Laaste sê ...
Die droogte wat ons die afgelope jare geteister het, het almal van ons geraak. Intens het ons bewus geword van die voorreg, die vreugde van water. En as jy in die Suid-kaap bly, het jy ook bewus geword van vuur, die verskrikking van vlamme wat deur ’n oerbos vreet en alles in sy pad verswelg: bome, huise, diere, mense. Water en vuur, die genadelose tweeling. Ek het die droogte én die vuur as’t ware op my voorstoep beleef. Ek het gesien hoe die oerwoud om my verdroog, het agtergekom dat die woud stadig begin sterf. En tydens die brande in die Suid-kaap het vriende van my alles wat hulle besit, in die vlamme verloor: huis, meubels, klere, álles. Genadiglik nié hul lewens nie.
Ons het bewus geraak van vuur en water, maar veral van die tydelikheid, die relatiewe waarde van aardse besittings. Wat neem jy saam as jy net ’n paar minute tyd het, vra ek my vriendin. Jy dink nie eintlik nie, sê sy, jy handel instinktief. Sy het gesorg dat haar mense en diere veilig is, en toe het sy hul foto’s gegryp. En gevlug. Agter haar is alles in die vlamme verswelg. Nie juwele en dokumente, geld of ’n rekenaar nie? Nee, foto’s. Want alles kan vervang word: klere en meubels, paspoorte en bankkaarte, selfs meubels en juwele kan weer gekry word. Maar die lewensmomente wat in ’n foto vasgevang is, outydse foto’s van vóór die digitale era, dit is onvervangbaar. Sepia foto’s van haar familie, ’n streng oupa en ’n mooi ouma, haar ma en pa op hul troudag. Die dowwe kleurfoto’s van haar kinderjare, van ’n blonde dogtertjie met ’n skaam glimlaggie, tot ’n guitige meisiekind met lang bene in ’n minirok. Foto’s van haar studentejare, haar kêrel met hippie-hare en ’n pers das. Haar troufoto’s, sy ’n blonde bruid met ’n breë glimlag, die bruidegom met korter hare, maar steeds die pers das. Foto’s van haar seuns, eers as pokkelbabas en later as onnutsige karnallies. Hoe kan mens dit agterlaat? Dit is herinneringe, die momente wat bevestig dat ons bestaan, en dat ons bestaan goed en waardevol is. Natuurlik is dit alles in jou hart, maar soms het mens iets nodig om jou te herinner wat in jou hart is. Kom ons neem ’n selfie, sê sy. Ons tuit ons monde, ons lag, sy kiek en kiek, want ons oomblik nóú is ook goed en waardevol.
Terwyl ek verhuis, bel ’n vriendin van die Noord-kaap en sê sy wil gou kom hallo sê. Ek trék, sê ek, my huis is vol bokse! Kom liewer wanneer alles netjies is? Ek kom nie vir jou bokse kuier nie, sê sy, ek kom na jou toe.
Ek kry diep skaam, want natuurlik is sy reg. Ek skuif die bokse eenkant en sit die ketel aan. Ons kuier is kort, maar deeglik en innig.
Kom ons neem ’n selfie, sê ek voor sy gaan. Ons lag en pruil en neem onsself af in my chaotiese huis.
’n Paar maande later weet ek dat dit ons laaste oomblik saam was, toe sy in ’n motorongeluk sterf. Ek kyk na die foto en sien nie die chaos van my huis nie, ek sien ons laggende monde, ons deeglike en innige vriendskap.
’n Rukkie gelede stap ek met my kleinkinders in ’n oneindige landskap van kameeldoringbome en wuiwende gras. Dis net ek en die kinders, want die ander mense in ons geselskap maak ’n koffievuurtjie vir ons piekniek. Daar is malvalekkers vir die kinders in die piekniekmandjie, en ons moet gaan stokke soek sodat hulle dit kan braai. Ons stap in ’n tuin van Eden, gras wat heuphoogte staan, ’n blou lug wat oor ons koepel, die opgewonde stemmetjies van kinders wat stokke soek. Miskien is ek in die hemel, dink ek. Hoe gaan ek hierdie oomblik vir ewig behou?
Gelukkig sien die kinders se ma ook ons oomblik van hemel. Sy neem ’n foto. Want soms het mens iets nodig om jou te herinner wat die hemel is.