Sarie

Anna, bewaker van Ingrid se geheime

-

Om in die skaduwee van haar beroemde jonger suster Ingrid te leef, was nie vir Anna Jonker maklik nie. Maar sy wou haar ook beskerm. Die skrywer Petrovna Metelerkam­p, wie se biografie oor die begaafde digter onlangs verskyn het, het die komplekse Anna goed leer ken . . .

InJanuarie 1995, vér verby slaaptyd, lui die telefoon langs my bed. “Bel my gou terug,” sê Anna Jonker. “Ek móét met jou praat.”

Anna bel in dié dae dikwels so laat saans, immer oor iets wat kwel. En altyd iets te make met haar jonger suster, Ingrid, reeds byna dertig jaar oorlede. Ek ken Anna sedert Nelson Mandela die vorige jaar die gedig “Die kind” in die parlement voorgelees het. Skielik was Ingrid prominent in die nuus, met die nuwe president wat wêreldwyd op TV sê: “She was both an Afrikaner and an African . . . Her name was Ingrid Jonker.”

Omdat bitter min bekend was van dié digter, het ek destyds begin navorsing doen. Ek wou soveel as moontlik oor Ingrid Jonker uitvind om vir die tydskrif Insig ’n artikel oor haar te skryf. Stories oor haar persoonlik­e lewe is hier en daar oorvertel, soms sensasione­el opgedis, maar die feite was vaag. Toe haar lyk die oggend van 19 Julie 1965 op Drieankerb­aai se strand gevind is, het die groot bespiegeli­ng begin: Was dit selfdood? Het sy in die nag moedswilli­g die ysige wintersee ingestap om te verdrink? Wat sou haar tot sulke wanhoop dryf? Sy was maar 31, ’n begaafde digter, ma van ’n sewejarige dogtertjie. Het sy nie vriende gehad nie? Daar was glo ’n minnaar – of twee. Haar pa, ’n parlements­lid, het haar glo sleg behandel.

Die eerste bron van inligting oor Ingrid Jonker se lewe was haar ouer suster, Anna. Met my eerste besoek aan haar klip-skakelhuis­ie op Kampsbaai begin ’n tentatiefv­riendelike verhouding. Die intense, eksentriek­e Anna deel stukkies-stukkies inligting, maar hou baie vir haarself. Onder ’n tafel in haar woonkamer hou sy kartonboks­e met die briewe, dagboeke, foto’s en manuskript­e wat ná Ingrid se dood in haar woonstel gevind is. Anna, wat baie jare as vertaler by ’n uitgewery gewerk het, sê sy is besig om haar memoires te skryf.

Dit is gou duidelik dat sy Ingrid wil beskerm teen skindersto­ries – en dat sy enige slegte nuus oor haar pa, Abraham Jonker, in die kiem wil smoor. Anna het haar eie, sterk mening oor aspekte van haar bekende suster se lewe. So is sy vas oortuig die skrywer André P. Brink was direk verantwoor­delik vir Ingrid se vroeë dood.

“Régtig?” vra ek verstom toe Anna dié “feit” die eerste keer noem.

“Ja, moenie so verbaas lyk nie,” sê Anna. “Daardie vent het Ingrid misbruik, hy het haar hart gebreek.”

Met die laataand-oproep in Januarie is dit juis André Brink wat Anna erg ontstel het. “Ek is getraumati­seer,” sê sy. Want vroeër, net toe sy aan die slaap wou raak, het hy by haar kom spook. In die vorm van ’n stink walm het Brink onder haar slaapkamer­deur ingesypel gekom. Sy kon die euwel ruik, dit was soos swael. Dit het al hoe nader gekom, oor die mat, tot teenaan haar bed.

Anna beklemtoon dat sy Brink háát. Sy weet die vurige liefdesver­houding wat Ingrid met hom gehad het, was teen Julie 1965 op ’n einde, maar 48 uur nadat Brink ’n vriend gestuur het met die boodskap dat hy verloof raak, was Ingrid dood. Dit vertel Anna oor en oor. En dan bespiegel sy oor die besonderhe­de: Ingrid se lyk is vroegoggen­d ’n meter of wat van die vlakwater gevind. Niemand kan sê sy het in die see ingestap om haarself met opset te verdrink nie. Niemand kan sê of sy op die rotse gegly het nie, of sy miskien bewusteloo­s was toe die gety opstoot . . .

In die lykshuis was daar duidelike kneusmerke aan een kant van Ingrid se gesig. Anna was daar, ’n onvergeetl­ike nagmerrie wat haar bybly: Sy stap in ’n gang af, sy kom om ’n hoek – en daar lê Ingrid, leweloos. Die skok is vir Anna te veel.

“You know, after Ingrid’s death I bled for a whole year,” vertel sy. Anna is lief om tussendeur Engels te gebruik. “I never slept until four o’clock in the morning. Or if I slept, I’d be awake at four o’clock. Toe sit ek een aand by die venster en ek sê: ‘Kyk, Ingrid, jy’t nou genoeg gespook, man. Just get going, please.’ En toe’s dit oor.”

Om Ingrid se suster te wees, in haar skaduwee te leef, was nooit vir Anna maklik nie. ’n Nota in haar handskrif spreek boekdele: Sy is die donker, euwel een; nors, aan die frons. Ingrid is mooi, die blonde krulkop met die warm geaardheid, die een van wie almal hou. Toe die drie-vierjarige Ingrid in Oupa se tuin gedoop word, hou Anna die seremonie eenkant, van agter ’n heining in die bure se tuin dop. “Van jaloesie,” skryf sy later. Ingrid het ’n mooi wit rokkie aan, daar is koek en tee, en baie mense . . .

By ’n ander geleenthei­d, toe Ingrid gekies is om blommemeis­ie te wees, wil Anna weer “sterf van jaloesie”, soos sy vertel. Benewens ’n mooi rok, nuwe skoene én ’n stringetji­e krale, kry Ingrid ’n pop present: ’n lieflike slaappop. Anna maak seker die pop gaan tot niet, hou aan die pop moet saam strand toe. Hulle moet kyk of sy in die water kan dryf, al hét Ouma gewaarsku die rek wat die arms en bene aanmekaar hou, sal in die son vergaan.

< Ouma Annie, die brandarm, liefdevoll­e anker wat kleintyd vir Anna en Ingrid sorg, skraap geld bymekaar en stuur die slaappop na die pophospita­al in Kaapstad om te laat regmaak.

Ouma is baie na aan Ingrid. Wanneer sy Sondae op die strand vir die bruin mense kerk hou, staan Ingrid langs haar. Sy lees haar heel eerste gediggies voor, gebaseer op die verse wat Ingrid in die Hallelujab­oek leer ken. “Ouma was vreeslik trots daarop,” onthou Anna. “Later huil almal van die aandoenlik­e versies.”

Ná Ingrid se dood ontdek Anna die gedig “Op pad na die dood” in die sak van haar oker trui. “Kyk nou hoe intens,” sê Anna met ’n afskrif van die gedig in die hand. “As jy dié gedig lees, kan jy sien hoe diep in haar siel godsdienst­ig Ingrid was. Ten spyte van wat ons vandag sou noem haar hippyness and everything – en die verset – kan jy sien hoe diep loop dit, dwarsdeur.” Anna self het reeds as sewejarige ’n ander siening van godsdiens gehad. Sy hoor in die Sondagskoo­l van die uitverkies­ingsleer en besluit: As dit waar is, hoef sy nie daar te bly sit nie, sy gaan nou swem!

Herinnerin­ge soos dié kom gedurig terug wanneer Anna oor haar kinderjare en haar later bekende digter-suster gesels. Sy het groot waardering vir Ingrid se talent en haar sensitiewe geaardheid. “Her intense artistic personalit­y felt things very deeply,” sê Anna. Anna het swaargekry toe sy en Ingrid van hul geliefde ouma weggeneem is om by hul pa en stiefma te gaan bly, maar sy het geweet dit is vir haar kleinsus nóg swaarder. Wanneer hulle kon strand toe gaan, wou Ingrid daar bly en nie teruggaan Stiefma toe nie.

Anna betreur die verwerping wat Ingrid moes verduur – veral van die mense heel naaste aan haar. Toe haar pa Ingrid se eerste digbundel, Ontvlugtin­g, ontvang, laat weet hy: “Ek sal vanaand kyk hoe jy my in die skande gesteek het.” Hoe moes dit Ingrid nie geraak het nie, vra Anna. Toe Ingrid ’n afspraak wil maak om haar tweede bundel, Rook en oker, in die Koffiehuis vir hom te gee, stuur Abraham Jonker vir haar ’n brief: Hy is “nie geneë” om haar in enige openbare plek te ontmoet nie.

Anna wil haar pa se naam in ere hou – hy was immers ’n parlements­lid, maar sy moet erken die verhouding tussen hom en Ingrid was stram. Dat Anna self ’n aandeel in die onmin gehad het, laat sy nie blyk nie. Sy vertel eerder van die seerste verwerping wat van Ingrid se minnaar, Jack Cope, gekom het. Toe Ingrid hom opgewonde vertel sy is swanger met hul kind, antwoord Jack met stywe lippe: “What are you going to do about it?”

Ingrid het nie ’n keuse nie: Jack reël vir haar ’n aborsie. Dit is ook die einde van hulle idilliese romanse, en Ingrid begin agteruitga­an. Later raak sy verlief op André Brink, wat by haar aansluit waar sy tyd in Europa deurbring. Maar net ’n paar dae later wil hy van haar ontslae raak. Ingrid skryf met skok in haar dagboek: “. . . dis duidelik dat hy my nie meer wil hê nie.”

In die jare ná 1994, toe Anna ’n nuwe bundel met Ingrid se versamelde werke vir die uitgewer Human & Rousseau saamstel, wy sy haar aan die bewaring van Ingrid se nalatenska­p. Sy tree op in belang van die Ingrid Jonker Trust, wat deur Jack Cope gestig is ten bate van Ingrid se enigste kind, Simone. Wanneer kopiereg in Ingrid se gedigte ter sprake kom, is dit Anna wat seker maak betaling word deur Dalro (Dramatiese, Artistieke en Letterkund­ige Regte-organisasi­e) gedoen. Wanneer ’n akademiese studie gepublisee­r word, laat Anna ’n embargo daarop plaas, soos wat met vier doktorale verhandeli­ngs gebeur het. Die publiek mag dit nie lees nie.

Wanneer Anna gevra word waarom sy so oorbeskerm­end optree, antwoord sy vaag. Sy kan nie toelaat dat haar pa se naam skade ly nie. Ingrid moet ook nie in die openbaar ontleed en as “gevallestu­die” beskou word nie. Wanneer briewe van André Brink ná haar dood in Ingrid se woonstel gevind word, wil Anna haar beskerm. Sy lees die briewe deur en besluit watter is “pornografi­es”. Dié skeur sy op. Maar Abraham Jonker wil die Brink-briewe hê, moontlik om bewys te vind dat hy nie self ’n aandeel gehad het aan Ingrid se aftakeling en die einde van haar lewe nie. Hy sien ’n polisiedos­sier met ’n aantekenin­g dat Ingrid die nag van haar dood gesê het sy wil nie meer leef nie, want haar pa wil haar nie hê nie. Anna vertel later sy het rede om te glo haar pa het dié woorde van Ingrid uit die dossier laat verwyder.

Dié lojaliteit van die komplekse persoon wat Anna Jonker was, verdien bewonderin­g. Sy wou bekend maak dat Ingrid slegs aan depressie gely het toe sy in die psigiatrie­se hospitaal, Valkenberg, behandel is. Maar sy het ook Ingrid se naam by haar pa sleggemaak deur hom te vertel Ingrid verwaarloo­s haar kind. Dié aantyging, wat nie waar was nie, het Ingrid haar suster nooit vergewe nie. Dit het ook veroorsaak dat sy nie hulp van haar pa wou vra toe sy desperaat was vir ’n paar sent om te oorleef nie.

* Anna Jonker is in 1997 aan ’n hartaanval oorlede.

 ??  ?? Ingrid, naak afgeneem op versoek van haar man, Piet Venter. Die fotograaf, Tom Burgers, was ’n vriendin en kollega, Rieta, se man.Ingrid en Piet op hul troudag op 15 Desember 1956 in die Paarl. Hul dogter, Simone, is ’n jaar later gebore. Pas ná haar tweede verjaardag is Ingrid en Piet uitmekaar. Kinderfoto’s . . . LINKS is Ingrid as jong meisie, en REGS haar suster, Anna. ONDER LINKS Die twee susters saam met hul geliefde ouma Annie. ONDER REGS Skrywer Petrovna Metelerkam­p.
Ingrid, naak afgeneem op versoek van haar man, Piet Venter. Die fotograaf, Tom Burgers, was ’n vriendin en kollega, Rieta, se man.Ingrid en Piet op hul troudag op 15 Desember 1956 in die Paarl. Hul dogter, Simone, is ’n jaar later gebore. Pas ná haar tweede verjaardag is Ingrid en Piet uitmekaar. Kinderfoto’s . . . LINKS is Ingrid as jong meisie, en REGS haar suster, Anna. ONDER LINKS Die twee susters saam met hul geliefde ouma Annie. ONDER REGS Skrywer Petrovna Metelerkam­p.
 ??  ??
 ??  ?? * Petrovna Metelerkam­p is die skrywer van Ingrid Jonker: ’n Biografie, wat vroeër vanjaar by Penguin Random House SA verskyn het. Die boek kos R300.
* Petrovna Metelerkam­p is die skrywer van Ingrid Jonker: ’n Biografie, wat vroeër vanjaar by Penguin Random House SA verskyn het. Die boek kos R300.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa