Sarie

Redakteurs­brief

-

Wenners, wenners, wenners, Wenners wil ons wees . . .

So sê daardie Afrikaanse liedjie van die 80’s. Die een wat ons ná al die jare tog onthou.

’n Paar jaar gelede maak Charlie Sheen, eens Hollywood se hoogs betaalde Tv-akteur en ster van Two and a Half Men, “winning” sy persoonlik­e mantra. “Winning!” twiet hy daagliks, in ’n tyd dat sy lewe duidelik aan’t uitmekaar val was.

Onlangs het Suid-afrikaners emosioneel toegekyk hoe Pieter-steph du Toit trane wegvee op die rugbyveld nadat die Bokke gewen het. Nie ’n sommerso wen nie – die Groen-en-goud het die All Blacks goed op hul eie voorstoep geklop.

Ekself het net ’n paar weke gelede weer die emosie van wen, en die ongeloof en dankbaarhe­id daarmee saam, ervaar toe ek SARIE se 10de Voorbladge­sig in Pretoria aangekondi­g het. Die wenner, Emari Gieselbach van Centurion, en kategoriew­enner Charicke Carolus van Kraaifonte­in kon hul trane skaars keer.

En dan was daar Serena Williams . . . vir lank die wêreld se top-vrouetenni­sspeler. Roger Federer het haar al bestempel as waarskynli­k die sport se beste van alle tye. Toe kom sy teen die jong Naomi Osaka in die eindstryd van die Amerikaans­e Ope in New York te staan, en wen word ’n stryd. Sy verloor haar cool op die baan, en verloor ook die respek van baie aanhangers om die wêreld.

Wat is dit tog met die mensdom en wen? Wat is dit wat ons dryf? Die verloor so swaar maak, die oorwinning so soet?

Om eerlik te wees, ek dink min van ons stem régtig saam met die idee dat wen nie saak maak nie, dat dit die deelname is wat tel. Aikôna, die wêreld werk nie so nie. Ons is ook nie so aanmekaar gesit nie. Om te wen, om te groei, is in ons gene.

Die wêreld is mededingen­d – soms is ’n buitestand­er jou kompetisie, dikwels of meestal is dit jyself! Want wen is gekoppel aan ons pad deur die lewe. Elke wen, klein en groot, seën ons met positiewe gevoelens en spoor ons aan om groter teikens te stel. Dit word naderhand ’n manier van dink, en doen. Net die gedagte, “winning!”, sê al jy kán.

Tog, moenie mislukking weggooi nie. Dis sleg, ja, veral as jy so graag iets wil bereik en daarvoor gewerk het. Daai’s die lewe, soos hulle in die Kaap sê. Maar dít kan jy maar weet, met mislukking is wen om die draai. Want dís dikwels die motivering om wéér te probeer en jou plan te laat werk.

Die afgelope twee maande voel vir my soos ’n wén by SARIE. ’n Wen-wen. Almal wat Emari se storie in die Oktober-uitgawe gelees het, kan net raai wat daardie wen vir haar beteken. En vir ons om ’n leser op die voorblad te hê is ’n reuse-wen. Dié maand spog ons met ’n projek saam met GWK, Agri SA en Shell Downstream SA wat ’n handvol boere stylvol in SARIE plaas (sien bl. 117). Húlle is wenners – in soveel opsigte. Na aan ons land, die grond, hul diere, hul drome. ’n #Dinamiese groep mense wat omgee, nie opgee nie en doen wat hulle doen omdat dit saak maak. Dís ’n wen! Tot ons weer gesels, wanneer ons Kersuitgaw­e vanaf 19 November op die rak is. En ja, êrens daar is ook ’n plaas!

 ??  ?? REDAKTEURS­BRIEF
REDAKTEURS­BRIEF

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa