Nooit goed genoeg? Dink weer
Vroue is geneig om hulself te onderskat, wys verskeie studies – deels oor hoe ons grootgemaak word. Maar dit kán verander
Vroueregte het dalk die afgelope paar dekades met rasse skrede verbeter, maar in die sakewêreld trek vroue steeds aan die kortste ent.
’n Studie in 2017 deur die gesaghebbende marknavorsingsgroep Ipsos het bevind Suid-afrikaanse vroue verdien gemiddeld 27% minder as mans in dieselfde pos. Slegs 28% van senior bestuursposte word deur vroue beklee en net 3% van maatskappye het ’n vrou as uitvoerende hoof, wys nog ’n studie wat verlede jaar deur die UK se nagraadse bestuurskool gedoen is.
Dis ook nie net in Suid-afrika wat die syfers só lyk nie. Net 24 van die maatskappye op die 2018-Fortune Global 500-lys (die 500 grootste maatskappye ter wêreld op grond van inkomste) word deur vroue gelei.
Daar is natuurlik verskeie redes hiervoor, maar aan minstens een kan jý ’n verskil maak. Kenners noem dit die “selfvertroue-gaping”: Vroue se geneigdheid om hulself te onderskat.
< Die term ( confidence gap in Engels) is deur navorsers aan die Cornell-universiteit in New York geskep nadat die verskynsel in ’n studie in 2003 blootgelê is: Die navorsers het mans en vroue voor ’n basiese wetenskaptoets gevra om hul kennis van die vak op ’n skaal van 1 tot 10 te beoordeel. Ná die toets is hulle gevra om te skat hoe hulle gevaar het. Vroue het in albei gevalle hulself onderskat, terwyl mans geneig was om hulself te oorskat. Dieselfde resultate is al deur verskeie ander studies uit verskillende velde behaal – met kookvernuf die enigste uitsondering.
NIE SO EENVOUDIG NIE
Sheryl Sandberg, Facebook se hoofbedryfsbeampte, het hewige teenreaksie van feministe gekry toe haar boek Lean In:
Women, Work and the Will to Lead (Random House) in 2013 verskyn. Die boek se boodskap is dat vroue aan hul selfbeeld moet werk as hulle suksesvol wil wees in die sakewêreld.
Vroue het dalk dikwels minder selfvertroue as mans, minstens in die werkplek, maar die oplossing is ongelukkig nie so eenvoudig soos om net aan jou selfbeeld te werk nie. Sandi Conradie, ’n Johannesburgse voorligtingsielkundige en eienaar van die vroue-sielkundepraktyk Womenology, sê hoewel selfbeeld ’n rol speel, dra patriargale sosiale en politieke stelsels meestal die skuld. “Geslagsongelykheid bestaan, en vroue kry eenvoudig minder geleenthede en vergoeding as mans.”
Deur net op selfvertroue te fokus – één aspek van ’n komplekse probleem – sit ’n bose kringloop voort, glo sy. “Om vroue só die ‘skuld’ te gee versterk die samelewing se wanopvatting dat vroue nie opgewasse is vir die rol nie. Selfs waar ’n vrou se selfvertroue wel te kort skiet, is dit dikwels die gevolg van jare se boodskappe dat sy nie so goed soos ’n man is nie.”
Die uitwerking van daardie boodskappe is al in verskeie studies bestudeer. In een hiervan in 2003 het professors ’n vroulike entrepreneur se ware suksesverhaal neergeskryf, maar in een weergawe haar naam, Heidi, gebruik en in die ander weergawe haar naam na Howard verander. Twee groepe mense het die verskillende weergawes gelees en moes dan Heidi of Howard se sukses en persoonlikheid beoordeel. Die groepe het Heidi en Howard as ewe suksesvol beskou, maar deelnemers het meer van Howard se persoonlikheid gehou. Die Heidi-groep het haar onder meer as selfsugtig beskryf. Sheryl sê mense hou van suksesvolle mans, en
minder van suksesvolle vroue. En wie wil nie hê mense moet van hulle hou nie? Dié onbewuste denkpatrone is maar net nog een van die dilemmas wat vroue in die werkplek teëkom.
VAN KLEINS AF
Ongelykhede bestaan, ja, en dit gaan nie oornag verdwyn nie, maar aan jou eie denkwyse en selfbeeld kán jy ’n verskil maak. ’n Goeie beginpunt is om te verstaan hoe die selfvertrouegaping al in jou kinderjare neergelê word.
“Jou ouers speel ’n baie groot rol om jou selfbeeld en selfvertroue te ontwikkel. As jou ma, wat waarskynlik die grootste rol speel wanneer jy nog baie klein is, aan jou behoeftes voldoen, jou veilig en emosioneel geborge laat voel, gaan jy waarskynlik ’n gesonde selfbeeld ontwikkel,” sê Sandi.
Maar benewens jul verhouding speel jou ouers se siening van vroue ook ’n rol. “Baie sielkundiges glo die geslagte se verskillende maniere van optree is nie biologies nie, maar die gevolg van ouers se verwagtinge van hul seuns enersyds en hul dogters andersyds (meisies moet leer kook, seuns moet bande leer omruil). En jou ouers doen dit waarskynlik sonder om daaroor te dink omdat hulle self ook só grootgemaak is. Meisies word geleer om ander mense te versorg en dis hoekom vroue vandag steeds loopbane kies wat met versorging, verhoudings en kreatiwiteit te doen het, eerder as wetenskap, tegnologie en wiskunde,” sê sy.
Pria Hassan, uitvoerende hoof van Women of Africa ( WOA) in Durban, sê vooroordele maak dit baie moeiliker vir vroue wat wel in dié velde werk. Pria het WOA in 2003 begin. Die maatskappy is bedrywig op die gebied van vervoer, logistiek, brandstof, mynwese en konstruksie.
“Die velde waarin ons werk word deur mans gedomineer. Dis ’n elite klub wat bekwame vroue dikwels uitsluit en hulle minder toegang gee tot finansiering, tegniese opleiding en strategiese samewerkingsooreenkomste. As vrou in dié sektore voel jy dikwels jy staan tou om jouself te bewys. Jy moet baie harder werk as ’n man om dieselfde geleenthede gegun te word. Jy word ook dikwels volgens jou voorkoms eerder as jou vermoëns en ondervinding beoordeel en dis werklik vernederend.”
Hoewel die samelewing vandag steeds van vroue verwag om te luister eerder as om te lei, glo Pria dis iets wat kan verander. En dit moet begin by vroue wat meer in hulself glo, en dié outydse boodskap verkeerd bewys. “Hoe meer vroue in hulself glo en anders begin optree, hoe meer ‘normaal’ sal dit word dat vroue ook in bestuursposte is, en hoe kleiner sal die struikelblokke op jou pad boontoe word.”
SÓ KAN JY DAARAAN WERK
Judith Matthis, ’n lewens- en loopbaanafrigter van Johannesburg, sê dis absoluut moontlik om die selfvertroue-gaping, of ’n swak selfbeeld van enige aard, te oorkom. Maar ware selfvertroue “groei” nie oornag nie. Jy kan dalk voorgee deur “truuks” soos jou postuur en woordkeuse (net ’n paar van die wenke wat jy kry as jy “swak selfbeeld” op Google intik), maar dit sal nie op die lange duur werk nie.
“Jy moet begin deur jou denkpatrone beter te verstaan,” sê Judith. “Dinge soos die verkeerde boodskappe oor vroue wat jy onbewustelik glo, jou eie vrese, jou negatiewe innerlike dialoog. Jy moet ook bewus raak van wanneer dié onware boodskappe dan ‘ bewys’ en só versterk word. As jy byvoorbeeld onbewustelik glo mans is beter leiers as vroue en jouself dan in ’n vergadering bevind wat deur mans gedomineer word, kan dit as ‘ bewys’ dien vir jou onderbewuste. Jy moet dit kan herken om daardie verkeerde boodskappe stop te sit.”
WOA bied juis terapie vir vroue wat in die maatskappy werk om hulle te help om dié gewoontes te verbreek. “Terapie help jou sien wat jou eie verwagtinge en oortuigings is en wat die samelewing s’n is. Dít help jou om jou vermoëns beter te peil en jy begin dan om jouself meer erkenning te gee en minder krities oor jouself te wees. En as jy dít regkry, is 80% van ’n vrou se stryd in die sakewêreld gewin,” sê Pria.
Sandi sê jy kan op ’n praktiese vlak ook jou selfvertroue ’n hupstoot gee deur vir jouself realistiese en haalbare doelwitte te stel. Jy kan klein begin, deur byvoorbeeld in te skryf vir ’n kortkursus, en dan groter doelwitte stel soos jou selfvertroue groei. “Raak gemaklik met mislukking. Nie álles gaan ’n sukses wees nie, maar as jy selfs dán gemotiveer kan bly en geduldig is met jouself, kan dit jou selfbeeld goed doen.
“Doen dinge wat jy geniet, herinner jouself om meer empatie te hê en om ander – jouself inkluis – te respekteer. Dít alles bou gesonde selfvertroue.”
En hou tog op om altyd jammer te sê, sê Pria, want vroue doen dít te maklik. “Eien jou sukses toe, glo dat jy daardie bevordering verdien, en werk hard vir dít wat jy wil hê. Moet nooit om verskoning vra vir die selfvertroue wat jy uitstraal op pad na jou doelwitte nie, al dink ander mense wát daarvan.”
Moet nooit om verskoning vra vir die selfvertroue wat jy uitstraal Pria Hassan, uitvoerende hoof van WOA