatstaf wat nog altyd vir hom die kaf van die koring kon skei. Al word hy gereeld onder vriende as ’n super-realis uitgewys (of goedig uitgekryt), is sy teëspraak altyd dat hy eerder net versigtig optimisties is.
Carlo Vermeulen is nie waar hy as gerekende projekkonsultant is omdat hy ligsinnig met feite omgaan nie. Dis waarvoor hy bekend is – dat hy sake doen sonder ’n grein emosionele bagasie. Klinies en spreekwoordelik “op die man af ”.
*** ’n Paar dae later beland hy een namiddag agter haar motor, aan die bopunt van die bougainvillea-laning op pad na Cobble Stone se hekke.
Hulle kruip in die pad af. Sy sit kiertsregop agter die stuurwiel, neus letterlik teen die voorruit. Hoe langer hy na haar kyk, hoe meer herinner die prentjie hom aan ’n meerkat op die uitkyk vir vyande op die vlaktes.
’n Geïrriteerde loer na die snelheidsmeter bevestig die slakkepas. Wat op dees aarde maak die meisiekind tog? Hy sien niks in die pad voor haar wat haar so stadig laat ry nie en moet hom daarvan weerhou om nie by haar verby te glip nie. Sê nou dit is een of ander motor-moeilikheid? Hy kruip dus maar in geduldige tandem agter haar aan.
Dit word ’n gegewe scenario sonder verklaring. Beland hy in die namiddae agter haar motor in die laning, kruip hulle huis toe.
*** Beker koffie in die hand en koerant onder die arm is hy dié Saterdagoggend op pad na een van die tuintafels in Cobble Stone se tuin. Dit is iets wat hy gereeld doen – drink sy koffie en lees die koerant in die tuin voordat hy met sy dag se dinge besig raak.
Vanoggend kom hy nie ver nie. Letterlik net anderkant sy deurdrumpel. Tussen sonspatsels en ’n mengelmoes groen sien hy haar by die tuintafel sit, die privaatste een in die kompleks. Die een waar hý gewoonlik sit. Die nuwe intrekker is regtig besig om stof in die rustige vloei van sy lewe te skrop. Sekerlik nie met voorbedagte rade nie, wil hy glo. Maar ’n stofskropper nietemin.
Hy stap na een van die ander tafels, sit sy koffie en koerant neer en gaan stel homself aan haar voor. “Hallo. Ek is Carlo Vermeulen van langsaan. Nommer 3.” ’n Handdruk voel so onvanpas dat hy nie sy hand na haar toe uitsteek nie – miskien omdat hy staan en sy sit. Of miskien sou dit net gans te formeel wees?
“Hallo, Carlo. Ek is Anneke. Van langsaan. Nommer 2. Anneke Barnard.”
Verbeel hy hom of is daar tergduiwels in haar stem? Geen teken van grimering nie, vingers snoesig om die boepens van ’n koffiebeker. Lang bruin hare sommerso bo-op haar kop bymekaargevat met stringetjies wat orals uitpeul.
“Welkom by Cobble Stone,” doen hy die gepaste buurmanding. “’n Ongelooflike kompleks om in te woon.” “Ditto. Ek glo ek gaan baie gelukkig hier wees.” Soos maar in sy aard, kom hy dadelik tot die punt. “Verskoon dat ek vra. Hoekom ry jy namiddae so stadig in die laning af na Cobble Stone se hekke toe?”
Sy lag half verleë, skulp ’n oomblik haar hande oor haar oë voordat sy bo-oor haar vingerpunte na hom loer.
“Oor die verkleurmannetjies.” “Verkleurmannetjies.” Dis nie ’n vraag nie, hy herhaal eerder net oorbluf wat hy hoor.
“Ja. Ek het al twee dooie verkleurmannetjies in die ryvlak gesien vandat ek soggens draf. Ek dink hulle is meer aktief en aan die beweeg in die middae wanneer dit warmer is. So, ek kyk maar uit vir hulle.”
“O.” Dit gebeur nie aldag dat Carlo Vermeulen opgekropte woorde sluk nie. Vandag is dit een van daardie min dae. Nooit sou hy kon dink dat verkleurmannetjies die rede vir haar meerkat-scenario sou wees nie! Was dit nie om die aarde se verkleurmannetjies te red nie, sou dit selfs koddig kon wees.
“Maak verbasend sin, ja. Nou maar toe. Geniet jou dag verder, Anneke.” “Dankie. Dieselfde vir jou, Carlo.” Hy het al omgedraai, toe sy weer praat. “En Carlo . . . kyk ook maar uit vir die verkleurmannetjies, sal jy?”
*** By Cobble Stone 3 is die geselskap vrolik en die Saterdagmiddag se rugby ’n naelbytstryd van formaat. Halftyd staan Carlo op. Hy wil solank ’n goeie vuur aan die gang kry en ’n paar stoele . . .
Buite begroet ’n aardige gesig hom. Die hele plek is onder vere. Sommige dryf in die lug, ander het reeds op die gras lêplek gekry en nog ander rol gewigloos op die voorpunt van ’n speelse bries. Dit borrel oor die muur van Cobble Stone 2 se kant af. Met ’n houtkrat as trap gaan kyk hy wat langsaan aangaan. En daar staan sy, Anneke Barnard, in wat hy net as ’n vereslagveld kan beskryf. Hoe meer onhandig sy probeer keer, hoe meer dons die vere onder haar voete uit en hoe minder beland in die greep van haar vingers.
“Nou wat het jy nou gaan staan en aanvang, Anneke? Jy sal dat die DBV ons oorval.” “Ag, Carlo, jy sal dit nie glo nie. Wat ’n absolute gemors!” Sy lag so dat sy skaars op haar voete kan bly. En toe Carlo spottenderwys laat hoor: “Geveer, kort nog net die teer,” toe gaan lê sy op haar rug in die middel van die chaos, totaal en al oorgegee aan die histeriese humor van die oomblik.
Die kortste pad vir hom nou is om oor die muur te spring. Met die buitekraan vol oopgedraai en die tuinslang lewendig tussen sy vingers, spuit hy die res van die vere met ’n fyn waterreën terug aarde toe.
“Ek het nooit gedink my sonvanger-vere sou so ‘ontvlug’ nie,” lag sy terwyl sy op haar maag omrol en in sarsies opstaan. “Jy maak sonvangers?” “Ek wou met donsvere eksperimenteer . . .” Sy is te kostelik. Vere in die hare, kaalvoet, los truitjie se moue argeloos teen haar arms opgestoot. Die res van die storie hoor hy in staccato brokkies. “Ek ryg nog so lekker . . . oop kussing . . . op die grond . . . vere . . .”
Sy moet eers weer ’n draai loop, haar lag onder bedwang probeer kry voordat sy dit naby hom waag. Meer hoef sy nie te sê nie, want elke veer help vertel die storie.
Hy is bewus daarvan dat hy haar nabyheid – en aanraking – geniet toe hulle hande saam hopies vere bymekaar begin skrop en die leë kussingsloop al hoe meer inhoud terugkry. Cobble Stone het beslis ’n interessanter plek geword met Anneke Barnard in die omgewing. Beslis nog nie ’n vervelige week of drie gewees vandat sy haar intrek langs hom geneem het nie.
Toe, sonder analitiese oorweging van sy uitnodiging en die moontlike uitkoms, nooi hy: “Kom braai saam met ons. Dit sal lekker wees om jou daar te hê. Regtig, Anneke.”
Sy lyk sigbaar verbaas, takseer hom vir ’n oomblik – soveel so dat hy op sy uitnodiging uitbrei. “Ons is immers behoorlike bure ná ’n dag soos vandag!” “Het iemand al braaibroodjies gemaak?” vra sy. Tipies. Nie ja, dankie, miskien of nee, jammer nie. Kom so met ’n ongewone ompad by andersins normale dinge uit. Verseker ’n vars asem in die oorbekendheid van sy wêreld, ’n eie en unieke stem tussen holrug deuntjies. “Maak jy vir ons?” “Ons” kan so ’n inklusiewe woord wees, ’n voetbrug tussen ’n kennis en ’n vreemdeling.
“Ek maak vir ons, Carlo. Wat is ’n braai in elk geval sonder braaibroodjies?” “Perfek.” Ná die toeknoop van die kussingsloop en die droogvee van haar nat hande stap sy saam met hom voordeur toe. “Baie dankie vir jou moeite, Carlo. Jou waterplan met die vrypostige vere het uitstekend gewerk.” “Ek pak solank nog hout op die vuur.” “En ek kom oor sodra ek aan hierdie kant klaar is.” “Maak vir my ’n ekstra broodjie,” sê hy. “Ons sal twee broodjies moet wegsteek!” sê sy aweregs soos gewoonlik. “Dit is mos die volgende dag die lekkerste ontbyt saam met koffie.”
Op pad terug hoor hy hoe vrolik lag en gesels dit by Cobble Stone 3.
’n Ongekende opwinding lê in sy borskas. Wat hy verseg om te ontleed. En sonder dat hy dit kan help, is hy op die uitkyk.
Op die uitkyk vir verkleurmannetjies in die pad.