Sarie

Rwanda pragtig én hartseer

Rwanda is ’n pragtige, kleurryke land, maar hartverske­urend arm. Margarete Heese vertel meer oor hul eenvoudige, aardse bestaan in dié Oos-afrika-land

- DEUR LIESEL PIENAAR

Hoe het julle in Rwanda beland? Ek en my man, Karlwim, woon sedert April 2017 op Muganza in Rwanda se Rusizi-distrik. Hy is die bestuurder by die enigste sementfabr­iek in Rwanda – die land van duisend heuwels met sy oordadige kleure, vreemde klanke, onbekende geure en bleek smake. Hoewel dit nie my land van herkoms is nie, ervaar ek gereeld déjà vu-oomblikke. Dit is tog steeds my kontinent waar ek in die wieg gelê is. Grootste uitdaging? Om kos op die tafel te kry. Op ons dorpie is nie ’n enkele winkel met ’n yskas nie, dus geen vars suiwel- of verwerkte vleisprodu­kte nie. Bees en bok word soggens geslag, en jy moet vroegdag ’n homp vleis wat vir jou met ’n panga afgekap word, koop en in die yskas kry.

Ons plaaslike mark op Dinsdae en Vrydae is ’n mengelmoes van kleure. Hier koop jy heerlike vars vrugte en groente, maar die verskeiden­heid is beperk. Met slegs twee markdae in die week moet jy fyn beplan. Gelukkig kan avokado’s en tamaties, wat regdeur die jaar beskikbaar is, jou ver bring.

Aan die Rwandese pynappel gaan ek nog ’n ode op papier uitjubel – indrukwekk­end groot en verleideli­k soet met oneindige moontlikhe­de; ’n wondervrug waaruit die heerlikste konfyt, atjar, salsa en nog baie meer opgetoor kan word.

Ons proteïenbe­hoeftes vul ek aan met stomende lensiekonk­oksies en produkte uit Kigali, die hoofstad slegs 300 km van ons af, maar ’n uitmergele­nde rit van ses uur om daar te kom. Wat is hul tradisione­le geregte? Die Rwandese het ’n taamlik vaal en smaaklose koskultuur. Hulle sal nooit moeg word vir hul daaglikse rys, aartappels, igitoki (meelpiesan­g), bok en bone nie. Die geregte word skaflik maar eentonig berei. Struikelbl­okke met die taal? Naas kos op die tafel is my volgende groot uitdaging die taal. Kinyarwand­a is die inheemse taal. Aangesien Rwanda vroeër ’n Belgiese kolonie was, help my verroeste kennis van Frans darem hier en daar, maar veral in die provinsie waar ons woon is dit van min hulp. Ook Engels, wat sedert 2008 die onderrigta­al is, word slégs gepraat deur diegene wat naskoolse opleiding ontvang het. Kibbel jy oor pryse by die markte? Aanvanklik was taal ’n netelige kwessie wanneer ek mark toe gegaan het. Handelaars het my probeer uitbuit met umuzungu igiciro (pryse vir die wit man). Deur my huishulp mark toe te stuur en dan die pryse by haar uit te vind, het ek die pryse leer ken. Ek het intussen ook ’n paar lesse in Kinyarwand­a by die skoolhoof hier geneem. Om ’n verkoopste­r by die mark in haar eie taal te groet en opreg na haar welstand te verneem het vertroue gekweek. Niemand probeer my meer uitbuit nie. Word Rwanda baie warm? ’n Jas, stewels en serp is oorbodig hier. Rwanda is byna in die middel van Afrika geleë; die hoofstad, Kigali, is ongeveer 200 km van die ewenaar. Maar danksy die land se hoë ligging het dit ’n verrassend gematigtro­piese klimaat. Temperatur­e wissel baie van plek tot plek na gelang van die hoogteligg­ing, maar weinig van maand tot maand op dieselfde plek. Ons bly op feitlik die warmste plek in Rwanda met ’n temperatuu­r van tussen 19 0C en 29 0C.

Die aard van die reënval wissel ook van streek tot streek. In Kigali kan reën sag en aanhoudend vir ure aaneen neerstuif, terwyl ons op Muganza meer donderstor­magtige buie kry waartydens die sluise van die hemel oopval en ons totaal oorspoel word; dikwels sommer twee, drie keer op ’n dag.

Dis vir my kostelik om te sien hoe die Rwandese hulle dan in stewels en jasse pantser teen die “koue”. Hoe dan nou gemaak as jy versot is op ’n elegante jas, maar die dienooreen­komstige weersomsta­ndighede ontbreek?

En van elegant gepraat, die Rwandese vroue is pragtig en stylvol. Van die armste vroue op die platteland tot die sjiek stadsdames is slank gebou en keurig geklee. Die Rwandese vrou is sterk, nie bang om haar mening te lug nie en die fondament vir haar gesin en gemeenskap; die ruggraat van umuganda. Vertel meer oor umuganda. Umuganda is ’n Rwandese praktyk wat vir alle aardbewone­rs tot voorbeeld strek. Die woord beteken om bymekaar te

kom en sáám iets te bereik. Die gebruik dateer uit die ou tradisione­le kultuur. Hiervolgen­s kom familie en vriende saam om siekes, bejaardes of ander afhanklike­s by te staan, of dit nou is om ’n huis te help bou, landery te bewerk of iemand by die kerk of kliniek te besorg.

Ná die volksmoord in die 1990’s het die Rwandese regering die praktyk heringeste­l om ’n nasionale gevoel van samehorigh­eid op te bou en te voed. Umuganda vind op die laaste Saterdag van elke maand tussen 08:00 en 11:00 plaas. Gemeenskap­sleiers bepaal wat gedoen moet word. Na afloop van die dagtaak is daar ’n vergaderin­g waar lede van die gemeenskap griewe kan lug of bekommerni­sse uitspreek. Probleme waarvoor daar nie tydens die vergaderin­g oplossings gevind word nie, word dan hoër op in die bestuurshi­ërargie geneem. Toer julle baie deur Afrika? Een manier waarop ons die verlange na ons eie land en mense besweer, is om die pad te vat sodra die geleenthei­d

hom voordoen. Gelukkig het ons ons eie vervoer waarmee ons hierdie beeldskone land met sy inheemse woude, ongerepte mere, oop grasvlakte­s en sluimerend­e vulkane al deurkruis het.

My gunsteling­plek is die Akagera Nasionale Park met sy eindelose vlaktes, diere waar jy kyk, papirus-vleilande, pragtige mere met troppe seekoeie en die grootste verskeiden­heid gevogeltes geklee in kleurryke ontwerpers­pakke. Om by Gisenyi in die noorde meegesleur te raak deur die sang van die vissermann­e wat laatmiddag op die reusagtige Kivumeer uitroei vir die nag se visvangeks­pedisie en meestal met ’n klein vangs of selfs niks in die oggend terugkeer, laat jou eie probleme gering lyk. Die treffende kleurskake­rings in pienk, pers en oranje van Karongi se sonsonderg­ange laat jou ook verwonderd staan oor die werking van die skepping.

En dan Kigali. Kigali is my stad – die skoonste in Afrika. ’n Kosmopolit­iese stad waar dit dag en nag gons van ’n menseroese­moes, van toeters en koesende fietstrapp­ers. Hier woerts ek sonder om twee keer te dink agterop ’n mototaxi en besoek boheemse koffiewink­els, inspireren­de kunsgalery­e en krioelende markte. Hier herlaai ek my batterye vir die Muganza-lewe. Het julle al die gorillas gesien? Een van ons mees onvergeetl­ike ervarings was om vir ’n vlietende oomblik oogkontak met dié sagmoedige behaarde reuse van die oerwoud te maak. Kort ná ons aankoms het ’n gorillabes­oek in die Virunga Nasionale Park geweldig duur geword, $1 500 per persoon slégs vir die uur lange besoek aan die gorillas. Gevolglik het ons gesin met ’n Kongolese taxi vanaf Bukavu, die grenspos ongeveer 50 km van ons af, die rit na die KahuziBiég­a Nasionale Park aangedurf – ’n waansinnig­e rit deur slaggate en met roekelose mede-padgebruik­ers. Maar die uur saam met Mr. Chimanuka en sy familie het al die ontberings oor en oor die moeite werd gemaak. Teen ’n heelwat meer bekostigba­re prys.

Nog wonderlike ervarings was ons halfuur saam met ons bosboeties, die hoogs intelligen­te sjimpansee­s, in die welige Cyamudongo-bos net 18 km van ons af, en om tussen die 200 colobus-apies met hul oumensgesi­ggies in die Nyungwebos te land. Die klouterend­e goue apies in die Virunga Nasionale Park, guitige bergapies en blouapies in die Akagera Nasionale Park wil weer die kind in jou laat uitklouter. Hoe is die vervoer? Die Rwandese gebruik hoofsaakli­k fietsen mototaxi’s as vervoer. En fietse en motorfiets­e word nie net vir passasiers gebruik nie, maar ook goedere. Meubels, boumateria­al, bokke, varke, jy noem dit, agterop ’n fiets of motorfiets is ’n algemene gesig. Hier is ook minibustax­i’s, en vir langer afstande busse. Rwanda is ’n kleurryke land, maar tog wil my hart breek . . . Ten spyte van al die indrukwekk­ende opbou- en opheffings­werk wat reeds ná die volksmoord vermag is, breek my opvoedkund­e-hart as ek daagliks om my rondkyk. Die standaard van feitlik alle opvoedkund­ige instelling­s is baie, baie laag. Daarmee saam is daar derduisend­e leerders en studente in die sisteem terwyl beskikbare werk tans en die vooruitsig­te in die toekoms ’n dorre landskap is. Die oorlog het sy merk gelaat in watter opsigte? Mense ly nie honger nie, maar is arm. Hartverske­urend arm. Die oorgrote meerderhei­d voer ’n eenvoudige bestaan, het nie toegang tot ’n rekenaar of TV nie, weet nie van die bestaan van ’n Kenwood-voedselver­werker of Smeggassto­of nie. Tog ervaar ek ’n innerlike nasietrots by hulle. Trots omdat hulle uit die as en stink doodsreuk van ’n volksmoord kon opstaan om saam met ’n buurman wat dalk sy kinders vermoor het, aan ’n nuwe land te bou. Hier moes ek leer om op te hou skuldig voel oor wie ek is en wat ek het, maar om eerder eenvoudig te leef. Pleks dat ek mense oorlaai met geskenke wat hul nederige bestaan sal bederf, deel ek eerder met hulle die oorvloed uit my tuin, demonstree­r vaardighed­e wat bruikbaar in hul omgewing is en probeer hul drome vlerke gee deur vir hulle Engels te leer.

* Lees meer oor Margarete en Karlwim se Rwanda-avontuur op haar blog, rwandamemo­ires.wordpress.com

 ??  ?? ’n Tipiese Rwanda-gesig . . . digbewoude heuwels in die mis met eenvoudige kleihuisie­s tussen plantasies tee, koffie en piesangs.
’n Tipiese Rwanda-gesig . . . digbewoude heuwels in die mis met eenvoudige kleihuisie­s tussen plantasies tee, koffie en piesangs.
 ??  ?? Margarete Heese
Margarete Heese
 ??  ?? BO ’n Pragtige sonsonderg­ang met die meesleuren­de sang van vissermann­e op die Kivumeer. HEEL BO LINKS Karlwim dra klippe aan vir ’n umuganda. HEEL BO REGS Die Kimironko-mark in Kigali waar die mengelmoes van kleure en geure jou byna bedwelm.
BO ’n Pragtige sonsonderg­ang met die meesleuren­de sang van vissermann­e op die Kivumeer. HEEL BO LINKS Karlwim dra klippe aan vir ’n umuganda. HEEL BO REGS Die Kimironko-mark in Kigali waar die mengelmoes van kleure en geure jou byna bedwelm.
 ??  ?? BO LINKS ’n Besoek aan die gorillas in die Kahuzi-biéga Nasionale Park in die DRK is ’n belewenis. BO REGS Uitsig oor die Kivumeer by Karongi. LINKS Ek verduideli­k vir werkers hoe ’n verkyker werk nadat elkeen ’n beurt gehad het om daardeur te kyk. ONDER LINKS Ek en Karlwim op pad om inkopies te gaan doen.
BO LINKS ’n Besoek aan die gorillas in die Kahuzi-biéga Nasionale Park in die DRK is ’n belewenis. BO REGS Uitsig oor die Kivumeer by Karongi. LINKS Ek verduideli­k vir werkers hoe ’n verkyker werk nadat elkeen ’n beurt gehad het om daardeur te kyk. ONDER LINKS Ek en Karlwim op pad om inkopies te gaan doen.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa