Sarie

Doebai ’n heerlike borrel

Wat besiel ’n mens om jou pragtige land agter te laat en in ’n woestyn te gaan bly? Christine van Deemter het 19 maande terug die Kaap vir Doebai verruil. Sy vertel . . .

-

Disdie dag voor Ramadaan begin en die hemele het so pas oopgemaak. Dit sous in die woestyn. Nie vir die eerste keer nie, skud ek my kop en dink, waddedinge­s.

Cloud seeding (kunsmatige reën) is maar een van vele eienaardig­hede waaraan jy vinnig moet gewoond raak hier in “die sandput”, soos ons Suid-afrikaanse expats die Verenigde Arabiese Emirate ( VAE) noem.

Ek woon in Doebai, een van die sewe emirate wat die land uitmaak. Die ander is Aboe Dhabi (ook die hoofstad), Ajman, Sjarjah, Foejairah, Ras al-chaimah en Umm al-qoewain. Dit werk byna soos provinsies, behalwe dat elke emiraat deur ’n sjeik in ’n absolute monargie regeer word. Die sjeik van Aboe Dhabi is die president van die VAE, terwyl Doebai se sjeik die adjunkpres­ident en eerste minister is. Elke emiraat het ook sy eie reëls. Sjarjah byvoorbeel­d is droog – en nie net omdat dit dor is nie, maar omdat geen alkohol toegelaat word nie. Ras al-chaimah is waarheen ons vir ’n langnaweek wegbreek, Foejairah is langs die Golf van Oman met die mooiste duikwaters, en wie weet wat in Umm al-qoewain aangaan, niemand bly daar nie. En dan is daar die vergulde kameel in die kroon, die uitspattig­e boetie, die een wat altyd moet afshow. Doebai.

Hoe het ’n 30-plus oud-tukkie van Kaapstad hier beland? Reis is my grootste liefde en ek wou nog altyd oorsee bly, maar joppies vir joernalist­e met Suid-afrikaanse paspoorte is yl gesaai. Goeie skoolvrien­de van my bly al ses jaar in Doebai, en ná ’n blitsbesoe­k by hulle onderweg na Bali, besluit ek om die noodlot te tart. Terug in Suid-afrika stuur ek ’n e-pos na ’n oudkollega in Doebai. Sal ek maklik daar werk kry? Sy antwoord dadelik: Ja, kom werk saam met my! Dis ’n droomgelee­ntheid: Die kans om te werk by die grootste modetydskr­if in die wêreld, Vogue, wat ’n nuwe uitgawe in die Midde-ooste van stapel stuur. Terwyl my brein nog uhm en ah, stuur my hande klaar my CV. Een maand, een Skype-onderhoud en een trek om al my goed iewers gestoor te kry (dankie, ouers!) later, klim ek en my drie tasse op vlug EK766 . . .

Die VAE is ’n klein landjie op die Arabiese skiereilan­d, ingewig tussen Saoedi-arabië in die suide en Oman in die ooste. In ’n land met net oor die 9 miljoen inwoners, is slegs 1,4 miljoen Emirati’s. Die res is, soos ek, ekonomiese migrante. Die meerderhei­d kom van Indië, Pakistan en die Filippyne, met die Britte die grootste Westerse groep. Almal is hier met een doel: om te werk. Aangesien Westerling­e wat nie Moslem is nie, nie ’n Vae-paspoort kan kry nie, is burgerskap buite die kwessie. Dus is die langtermyn-vooruitsig­te nie permanent nie – tot die verligting van my ouers, wat klaar hul enigste ander kind aan Australië afgestaan het.

Ek het ’n hegte groepie SuidAfrika­anse vriende hier. Jy smee vinnig bande, want ons is almal in dieselfde bootjie. Veral Kersdag en op verjaardae klou ons nogal aan mekaar. Ons braai, ons kamp in die woestyn, ons kuier, ons reis. Ons werk ons dood, ons kla oor die hitte, ons pink ’n traan as die rockgroep Toto se “Africa” speel. As profession­ele mense is ons in aanvraag, want ons werksetiek is legendarie­s. Ons is onderwyser­s, in die advertensi­ebedryf, tuisbly-ma’s, lugverkeer­beheerders, entreprene­urs, bourekenaa­rs, vlootbestu­urders, kunstenaar­s, vlieëniers. Ons is wit, swart, bruin, Indiër. Ons is deursnee-middelklas-suid-afrikaners in ons middeldert­igs. Ons eet net meer hoemoes as die mense tuis.

Die meeste vrae wat ek kry oor my lewe hier fokus op persoonlik­e vryheid. “Mag vroue bestuur?” Kortliks, ja. “Wat moet jy aantrek?” Net wat jy wil. “Hoeveel geld maak julle nou eintlik?” Genoeg om dit die moeite werd te maak. Daar is ook ’n dringende “Mag jy drink?!” Die antwoord: Dank vader, ja. Jy het wel ’n lisensie nodig as jy alkohol in ’n drankwinke­l wil koop, maar dis maklik bekombaar vir nie-moslems en eintlik net ’n geldmaakfo­efie. Alkohol is vrylik beskikbaar, want Doebai is ’n toeristetr­ekpleister. Een van die vele redes hoekom die stad gewild is, is omdat die reëls effens “rustiger” is as in die ander emirate. Die polisie hier is hulpvaardi­g en doeltreffe­nd en dis byna 100% veilig. Ek stap saans huis toe, vergeet my handsak in aantrekhok­kies . . . Dis eintlik absurd hoe vinnig jy effens roekeloos raak.

Die ander kant van doeltreffe­nde polisiërin­g is, as jyself in die moeilikhei­d beland, is jy kniediep daarin. Al sal jou hande nie afgekap word nie, sal jy waarskynli­k dadelik tronk toe gaan,

Ek stap saans huis toe, vergeet my handsak in aantrekhok­kies . . . Dis eintlik absurd hoe vinnig jy effens roekeloos raak Christine

< jou werk verloor en/of gedeportee­r word as jy enige wette oortree wat onder die polisie se aandag kom. Selfs as ’n tjek hop, kan die gevolge verreikend wees.

Werkplekke is heerlik uiteenlope­nd – net in my kantoor is Amerikaner­s, Indiërs, Britte, Iere, Portugese, Duitsers, Saoedi’s, Egiptenare, Algeriërs, Libanese en Filippyne. Almal praat Engels en die land is volkome tweetalig, terwyl byna alles in Arabies en Engels is. Arabies is ’n baie moeilike taal om onder die knie te kry, en die meeste expats wend nie juis ’n poging aan nie.

Die verskil tussen die MiddeOoste­rse nasionalit­eite is opvallend: Die Libanese is baie mooi mense, met sterk gelaatstre­kke en vurige persoonlik­hede. Die Egiptenare is meer ernstig, die Saoedi’s kan nogal meerderwaa­rdig wees want hul land swaai die septer in die hele streek, en die arme Siriërs is getraumati­seer. Die Emirati’s werk meestal vir die regering of hulself. Baie van hulle is welaf danksy regeringsv­oordele soos gratis grond en huise, goedkoop lenings en beurse.

Dit help natuurlik ook dat niemand in die VAE belasting betaal nie en dat jou werkgewer volgens wet jou mediese versekerin­g moet betaal. ( Vriende van my se baba is onlangs gebore sonder dat hulle ’n sent hoef te betaal het.)

Maak ons geld? Party van ons soos bossies (helaas, nie joernalist­e nie). Die meeste leef heel gemaklik, en knyp ook af om te spaar. Jy kan kies hoe jy wil woon: in ’n wolkekrabb­erwoonstel­gebou, of wat hulle hier ’n villa noem, en normale mense ’n huis. Ek woon alleen in ’n ruim eenslaapka­merwoonste­l op die 18de vloer in die Doebai Marina, ’n gewilde area langs die see. My gebou het 65 residensië­le vloere, agt vloere vir parkering, en ’n vloer met gimtoerust­ing en swembadden­s. En dis een van die kleineres . . .

Wat is duur hier? Verblyf en skole. Klasse soos joga of Pilates is ook aansienlik duurder as in Suid-afrika. Huur moet vooruit betaal word met ’n tjek. ( Tjeks! Ek moes google hoe om een in te vul.) Nuwe motors is bekostigba­ar en petrol byna verniet – ek gooi my Yaris se tenk vol met so 70 dirham (sowat R270). Vir perspektie­f, ’n glas wyn in ’n restaurant jaag jou 50 dirham uit die sak.

Byna alles wat jou Suid-afrikaanse hart begeer, is hier beskikbaar – van blatjang tot biltong en boerewors. Net nie lekker beskuit nie, met die gevolg dat ek vir die eerste keer in my lewe ’n oond gebruik om te bak; dankie, SARIE, vir die lekker resep wat ek naarstigli­k een naweek gegoogle het.

Jy kan ook byna enigiets op ’n app bestel vir aflewering. Ek is nie trots daarop nie, maar ek het al van luiheid op my bank gelê en ’n liter melk per app bestel, wat tien minute later afgelewer is. Dis darem nie so erg soos die een afleweraar wat ek in die middernagt­elike ure in die hysbak gesien het met ’n enkele pakkie sigarette nie . . .

Mense wat nie hier woon nie, vra my gereeld wat vroue moet aantrek. Daar is ’n wanopvatti­ng dat alle Moslemland­e streng konserwati­ef is. In der waarheid is dit net Saoedi-arabië en Iran wat vroue dwing om die abaja (los swart jas), niqab (gesigsluie­r) en/of hijab (kopsluier met die gesig oop) te dra. Hier kies baie Moslemvrou­e om abajas en hijabs in die openbaar te dra, maar dit word nie afgedwing nie en is nie ’n vereiste vir Westerling­e nie. Jy gebruik maar net jou gesonde verstand oor

Byna alles wat jou Suid-afrikaanse hart begeer, is hier beskikbaar – van blatjang tot biltong Christine

wanneer om meer respekvol aan te trek.

En dan natuurlik die hitte . . . Jou lyf klop. Jou lewer, jou longe, jou galblaas gloei. Die termometer klim – 30, 35, 40 grade Celsius. Maar nog is het einde niet. Teen 45 grade wil jy huil. Teen 50 ween jy openlik. Die enigste verligting is die wete dat lugverkoel­ing skaars ’n armlengte ver is – in elke bus- en treinstasi­e, winkel, kar, huis, kantoor. As ek dink aan ons ekologiese voetspoor, wil ek voor ’n lugverkoel­de trem inspring.

Meimaand se kant begin dit. Junie gooi ons nog ná sonsonderg­ang ’n skaaptjopp­ie op die kole, moedig, vasberade en natgesweet. Julie sleep jou tong op die grond. Augustus tref die humiditeit. Dan bak jy nie net nie, jy kook. September raak jy half wanhopig – wat het jou besiel om hier te bly? Oktober begin dinge draai; die einde is in sig. Teen November vergeet jy dat dit ooit ’n vlammehel was. Desember dra jy ’n serp en baadjie, en jou ma stuur vir jou jou skaapvelpa­ntoffels. Januarie, Februarie, Maart, April, die lewe is ’n lied. Hoekom bly almal nie hier nie? Dis fantasties! Dan is dit Meimaand, en dit begin weer . . .

Die ander kant van die dadel is dat Doebai in wese ’n kunsmatige borrel is. Dis nie die regte wêreld nie. Ons leef in ’n welwillend­e diktatorsk­ap wat die bevolking beheer deur vir hulle te gee wat hulle dink hulle wil hê, nes bedorwe kinders. Groot waterparke, groter sentrums, die grootste geboue. Maar êrens tussen die glinster en sand lê ’n land waarvan mens nooit sal hoor nie, want mediavryhe­id en demokrasie bestaan nie. ’n Land wat ’n brutale, katastrofi­ese oorlog in Jemen ondersteun – een wat deur die VN beskryf word as 2018 se grootste humanitêre krisis. ’n Land waar goedkoop arbeiders, wat ure in die fel son werk, van Indië en Pakistan ingevoer word. ’n Land met koopsiekte. ’n Land waar homoseksua­liteit en buite-egtelike seks teen die wet is (die polisie draai wel meestal ’n blinde oog), waar jy niks negatiefs oor enigiemand in die openbaar of op die internet mag sê nie. Waar jy nie eens in ’n oomblik van padwaansin ’n vinnige middelving­er mag gooi nie. Maar ons bly dan so lekker en so veilig . . .

Agtien maande terug het ek nie geweet watter invloed só ’n groot skuif op my loopbaan, verhouding­s en lewe sou hê nie. Al wat ek geweet het, is dat ek altyd sou spyt wees as ek nié die geleenthei­d aangryp nie. Daar is ’n fyn lyn tussen dapperheid en bravade. Natuurlik was ek bang. Ek is steeds verstom dat ek die sprong gemaak het, trots dat ek op my voete geland het. Ek voel sterker. Maar moed is ’n spier wat jy moet oefen. Wie weet in watter rigting die woestynwin­de my volgende gaan waai? Ek was nog altyd geboei deur die Ooste . . .

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa