Sarie

Ellen Pakkies en Suidooster: ‘Stories wat ek móét vertel’

- DEUR SUZETTE TRUTER FOTO WILLEM LOURENS KONSEP & STILERING MAGDEL MULLER

Aktrise Jill Levenberg moes al ’n pakkie tjips op skuld koop om nie op ’n leë maag ’n oudisie te doen nie. Maar sy’t altyd geweet: nêrens anders sal sy dáárdie gevoel kry as op die verhoog of voor die kamera nie. Sy wil stories vertel – soos nou Ellen Pakkies s’n

HaarMoslem-buurvrou het die aktrise Jill Levenberg die oggend help aantrek vir haar oudisie as Mymoena Samsodien, die Moslem-matriarg in die kyknet-sepie Suidooster.

Met ’n kopdoek en groot bag op die skoot is sy met ’n taxi uit Kensington weg Kaapstad toe. Jill wou soos sy vóél. Toe sy daar by die ateljee uitklim, wás sy antie Moena. Sy het die rol gekry.

Dis meer as drie jaar later en Jill sit nou al lekker in haar karakter se lyf. “Ek doen dinge wat ek nooit sal doen nie, dis Moena wat oorvat voor die kamera,” lag sy.

Jill gesels in haar aantrekkam­er by die ateljee waar Suidooster opgeneem word, haar hare in los krulle tot op haar skouers en in gemaklike jeans – net die innemende glimlag is onmiskenba­ar antie Moena.

Daar’s op die oomblik te min ure in haar dag. Die vorige aand het sy ses tonele vir vandag geleer – “my storielyn is dol op die oomblik” – haar hond Stoney het haar van tweeuur af uit die bed uit ge- cuddle en vanoggend vyfuur is sy op om administra­sie af te handel. Tussendeur is daar al die “buzz” om die fliek Ellen, die Ellen Pakkies Storie (wat in September landwyd uitgereik is) waarin sy die hoofrol vertolk. ’n Moetsien-fliek, sê baie wat dit al gesien het.

Jill vat al die e-posnavrae, media-onderhoude en fotosessie­s vir die fliek soos dit kom. Dis vir haar belangrik dat die storie van Ellen “en al die ander Ellens daar buite” soveel aandag moontlik kry, dat die dringendhe­id van die dwelmkrisi­s op die Kaapse Vlakte beklemtoon word.

Die fliek, die ware verhaal van ’n desperate ma van Lavender Hill wat haar tikverslaa­fde seun, Abie, verwurg het, is vroeër vanjaar by sy première staande toegejuig by die internasio­nale rolprentfe­es in Rotterdam, Nederland. By die Silwersker­mfees in Augustus in Kaapstad is Jill as beste aktrise aangewys. Ook akteur Jarrid Geduld (Abie) en draaiboeks­krywer Amy Jephta is bekroon. Jill is trots op die fliek en hoop die publiek sal dit goed ondersteun.

Sy was nog altyd eerstens aktivis, dan kunstenaar, sê sy, reeds toe sy ná skool in ’n kunstenaar­skolonie in Duitsland gebly en saam met ander inwoners geveg het om hul kolonie van sloping te red.

Mymoena word gereeld uitgenooi om as spreker op te tree, en dan boul Jill die gehoor uit. Sy praat uit haar hart, op haar gemaklike manier. By ’n onlangse vrouedag was sy later kaalvoet op die verhoog – haar hoëhakke doer uitgeskop. As sy eers praat van die mag van die tong, en hoe “daai klein dingetjie die energie in ’n vertrek kan verander”, kan jy ’n speld hoor val . . .

“Die mense kom deel soms ná die tyd hul geheime en pyn wat hulle nog nie met iemand anders gedeel het nie,” vertel sy. En gaan uiteindeli­k anders huis toe.

Sy glo as ’n kunstenaar kan jy nie net stilsit nie. “Of jy dit wil hê of nie, jy kry ’n platform. Terwyl ek daardie platform het, kan jy maar seker wees ek gaan dit gebruik.”

Ellen het drie Silwersker­m-toekenning­s gewen en vaar goed by die loket. Wat beteken die toekenning vir jou persoonlik? Dis ’n groot eer. Ek was emosioneel en humbled, ook dankbaar vir die platform wat dit my gee om meer mense te bereik. En vir antie Ellen, dat sy bereid was om haar storie te deel. Hoekom is dit vir jou so belangrik dat haar storie vertel moes word? >

<Ellen het Abie al in 2007 vermoor. Dit gaan my verstand te bowe dat, elf jaar later, nóg ’n desperate ouer sy kind moes vermoor. [’n Pa van Mitchells Plain het begin vanjaar sy tikverslaa­fde seun doodgestee­k.] Niks aan die dwelm-oorlogsone op die Kaapse Vlakte het verander nie. Waar is onse regering, hoekom kyk hulle nie na onse mense nie?

Elke dag verloor mense hul lewens, kinders, onskuldige omstanders. Dis asof die Vlakte vergete is, dis nie deel van die kaart van Kaapstad nie.

Dit was besonders om die rolprent in Lavender Hill te skiet. Die mense het ons so ondersteun en aangemoedi­g, maar dit was ook hartseer om jong kinders wat bedwelm is te sien, kinders wat bedags op straat ronddwaal. Hoekom is hulle nie op skool nie? Vertel meer van jou reis met Ellen Pakkies. Dit was ’n surrealist­iese ervaring. Kyk, ek is nie ’n vreemdelin­g vir die Kaap nie. Ek het grootgewor­d in Kensington en woon nou weer daar, waar bendes op mekaar skiet. Ek ken mense soos antie Ellen. Ek het van die begin af haar storie gevolg en baie empatie met haar gehad. Ek was oorstelp toe ek die rol kry.

Ons het dadelik gekliek. Ek het vir haar gesê ek is bang, ek wil reg laat geskied aan so ’n groot rol. Toe sê sy vir my: “Jy kan mos duidelik sien God is besig hierso. Jy is gebore om die rol te speel.”

Dit was ’n emosionele proses. ’n Maand voor ons begin skiet het, het ek in ’n woonstel in Bloubergst­rand ingetrek sodat ek alleen kon wees, ek moes myself leegmaak en net na Ellen luister. Ek het verlof gekry by Suidooster, elke dag op die strand gehardloop, my oorgegee aan die see. Ek het ook baie tyd in Lavender Hill deurgebrin­g om die ritme van die plek te kry. Jy is reeds sedert die eerste episode deel van Suidooster. Hoekom is die sepie so gewild? Ons maak geskiedeni­s, ons breek deur grense, van die skrywers tot die dialoog-afrigters. Ek dink dis so gewild oor dit lank overdue is. Dis regte stories. Ons lig kulture uit wat nog nooit voorheen belig is nie. Baie mense sien hulself nou vir die eerste keer op televisie. ’n Rukkie terug kon kykers as deel van ’n kompetisie die akteurs ontmoet. ’n Moslemtann­ie van 91 het na my gekom en met trane in haar oë haar hande so om my gesig gesit en gesê: “Dankie, dankie.” Dit was so mooi.

Ons gemeenskap­pe verander, daar is nie soveel “uitkyk-anties” soos toe ek jonk was nie. Dis nie meer “Luister, ek het jou kind daar gesien en hom huis toe gebring” nie. Dis dalk ook hoekom die mense Mrs. J en Mymoena so waardeer. Jy’s benoem vir ’n Huisgenoot Tempotoeke­nning vir jou rol as Mymoena. Wat is die vreugdes en frustrasie­s van so ’n rol? Sy is sout van die aarde. Sy is soos die ma’s wat ek kleintyd geken het – jou kind is almal se kind. Ons het albei ’n hart vir ons gemeenskap. Sy het my baie geleer, soos dat tyd wonde heelmaak. En dat jy somtyds moet wag en stilbly voor jy reageer. Wat ek nie so baie van hou nie, is dat sy so inmengerig met haar kinders is. Soms dink ek: Oeee, jinne . . . ek sou nie so ingemeng het nie. Maar jy kan nooit jou karakter oordeel nie. As jy dit doen, het jy die stryd verloor. Het jy geen begeerte om self kinders te hê nie? Ek wou graag. Daar was ’n tyd in my lewe dat dit my baie depressief gemaak het omdat ek nie ’n kind het nie, maar nie meer nie. Ek is op ’n goeie plek in my lewe. My rol as mentor en uitkykanti­e vir sekere kinders in die gemeenskap is ook ’n soort ma-rol.

< Daar is mense wat ek in my lewe ontmoet het, wat my vir geestelike leiding bel. Jy het ook dramaklass­e vir hoërskoolk­inders in jou buurt gegee. Ja, ek wil weer daarmee begin. Hulle stap daar in met sulke hangskouer­s, niks selfvertro­ue nie . . . hulle is skaam om hul monde oop te maak. Ná ’n paar maande se dramaklass­e stap hulle met oop skouers, as jy nou hul mening vra, dan práát hulle. Jy is eintlik Engels. Is jy ook lief vir Afrikaans? Ja. My ouers is Afrikaans, maar vandat ons ons oë oopgemaak het, het hulle met ons Engels gepraat. Hulle was oortuig dat ons só meer geleenthed­e gaan hê. Met mekaar het hulle Afrikaans gepraat. Ek is so lief vir tale dat ek halfpad deur hoërskool met hulle begin Afrikaans praat het!

Ek praat ook Duits vlot. Ná skool was ek onder meer twee en half jaar in Duitsland. Maar die meeste Duits het ek geleer toe ek hier moes kom werk en sewe uur van die dag oor die foon in die taal praat, verkope, bespreking­s. Hoe beland jy toe weer in teater? Ek het vir vier jaar heeltemal opgehou toneelspee­l, ek het ’n paar kwessies met die bedryf gehad. My laaste werk was om tydskrif-advertensi­es te verkoop. Eendag sit ek daar en dink: Jy het gesê jy wil nooit weer toneelspee­l nie. Maar elke dag act jy op die donnerse foon! In daardie maand het ek toe nog nie ’n enkele advertensi­e verkoop nie. Toe vra ek vir die Here ’n teken. Die volgende oggend was my eerste oproep aan ’n teatermaat­skappy, wat selde advertensi­es koop. Toe vat hulle ’n R22 000- ad. Dít was my teken. Ek het net daarna bedank. Was dit moeilik om weer terug te kom in die bedryf? Dit het eers swaar gegaan. Ek het Engels vir buitelande­rs gegee – twee lesse in die week, teen R300 elk. As een kanselleer, het ek net R300 vir die week gehad. Ek en my kitaarspel­er sou Kaapstad toe stap van Woodstock af, waar ek ’n kamer gehuur het. Dan sing en speel ons in ’n eetplek of iewers. R100 vir my, R100 vir hom.

Eendag het ek gehoor CTTV soek aanbieders. Ek het geen kos in my maag gehad nie, maar ek trek myself toe soos ’n million dollars aan, en stap al die pad soontoe. Op pad by die kafee het ek ’n pakkie tjips vir R2 op skuld gevra. Toe kry ek die werk. Ek het nooit stilgesit nie, ek het altyd iets gedoen, ek het plannetjie­s gemaak, shows gedoen, maar ek moes vir ’n lang tyd lensies eet. Wat het jou laat deurdruk? Ek het geweet ek is ’n storievert­eller, en daar is nog te veel stories om te vertel. Ek het besef dat ek nooit daardie gevoel êrens anders as op die verhoog sal kry nie. Daardie prikkeling wanneer ek ’n nuwe teks lees, ’n nuwe karakter speel. Ek móés deurdruk.

In ’n stadium was ek baie depressief nadat ek vir David Kramer ’n oudisie vir die musiekblys­pel Blood Brothers gedoen het. Ná twee call backs het ek dit nie gekry nie. Ek het gedink ek sal nooit goed genoeg wees nie. ’n Jaar later het hy laat weet ek en Lynelle Kenned moes vir drie maande die rol deel, omdat sy ook ’n ander rol gekry het. My vriend Alistair Izobell het my so mooi laat verstaan ek was destyds nog nie reg nie, maar nou was ek. Later het David my gebel en gesê hy skryf vir my ’n rol; vir Lucy Moten in Orpheus in Africa het ek ’n Fleur du Cap gewen. Jy is baie wys. Was jy van kleins af volwasse? Ek was ’n old soul. Op 18, 19 was ek reeds aan’t reis op my eie. Baie nuuskierig. Onafhankli­k. Ek het in Amerika en in Europa gewoon – dis my manier van reis, ek woon lank op ’n plek.

As jy onafhankli­k reis, skop daar ’n oorlewings­instink in. Jy word gekonfront­eer met die diepste dele van jouself omdat jy móét oorleef. Om te reis was goed vir my. Toe ek terugkeer en drama by UCT studeer, het ek ook op my eie gewoon.

Ek het ’n paar knocks in my lewe gehad. Pyn is ’n ongeloofli­ke onderwyser. Soms voel dit jy wil sterf daarvan, maar as jy daardeur kan kom en jy is anderkant uit, is daar soveel antwoorde. Body shaming is ’n wêreldwye probleem. Jy praat dikwels oor vroue se stryd met hul lyf. Hoekom? Ons vroue in hierdie land het ’n probleem met ons eiewaarde. Ons kan nie aanvaar dat ons mooi genoeg is nie, daar is altyd hierdie ding oor gewig. Ons samelewing het so gewoond geraak daaraan dat ons kommentaar mag lewer op mekaar se voorkoms. Ek is op ’n missie om dit om te draai.

Watter reg het ek en jy om oor iemand anders se lyf kommentaar te lewer? Hoekom, as jy iemand sien en jy’t vyf minute, kan jy nie die persoon liewers opbou nie? Nou skreeu jy oor die pad: “Jene, djy’t darem lekker vet geword!” Selfs die anties in die kerk wat jou so op die heup slaan: “Die meisie raak nou lekker vet, nè?”

Ek het met soveel tikverslaa­fde meisies gewerk, en vra jy hulle hoe dit begin het, sal hulle dikwels vir jou sê dis omdat iemand gesê het hulle is vet. Tik neem die aptyt weg, jy kan ure sonder kos gaan. Jy het ook onlangs die eerste keer daaroor gepraat dat jy as kind gemolestee­r is. Dis nog iets wat ek en antie Ellen gemeen het. Sy was verkrag, ék was gemolestee­r van die ouderdom van ses tot rondom nege, tien jaar oud. Ek is nie skaam om dit te deel nie. Soos ek nou die dag vir ’n groep vroue gesê het: Dis nie jou skuld as dit met jou gebeur nie. Jy is nie stukkend nie. Jy is mooi net soos jy is. Jy hoef dit nie meer saam met jou te dra nie. Dit moet uitkom sodat die genesing kan begin.

Ek het later jare my molesteerd­er gebel. Hy het erken hy’t gewag vir die oproep, en hy was só jammer, dit het ook as kind met hom gebeur. Ek kon hom vergewe. Dit was ’n lang proses, maar ek het daardeur gewerk. Dit het my wyser gemaak. Ek kan sulke dinge aanvoel, my antennas is uit, ek kan meer kinders help en vroue aanmoedig om ook te praat.

Toe ek onbekend was, het ek al oor kwessies gepraat wat my na aan die hart lê. Ek hoop dat ek nog meer kan bydra om sekere denkwyses uit te daag.

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa