Sarie

Nataniël sê . . .

-

Die Engelse sê so mooi, Oh, thank you! What a thoughtful gift! Ons sê, Baie dankie, dis lieflik! Net wat ek wou gehad het! Dis so oorspronkl­ik! Waar kom jy aan al jou idees?

Ek wil baie graag “thoughtful” gebruik op die regte oomblik, maar om te sê: Wat ’n deurdenkte geskenk! herinner my te veel aan dronk studenteda­e. Wat ’n deurdrenkt­e trui! Kom in, ek kry ’n handdoek.

Maar deurdenk is wel my plan. En ek skryf nou daaroor, oor ’n maand is dit te laat. ’n Feestyd sonder geskenke is ondenkbaar, die lewe is te kort. Ons kaste is vol van lieflike duur geskenke waarvoor ons geen gebruik het nie, daar is nie lank genoeg gedink nie. Die geheim van ’n perfekte geskenk is nie geld of self maak of oordadige toedraai nie, wel hoe lank daaroor gedink is.

Verlede jaar het sjef Eric vir weke lank koekies gebak, outydse soetkoekie­s, kaneelkoek­ies, vanieljeko­ekies, elke moontlike geur of vorm op aarde. Ek het groot glasflesse gaan koop. Elke fles is gevul met lae van elke soort koekie en soos Victoriaan­se skoolkinde­rs versier met strikke om die nek. Dis afgelaai met die boodskap, Uit my kombuis! (Ek lieg mos nie, Eric bak in my kombuis.) Ongelukkig was die flesse gemaak deur ’n swak vervaardig­er en elkeen se deksel het ’n vakuum gevorm, geen mens kon dit oopkry nie, een vriend het sy fles met ’n hamer bygekom, ’n ander een het ’n gat in die deksel geboor. Die res staan landwyd in donker kaste.

Hierdie jaar het ek ’n nuwe plan, reeds beproef tydens ’n paar verjaardae, hospitaalb­esoeke en deftige etes. Alle ontvangers was jubelend. My geskenk van die jaar is drie tydskrifte, een wat handel oor iemand se spesiale belangstel­lings, een baie luukse internasio­nale tydskrif wat iemand hopelik nog nie ken nie, en natuurlik die SARIE, want dit verteenwoo­rdig my ook! ’n Goeie tydskrif is een van die laaste bekostigba­re luukshede, mense koop dit al hoe minder vir hulleself, maar put ure se genot daaruit wanneer hulle dit wel ontvang. En ’n tydskrif se leeftyd is skokkend lank. (So getuig die stapels in my huis!) Plaas die drie op mekaar, bind vas met ’n groot strik en versier met ’n vars blom. Elegant, feestelik en welkom!

Ek is bevoorreg om omring te wees van vindingryk­e mense en het onder my naastes gaan vra wat hulle geskenkpla­nne is:

Renée: Ek skilder vir elkeen ’n bord, daarna laat ek dit bak by ’n vriendin se keramiekat­eljee, verlede jaar was dit aalwyne, hierdie jaar die voëls in my tuin. Of ek lê suurlemoen­e in op die Marokkaans­e manier, dis altyd handig, veral oor Kerstyd.

Rachel: Ek hou daarvan om eetbare goed te gee, ’n pan brownies, ’n vrugtekoek, panettone, ’n bottel luukse graanvrye granola of ’n gin- geskenkpak met my eie resep vir ’n kelkie.

Mia: Ek het vir elke gesin ’n storie oor hulle lewens geskryf, foto’s bymekaar gemaak en dit vir ’n kunstenaar gegee om almal omring deur hulle passies of omgewing te skets.

Marion: My geskenke moet altyd iets wees wat ek fyn raakgeluis­ter het. As ek sien iemand sukkel om ’n glashouer skoon te kry, koop ek ’n skoonmaakm­iddel spesifiek daarvoor, iets wat hulle nog nie raakgesien het nie. As iemand te min spasie het, laat ek ’n glasblad sny wat op iets soos ’n wasmasjien pas en dus meer werksopper­vlakte skep. Eers luister, dan soek.

Madri: Ek laat raam vir elkeen ’n baie mooi swart-en-wit foto van ’n spesiale oomblik, dis altyd treffend en hou vir ewig.

Charl: Ek gee vir elkeen ’n kers, ’n gegeurde ontwerpers­kers in ’n groot glashouer, dit laat ’n vertrek vir maande wonderlik ruik en as die kers gedaan is, sit jy met ’n spesiale houer vol herinnerin­ge.

Elke siel het ’n bietjie verbeeldin­g en die nodige kennis van sy geliefdes, dis net die tyd wat ontbreek. Dink nóú.

 ??  ?? KAALKOP
KAALKOP

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa