‘My grootste avontuur,’ sê Riaan Manser oor sy babaseun
Een van Afrika se bekendste avonturiers. ’n Man wat nie maklik nee sê vir ’n uitdaging wat hom fisiek en emosioneel toets nie. Nou het Riaan Manser ’n splinternuwe avontuur – dalk die grootste van sy lewe. En sy naam is James . . .
Riaan
Manser glimlag van oor tot oor terwyl hy sy stewige bulletjie, James, vashou.
“Die outjie weeg 11 kg,” sê hy trots. James is byna ’n jaar oud en sy ogies is ondeund – ’n mengsel van pa se groen kykers en ma Vasti se blou oë.
Advokaat Vasti het die dag af en met haar avonturier-man en haar seun aan haar sy geniet sy ’n glasie Tokara Merlot in ’n gesellige eetplek op Stellenbosch waar ons saam kuier. James glimlag asof hy als verstaan.
Riaan en Vasti lyk asof hulle in die wieg gelê is vir ouerskap. Vasti ruil behendig doeke om, Riaan gesels met James op die skoot.
Hulle is pas terug van ’n rustige gesinsvakansie op die Seychelle, wat heeltemal verskil van sy “gekke” avonture oor die vorige 18 jaar. Die lys van sy segetogte in die verlede is lank en indrukwekkend. Soos die fietsrit van 37 000 km deur 34 lande toe hy om Afrika gery het. Op hierdie rit van twee jaar, wat byna sy dood beteken het en waarop hy 14 kg verloor het, is hy onder meer deur dronk polisiemanne in ’n tronk in Ekwatoriaal-guinee gegooi en ook gevange geneem deur bedwelmde Liberiese tienerrebelle.
In 2011 het hy en die fisiek gestremde Dan Skinstad, broer van die voormalige Springbokrugbyspeler Bob Skinstad, die 2 300 km om Ysland in ’n tweeman-kajak in vyf maande afgelê. Soms moes hulle vernuftig uitswenk vir moordvisse, soms het albei gewonder wat hulle begeef het om in die ysige waters te roei, maar hulle het deurgedruk.
Hy het selfs sy geliefde Vasti, met wie hy sedert 1999 uitgegaan het, ingesleep by sy avonture. Toe sy sê sy wil die Amerikaanse Vryheidstandbeeld sien, het hulle in 2014 van Agadir in Marokko al die pad na New York geroei. Op pad oor die Atlantiese Oseaan, sonder enige bystand, het hulle golwe so groot soos geboue teëgekom. Riaan vertel hy het opnuut respek vir Vasti gekry toe sy die uitmergelende tog van 172 dae op die oopsee voltooi en hy het besef sy is die een vir hom. Om alles te kroon het die egpaar met hul wittebrood in 2016 ’n Guinness-wêreldrekord vir spoed opgestel toe hulle van Kalifornië tot Hawaii geroei het. Die vorige rekordhouers was nogal ’n span van vier mans!
Eersdaags wag sy nuutste avontuur, The Odyssey, waarin Riaan en ’n spanmaat in Desember die Atlantiese Oseaan aandurf om van die Kanariese Eilande na Barbados te roei. Mense wat graag die tog wou meemaak, kon van reg oor die land inskryf en die topvyf sal uiteindelik op ’n uitmergelende fiksheidskamp sake uitspook om die ander plek in die spesiale roeiboot van sewe meter in te neem.
Maar Riaan hou vol pa-wees is sy grootste avontuur nog. “Ek is honderd persent by James se lewe betrokke en dit is hoe dit gaan bly. Ekself was ’n weeskind en het sowat twee jaar gelede vir die eerste keer daaroor gepraat. Ai, ek het altyd so minderwaardig gevoel. Maar ek weet ek is oukei, dinge het goed uitgewerk.”
< Eers noudat hy sélf pa is, besef hy die waarde van dié titel. “Niemand kan jou daarop voorberei nie. Om jou eie kind te kry – al daardie clichés is waar – dit ís die wonderlikste ding op aarde.”
As pa besef hy hy het ander verantwoordelikhede as vroeër. “Ek neem meer berekende risiko’s met my avonture. Vorentoe sal ek meer georganiseerde togte aanpak. As ek byvoorbeeld ’n berg soos Everest aandurf, sal ek dit met behulp van sjerpas doen. En ek sal nie sommer avonture in oorloggeteisterde gebiede onderneem nie. Ek beweeg nader aan die ‘grot’ en skuil by die ingang daarvan om my gesin te beskerm.”
’n Gesin wat hulle hopelik nog gaan uitbrei. Riaan is 44, Vasti 40, en hulle wil nog kinders hê, selfs later ’n kind aanneem.
Die twee vertel hul vakansie na die eilande Mahé en Praslin, op uitnodiging van die Seychelle-toerismeburo, was die perfekte wegbreek met ’n baba. “Dit is ’n avontuur om met ’n baba te toer, selfs onder die beste omstandighede – jy moet kophou met doeksakke, bottels, speelgoed. Dié keer kon Vasti darem ook lekker ontspan,” sê Riaan.
Vir haar was die lekkerste om nie op ’n weekdag te werk nie, die stilte te geniet, in die son te lê – “letterlik niks te doen nie”. Maar niksdoen is ’n bietjie erg vir Riaan. “So ons moes ’n paar aktiwiteite inwerk,” lag sy.
Riaan se dagboekinskrywings oor die Seychelle lees soos ’n storieboek – heeltemal anders as met sy maltrap-avonture van vroeër. Op DAG 1: “Die oomblik as jy uit die vliegtuig klim, voel dit sommer soos vakansie. Die lug is baie vogtig. Ons was gelukkig om al in die verlede vele eilande te kon beleef. Die Indiese Oseaan-eilande, soos dié, is soveel mooier as dié in die Mediterreense See en Atlantiese Oseaan. Die water is warm en ’n mens is met turkoois omring so ver as wat jy kyk.”
Hy vertel reeds op dag een het klein James saam met hom in die see geswem. En hy was mal daaroor. “Dit is nie iets wat hy sommer in die koue water van Bettysbaai [waar hulle woon], naby Hermanus, kan doen nie.”
Vir hulle was die heerlikste om deur James se oë die wêreld opnuut te ontdek. Al wil hulle hom nie blootstel aan risiko’s nie, wil hulle “hom nie pieperig grootmaak nie en hom blootstel aan die buitelug”. Soos Vasti sê: “Waar ons gaan, sal James gaan, maar ons sal nie onverantwoordelike besluite met sy lewe neem nie. Ek dink nie ek sal James sommer op ’n roeitog laat gaan nie. Maar ons is baie bevoorreg dat ons hom sy eerste gesinsreis na die Seychelle kon laat beleef.”
Op DAG 2 lees Riaan se inskrywing: “Vandag was ons op nog ’n strand waar dit gevoel het of ons in die paradys is. Daar was geen mense nie. Die sand is spierwit. Dit voel soos eilandvakansies wat jy in die flieks sien.”
Dis vir hulle belangrik om James van jongs af aan soveel moontlik kulture bloot te stel en hulle het moeite gedoen om op die eiland rond te loop, markte te besoek en met van die inwoners te praat. “Hulle is so ordentlik en vriendelik. Dring hulle nooit aan jou op nie.” Die luukse Constance Epheliaoord op Mahé waar hulle gebly het, het op die pragtigste woude én op die see uitgekyk. “Ons moes deur ’n Tarzan-bos ry om daar uit te kom.”
Riaan, wat sy inspirasie uit die natuur kry en dikwels “in kinderlike verstomming voor die Skepping staan”, vertel daar is twee UNESCO Wêrelderfenisgebiede op die Seychelle: die Aldabra-ringeiland en die Vallée de Mai-natuurreservaat op Praslin. By laasgenoemde kan jy jou verkyk aan talle plantsoorte, soos die kokosneute van die see, oftewel coco de mer ( Lodoicea maldivica). “Die palms waaraan die kokosneute van die see hang, is reusagtig. Ons het soos dwergies gevoel toe ons daar rondgedwaal het.”
Hulle is ook bekoor deur geilpers bougainvilleas, kwetterende voëltjies en die skaars (en bedreigde) reuseAldabra-skilpaaie wat daar woon. “Dis die soort dinge wat
James moet sien. Kinders wat reis is baie meer volwasse as dié met boekkennis. Ons hoop James sal nog baie aan sulke ongewone dinge blootgestel word om sy horisonne te verruim.”
Baie mense laat toe dat vrees hulle terughou daarvan om nuwe dinge te ontdek, glo Riaan. “Mense wil nie waag nie, want hulle het nie geld nie, of hulle is bang.” Toe hy begin het as avonturier, het hy geen geld gehad nie, maar besluit hy gaan vasbyt. “Dis my persoonlikheid. Toe ek rugbykaptein op skool was, sou ons in die laaste tien minute 20-0 agter wees, maar ek sou die manne motiveer en sê: ‘Jy weet nooit wat nog kan gebeur nie. Daar is altyd ’n kans . . .’”
Dit is hierdie eienskappe van Riaan wat Vasti so beïndruk en wat hulle graag vir James wil leer. “Ons wil hê hy moet nooit opgee nie. Dit moet nie ’n opsie wees nie.”
Geloof hou hulle sterk. “Dit is ons groot anker. Ons huwelik is sterk en ons het moed vir alles, want God is daar vir ons,” sê sy. Riaan knik instemmend. Elke oggend wanneer klein James wakker word, kyk hulle na hom, en sê dankie. “Hy slaap steeds by ons, ons kan nie genoeg van hom kry nie, maar hy slaap gelukkig deur vandat hy twee maande oud is.”
In ’n onderhoud met Riaan raak hy nooit uitgepraat oor “die wonder van lewe” nie. Riaan besef veral terdeë hoe kosbaar James is nadat hy vyftien uur aan Vasti se sy was met die bevalling, toe sy natuurlik gekraam het. “Mense sê altyd hul troudag is die beste dag op aarde. Dis maar net die begin. As jy daardie kleintjie vashou – oee man, jy kan dit nie beskryf nie,” sê hy aangedaan. “Geen avontuur nie – niks, maar niks – kom daarby nie.”
Mense dink maklik sy lewe is vol glans met al die reise, adrenalien, televisie-onderhoude en dokumentêre programme, maar hy help hulle gou reg, sê hy. “Sewentien jaar lank moes ek myself bewys – vroeg opstaan om fiks te word. Ek was dikwels oor Kersfees of op my verjaardag alleen, besig met ’n avontuur. Ek moes borge kry, reise organiseer, myself aan die wêreld (en myself!) bewys. Ek moes vasbyt. Dinge het nooit maklik gekom nie. Nou kan ek ’n bietjie meer ontspan en daar wees vir Vasti en James. Dit is soms moeilik om geld te vind, maar ek gee nooit moed op nie.”
Op hul laaste dag op die Seychelle lees sy dagboek: “Dit was die mooiste sonsondergang. Vasti, James en ek was op die strand ná nog ’n sonskyndag en ons was dankbaar oor die mooiste goue en oranje-rooi strale toe die son gesak het. Ons was rustig en uitgerus.”
Hulle het geweet dat hulle eendag vir James – en wie weet, ook ander kleingoed – sal kan vertel van die wondere van dinge soos die eerste saamswem in die warm see, van saam sit en kyk na ’n wonderskone sonsopkoms, van geurige klapper- en viskerrie met saffraanrys, van die aroma van speserye soos kaneel en vanielje, van die wonder van plante in daardie tropiese streek. En van die wonder van saam wees as ’n gesin.